Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vra vir Ernst: Wat is die boom se naam?

Peet Van Tonder skryf:

Peet van Tonder se
Peet van Tonder se "Johannesburg Gold" boom

Ernst, die boom op die foto groei in my erf en ek bly in ’n kompleks. Dit staan 45 cm van die grensmuur en 4,2 m van die huis af. Die boom is ongeveer 20 jaar oud. Kan jy my sê welke tipe boom dit is en of sy wortels skade aan die strukture veroorsaak? 

Antwoord:  Peet, dis ’n kultivar van die boom Melaleuca bracteata “Johannesburg Gold’’ vanuit noordelike Australië. In Australië staan dit as die ‘’black tea-tree’’ bekend. Dit behoort tot die mirte-familie (Myrtaceae), wat seker een van die grootste plantfamilies in daardie land is (dink maar aan bloekombome). 

Dit is ’n regopgroeiende struik – dit groei tot 10 meter hoog. Die mooi geel blaarkleur het spontaan in Johannesburg as mutasie ontstaan en is toe vanaf steggies vermeerder en vandag staan die unieke geelblaar plaaslik as “Johannesburg Gold” bekend. Dit sal nie nog groter word as wat hy tans is nie. As hy nou nog nie skade aangerig het nie, behoort hy ook nie in die toekoms skade aan te rig nie. Dis nie bekend dat sy wortels skade aanrig nie.

Hannes Beyers skryf: Ernst, ek het agt jaar gelede, in Junie 2013, ten duurste twee persimmon-boompies by ’n plaaslike kwekery gekoop. Die eienaar het dit in ’n boek nageslaan en gesê twee is nodig vir kruisbestuiwing. Ná agt jaar is hulle nog slegs 1,5 m hoog.

Elke lente verskyn mooi, groot, gesonde blare, maar teen die middel van die somer is dit asof die boompies stagneer, met min verdere groei. Daar was een jaar ’n klein knoppie aan die een wat soos ’n vruggie gelyk het, maar dit het toe afgeval. Die boompies kry genoeg son, water, kompos en bemesting en staan op ’n beskutte plek. Dit is ’n groot teleurstelling, want ek kon iets voordeliger op daardie plek geplant het. Aard persimmons nie op die Hoëveld nie? 

Antwoord: Hannes, ek het mooi na jou foto’s gekyk. Jou boompies lyk vir my gesond. Ek dink jy is ’n bietjie te haastig. Bome neem maar soms lank om wasdom te bereik en dan vrugte te dra. Ons bome by Babylonstoren is nie veel groter as jou bome nie, maar baie ouer en dra goed. Wat ek wel voorstel, is dat jy 3:1:5-korrelbemesting toedien (strooi dit egalig onder sy kroondak en moenie die korrels tot teen die stam ophoop nie) en ’n kombers van kompos om sy stam. Die korrelbemestig kan jy in Augustus, dan weer Januarie en dan weer April toedien. 

Vir lesers wat nie die lekker vrug ken nie, die plant se botaniese naam is Diospyros kaki en in Afrikaans staan dit ook bekend as “kakivrug”, maar meer algemeen as tamatiepruim. Dit is verwant aan ons jakkalsbessie (Diospyros mespiliformis) en bloubos (Diospyros lycioides) asook die lekkerny-vruggie in Namakwaland, die Namakwakritikom (Diospyros ramulosa). Die persimmon is vanuit die Ooste afkomstig en daar is heelwat kultivars.

By sommige moet die vrug eers aan die boom sag word, anders proe dit baie frank, maar die nuwer kultivars kan geëet word as die vrug nog styf is en sonder die frank smaak. ’n Ander aantreklike eienskap van die kakivrug is sy blare, wat die mooiste oranjerooi verkleur voordat hulle afval. Dit is dus ’n bladwisselende boom. Die vrugte word al hoe gewilder in ons land.

Meer oor:  Vra Vir Ernst
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.