Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vra vir Ernst: Watter lelie is dit?

Jaco van Dan Pienaar in Bloemfontein skryf:

Ernst, danksy die inperking kon ons self meer tyd in die tuin deurbring. Naby waar ons besig was om ’n groentetuin te vestig, sien ek toe verskeie swart vlekke op slegs die een boom se stam. Ek het gewonder of dit nie ook ’n China-verwante probleem is nie. Wat kan ek doen hieraan of moet die boom gesny word?  

Antwoord: 

Jaco, dit is beslis ’n tipe ruspe wat in die stam boor en die boom die swart kleur laat bloei. Kewers is die grootste groep in ons diereryk en dit is moeilik om te sê watter een dit is. Hul larwes wat in die hout tonnel, is baie moeilik om vrek te maak. Omdat jy nie presies weet watter larwes dit is nie, is dit dus nie baie suksesvol om te behandel nie. 

Jy kan ’n stuk bloudraad in die gate druk en ook kyk of jy sistemiese gif só kan inkry, maar moenie te hoopvol wees nie. Baie bome oorleef dit goed en kan dit selfs ontgroei; moet dus nie die boom sommer drasties verwyder nie. Jy sal redelik gou op die lang termyn sien of sy algemene groeitoestand beïnvloed word.

Victor Kammer van Gauteng skryf: 

Ek het op ’n reistog so 12 km suid van Kimberley op dié mooi lelie afgekom en wil weet wat die naam daarvan is. 

Antwoord: 

Victor, die bolplant heet die korannalelie (Ammocharis coranica). Dit is baie mooi en wydverspreid oor suidelike Afrika. Die blomtyd varieer afhangend van waar dit voorkom, maar dit is gewoonlik in die somer en soms in die lente of herfs. Ek kweek dit ook hier op die Babylonstoren-plaas. 

Victor Kammer
Victor Kammer se mooi koranna-lelie (Ammocharis coranica).

Dit behoort aan die geslag Ammocharis wat deel is van die Amarillus-familie (Amaryllidaceae). 

Daar kom sewe soorte in suidelike Afrika voor. Die bekende malgaslelie is byvoorbeeld een van hulle (Ammocharis longifolia) wat wydverspreid langs die Weskus voorkom tot in suidelike Namibië. Die korannalelie kweek baie maklik en as dit eers in die tuin gevestig is, blom dit jaarliks fluks.

Eldene Geldenhuys skryf:

Ernst, op een van my geliefde aalwyne is kanker besig om sy kop uit te steek. Dit het vergroeisels op die blare en oral op sy bloeiwyse! Het jy groot asseblief vir my raad wat ek daarmee kan doen? Moet ek hom uithaal en weggooi, of het jy dalk ander raad? 

Antwoord: 

Eldene, moet dit nie weggooi nie; dit is beheerbaar. Dit heet aalwynkanker, maar is nie kanker soos ons dit ken nie, maar net ’n tipe abnormale groei weens die aktiwiteit van klein myte.

Met hul monddele skei hulle hormone af wat die groeipatrone van die plante manipuleer. 

Die myte doen dit om hul eie habitat te vergroot en hul voedingsbron so nuttig as moontlik te vergroot en te benut. Hulle suig die sap van die aalwyne en daar is baie soorte, elkeen spesifiek tot sy eie plantsoort en gasheerspesifiek. 

Op proteas noem ons dit heksebesem. Dit is maklik om te beheer. 

Gebruik gewone huishoudelike karbapoeier (by enige tuinwinkel beskikbaar). Maak ’n pasta of verf dit aan en smeer dit oral op die aangetaste gedeeltes. Jy kan die aangetaste gedeeltes ook eers afsnoei en dan die karba-mengsel op die plek verf.

Meer oor:  Ernst Van Jaarsveld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.