Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vra vir Ernst: Wat is die regte naam vir wildegrondboontjie?

Ria Venter skryf: Ernst, ek wil graag weet of die plant op my foto’s ’n onkruid, tipe vetplant of vygie is. Dit neem die hele area in die tuin oor. 

Antwoord: Ria, jou plant heet die wilde porselein (Portulaca quadrifida), ’n inheemse plant van Limpopo. Dit staan ook bekend as kanniedood. Dit lyk baie na die onkruidporselein (Portulaca oleracea), maar met die pers blommetjies. Dit is ’n eenjarige soort wat in die lente of somer ontkiem en dan begin blom.

Die geslag Portulaca is groot, met 115 soorte, maar die grootste konsentrasie kom van Suid- en Noord-Amerika. Portulaca grandiflora is ’n gewilde somerblommende eenjarige van Suid-Amerika. 

Carel Breytenbach van Pretoria skryf: Ernst, aangeheg is twee foto’s van ’n ranker wat ek in 1981 in die Laeveld leer ken het. Sedert daardie eerste kennismaking het daar altyd ’n plantjie saam met my getrek. In die Laeveld is dit aangewend as ’n grondstabiliseerder, waar leislote in landerye gebou is en grondwalle gegooi is.

Vra vir Ernst
Carel Breytenbach se wildegrondboontjie (Persicaria capitata).

Ek het dit leer ken as wildegrondboontjie, sy algemene boerenaam, wat dit allermins is. Dis uiters gehard, groei in die son, halfskadu en volskadu en kan met min water klaarkom. Die tweede pluspunt is dat dit baie maklik beheer kan word en voortplant met ongewortelde steggies. Bye is boonop gek oor die blommetjies. Kan jy help met die botaniese naam en dalk ’n meer gepaste volksnaam? Dit groei vanaf die Laeveld tot Kleinfontein, bo-op die Magaliesberg. 

Antwoord: Carel, jou wildegrondboontjie behoort tot die Polygonaceae-familie en sy wetenskaplike naam is Persicaria capitata. Dis afkomstig uit die Ooste (China en  omliggende lande).In Engels staan hy bekend as die knotweed of Japanese knotweed. Die plant is ’n doeltreffende grondbedekker en soos jy noem, aard dit baie goed in tuine.

Daarenteen aard hy so goed hier dat hy by ons, in Australië en in sommige dele van Amerika onkruid geword het. Ander onkruide in die familie is die koraalklimop (Antigonon leptopus) en steenboksuring (Rumex acetosella), wat die meeste van ons goed ken.

Die eetbare rabarber (Rheum-kruising) is ook ’n handige plant en die eienaardige lintjiesbos of lintwurmbos (Muehlenbeckia platycladum) met sy plat singels behoort ook tot die familie. Die handigste plant in die familie heet sobagraan (Fagopyrum esculentum), buck­wheat in Engels, wat oorspronklik van Asië is. Dit word vandag oor die wêreld heen verbou vir sy eetbare, graanagtige saad.

Meer oor:  Vra Vir Ernst
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.