Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vrolike vetplante vir die huis

Ons Suid-Afrikaners is mos maar lief vir ons braaikamers, stoepkamers, sonkamers en afdakke met die polikarbonaat-dakplate wat die son uithou maar helder lig deurlaat. Hierdie mens­gemaakte “mikroklimate” wat gewoonlik redelik beskut en warm is, is die ideale groeiplekke vir ’n baie oulike versameling sukkelente wat ’n tuimelende en amper draadagtige groeiwyse het en graag oor die rande van houers en hangmandjies hang.

Wat die volgende vetplante in gemeen het, is dat hulle in die natuur in skaduryke en meestal humiede toestande groei en van gereelde water in die somer (en minder in die winter) hou. Voorts vereis hulle baie goeie dreinering om wortelvrot te vermy en wateroplosbare bemesting teen halfsterkte van die aanbevole dosis in die lente wanneer aktiewe nuwe groei lostrek – die rede hiervoor is dat baie van hulle epifiete (lugplante) is wat van nature in bome se mikke of in baie vlak grond groei, net om hulleself te anker.

Almal kan maklik voortgeplant word deur stukkies van die stele of selfs net blare in ’n klam vetplantmengsel te druk en dan toe te wikkel in ’n deursigtige plastieksak as kweekhuisie om te bewortel.

Die volksnaam Krismiskaktus verwys na die blomtyd in die noordelike halfrond wat in die winter gedurende die Kerstyd is.

Krismiskaktus (Schlumbergera)

In ’n natuurlike habitat groei hierdie epifiet tussen rotse of in bome in skaduryke en klam toestande (wat natuurlik heeltemal ander toestande is as wat vir ’n gewone kaktus geld). Plaaslik kan ’n mens die skouspelagtige blomme vanaf Mei tot September verwag. Baie hibriede is uit die spesie S. truncata geteel, met ’n groot kleurverskeidenheid van blomme wat wit, pienk, geel, oranje, rooi en pers insluit. Die plant produseer ’n ruim hoeveelheid sytakke wat uit vlesige afgeplatte blare of “segmente” bestaan. Die satynagtige, glansende blomme verskyn aan die punte en tussen die nodus van die blaarblaaie.

Bobbejaantoontjies is ’n inheemse vetplantgrondbedekker wat welig oor die kante van ’n houer sal neerhang.

Bobbejaantoontjies (Curio radicans)

Dié plant se blare is klein en spoelagtig met klouagtige punte en ’n deurskynende streep teen die kant af. Hulle kan rooi verkleur as hulle aan helder sonskyn blootgestel word. Piepklein soetgeurige blomkoppies verskyn deur die jaar. Die plant was voorheen as Senecio radicans bekend.

Die pêrelsnoer se blaartjies lyk soos klein ertjies.

Pêrelsnoer (Curio rowleyanus)

Dit is ’n rankende grondbedekker wat inheems in die droër streke van die Wes- en Oos-Kaap en suidelike Namibië is. Dit het vlak wortels en vorm digte matte in die skadu van ander plante of tussen rotse. Die blare is rond met ’n skerp punt, lyk soos klein ertjies en het ook ’n deurskynende donkergroen streep aan die kant af. In die somer dra hierdie ongewone vetplant piepklein wit blommetjies met kleurryke meeldrade wat soos kaneel ruik.

Hou hierdie plante in helder lig binne of met oggendson en middagskadu buite. Maak slegs nat as die grond droog voel. Hou die effens giftige blare van klein kindertjies af weg.

Die Crassula expansa subsp. fragilis is nuttig as ’n fyn grondbedekker.

Crassula expansa subsp. fragilis

Daar is iets esoteries aan hierdie mosagtige crassula met sy digte, effens elliptiese of omgekeerde eiervormige vlesige blare in vars- tot dofgroen.

Ek kan eerlikwaar sê dat dit een van my gunstelingplante is! Die effens harige stingels is pienkerig tot maroen, draderig en so bros dat dit die hantering van die plant moeilik maak. Dit is nuttig as ’n fyn grondbedekker op plekke in halfskadu of son (maar nie bakkend warm nie) tussen mooi klippies of ander vetplante. Dit is baie oulik in muurpotte of hangmandjies omdat dit oor die kante sal tuimel.

Donkiestert (Sedum morganianum)

Die vetplant met sy neerhangende stamme wat tot 60 cm lank kan word, kom natuurlik voor in Mexiko en Honduras. Traanvormige, vlesige blougroen blare sit in digte rye aan die draderige stamme en pienk of rooi blommetjies verskyn in die lente of somer aan die stamme se punte.

Grondmedium vir sukkulente

As jy begeesterd is om jou eie vetplantsnoere aan te kweek en sukkel om ’n kommersiële grondmedium te kry, probeer hierdie resep vir steggies en oorplant:

3 dele gewone potgrond;

2 dele growwe riviersand of grint;

1 deel perliet; en

1 deel kompos.

Opmerkings:

  • Moenie bou- of seesand gebruik nie.
  • Perliet is ’n goedkoop grond­opknapper wat die mengsel ligter maak en dreinering verbeter.
  • Die gebruik van kompos is na keuse, maar dit hou die mengsel lig met goeie dreinering en gee die potgrond meer lyf.
Meer oor:  Huis  |  Vetplante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.