Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vra vir Ernst: Watter struik is dit?

Dihan Slabbert skryf: 

Ek het so teen die einde van verlede jaar ’n paar kasuurbome in my tuin geplant. Dit was alles oortrek van luise net nadat ek dit geplant het, waarna ek dit met ’n sistematiese gif behandel het om van die luise ontslae te raak.

Ek het ’n ruk terug opgemerk dat een van die boompies se groeipunte vreemd lyk. Die stam het verander van rond na plat, dun en wyd – soos ’n perdepeits.

Is die boom siek? Het iets soos ’n insek die groeipunt beskadig wat maak dat die groeipunt muteer het?

Antwoord: 

Dihan, dit is baie interessant – ons noem dit ’n kristaatvorm. Iets gaan verkeerd met die groeipunt en dit veroorsaak die snaakse afwykende groei. Dit kan soms deur myte veroorsaak word (heksebesem noem ons dit dan). Hul monddele skei hormone af wat die plant se groeipunt manipuleer en hul eie mikrohabitat skep. 

Iets kon ook met die plant gebeur het wat die groeipunt beskadig het en dan so ’n snaakse groei voortsit.

Ek twyfel egter of dit myte is.

Die plant herstel homself gewoonlik vinnig weer. Die kristaatvorm is baie gewild by vetplantliefhebbers en kom soms by vetplante voor, veral plante wat aan die kaktus-familie behoort, so ook die Apocynaceae-familie.

Jou inheemse kasuurboom (Pittosporum viridiflorum) behoort nou weer normaal te funksioneer. Jy het die deel afgesnoei en die luise is dood weens die sistemiese middel, en so behoort jou boom sy normale groei weer voort te sit.

Vir lesers wat die kasuur nie ken nie, dit is ’n mooi immergroen, rypbestande, inheemse boom wat goed in die Hoëveld aard. 

Bill Pieters skryf: 

hoenderspoorkoraalboom
Bill Pieters se mooi hoenderspoorkoraalboom.

Ernst, kan jy asseblief help met die naam van dié struik, soos op my foto?

Antwoord: 

Bill, die boom heet die hoenderspoorkoraalboom (Erythrina crista-galli) en is van Suid-Amerika afkomstig. Dit word baie in ons land aangeplant. Jy kan net ’n tak soos met ons inheemse koraalbome in die grond druk en dit groei! Dit het baie mooi blomme.  

Hein Potgieter van die Waterloo- son­energieplaas skryf: 

Kan jy my dalk help om ’n plant te identifiseer? Ek het die plant net buite Vryburg gekry.

Dit het geelwit blommetjies en het nou net ’n vruggie begin vorm.

Antwoord: 

Hein, jou plant is die ystervarkpat (Kedrostis africana). Dit is ’n wydverspreide rankplant met die mooi knoets wat in die natuur onder die grond groei met die rankie altyd bogronds.  

Hester Kitshoff van Polokwane/Petersburg skryf: 

My buurman het ’n avokadopeerboom wat ophou dra het. Hy vra hulp. 

Antwoord: 

Hester, as ’n boom ophou dra, is daar iets fout. Ek stel voor hy gee dit 500 gram 3:1:5 elke jaar. Hy kan dit in drie sarsies gee: in die winter 100 gram, somer 200 gram en herfs 200 gram. Strooi dit egalig onder sy kroondak en moenie dat die korrels teen die stam kom nie. Gooi goed nat voor en ná bemesting, en 60 gram Engelse sout in die herfs is belangrik. As die boom in volson staan en dan ook genoeg water kry, sal hy die verskil sien! 

Meer oor:  Ernst Van Jaarsveld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.