Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Winter is tyd vir onderhoud

Gereelde onderhoud om ’n tuin in ’n goeie toestand te hou, is iets wat ’n mens ongelukkig nie kan vermy nie. Die winter is dalk ’n beter tyd om dit te doen, wanneer ander verleidings nie jou aandag aftrek nie. 
Gebruik geharde en inheemse Dymondia margaretae (silwertapyt) as ’n alternatief vir gewone grasperk.

Jy moet ’n bietjie snoei.

Verwyder groot oorhangende takke naby die huis en ondersoek ook die middel van groot bome vir dooie of siek hout.

As die tuin te veel skadu in die somer gekry het en jou bome meestal bladwisselend is, is dit ’n goeie plan om hul winterkaal silhoeëtte te bestudeer om te sien of jy nie dalk van die binneste takke kan verwyder om hul krone minder dig te maak nie. Dit word “bevering” genoem.

Wees ekstra-versigtig wanneer jy met ’n kettingsaag werk, en dra ’n harde helm wat jou kop beskerm, asook ’n skermbril wanneer ’n boom of groot struik gesnoei word.

Wanneer ’n tak van ’n boom afgesny word, maak ’n snit gelyk of selfs effens konkaaf met die stam en verseël die wond met boom­seëlaar as dit nodig is. Moenie ’n “kapstok” laat nie. Dit lyk onnet en kan ’n ingang vir swamaanvalle wees.

Knip immergroen heinings netjies en verwyder al die rommel wat daaronder versamel het.

Sny welige klimplante weg wat na die dak toe oorhel – hulle gee vir rotte op soek na ’n oorwinterplekkie direkte toegang tot die plafon.

Ruim op

Verwyder ou blare en dooie plantmateriaal in geute, geutpype en dreine. Sit plaveistene oor buitedreine – dit keer dat blare en rommel daar versamel. Sit mooi potte vol kruie en jaarplante bo-op.

Dit is altyd ’n goeie plan om die opening van die vloedwaterdrein voor jou eiendom ook skoon te maak – dit kan keer dat dit tydens ’n swaar reënbui oorstroom.

Ry ou rommel en groot hope dooie plantmateriaal wat nie op die komposhoop gebruik word nie weg – dit raak ’n broeiplek vir allerlei knaagdiere en is ’n brandgevaar.

Kyk na harde elemente

Sit al die los bakstene of plavei­stene op paadjies en patio’s vas en vervang die wat stukkend is. Hoewel die groen, organiese voorkoms van mos mooi is, kan dit in reënweer paadjies en tuintrappies baie glad maak. Maak alge dood met kookwater of kopersulfaat of gebruik ’n drukspuit.

Behandel houtdekke en heinings met ’n houtverseëlaar. Herstel gate in draadheinings en plant mooi klimoppe soos jasmyn om daaroor te rank.

As jou gruisareas met onkruid oortrek is en die gruis aanhoudend in die grond verdwyn, is dit dalk ’n goeie plan om ’n permanente oplossing te vind. Hark die klippies eers daarvandaan weg op ’n hoop. Lê nou ’n laag onkruidmat, ’n sterk membraan wat per rol verkoop word en water en lug deurlaat, maar ontkiemende onkruidsaad versmoor. Hierdie materiaal keer ook dat stukkies gruis in die grond insak. Hark nou die gruis terug op die mat, en die probleem is opgelos!

Gee aandag aan jou grond

Bestel ’n vrag kompos en behandel al die tuinbeddings met ’n vars laag organiese opknapper. Jy hoef dit nie in te spit nie, gooi net ’n laag op die grond wat die erdwurms sal inwerk – tensy jy van plan is om nuwe grond voor te berei en om snyblomme of groente te plant.

Breek swaar kleigrond op deur ’n laag landboukalk in te werk. Voeg ook ’n ligte dosis landboukalk by irisse en vilette omdat dit hulle goed laat blom in die lente. ’n Klein dosis kalk is ook goed vir olike laventel en klematis.

Beperk die goggas deur twee tot drie keer gedurende die winter die grond om jou vrugtebome in die agterplaas om te spit om enige oorwinterende insekte en swamspore aan ryp bloot te stel. Maak ook met die laaste omspit ’n netjiese dammetjie om elke boom, wat dit makliker maak om met ’n tuinslang diep nat te lei.

Foto:

Dink weer oor die grasperk

Maak jou grasperk kleiner. Om ’n goed versorgde grasperk te onderhou, moet jy toegee aan die grille van duisende klein en dors plantjies wat voortdurend aandag vereis. Hiervoor kort jy tyd en geld. Die eerste stap om jou grasperk kleiner te maak, is om te kyk na daardie lastige plekkies wat tydens die somer moeilik is om te versorg. Raak ontslae van ongemaklike hoekies wat moeilik is om te sny. Vervang die gras met plante wat min onderhoud verg soos grondbedekkende “grasperk­alternatiewe” wat dieselfde rustige groen effek gee, steeds ’n sekere mate van voetverkeer toelaat, maar minder moeite verg:

) Dymondia margaretae (silwertapyt) – gehard, volson.

) Phyla nodiflora (tapytgras) – gehard, volson.

) Mazus reptans – gehard, volson tot halfskadu.

) Mentha pulegium (polei) – rypgevoelig, half tot volskadu.

) Dichondra repens (wondergras) – rypgevoelig, son tot halfskadu.

) Sagina subulata (Skotse mos) – gehard, son tot halfskadu.

Gee nuwe lewe aan konifere

Omskep ou konifere wat verbruin in nuwe tuinfokuspunte deur hulle te snoei. As hulle in die middel bruin is, sny die klein dooie takkies aan die binnekant uit en verwyder die afval om die vorm van die hooftakke te onthul. Knip dit dan in verskillende “koppe” of vorms deur dit liggies te skeer. Jy sal verbaas wees oor die kunstige vorms wat te voorskyn kan kom, en die hergroei is in die wintermaande betreklik vinnig en gesond. ’n Mens kan die onderste takke afsny en nuwe grondbedekkers of kleurryke jaarplante soos begonias om hulle plant. Onthou om konifere te beskerm teen besmetting van die Italiaanse sipresluis wat nou aktief is. Gebruik ’n sistemiese insekdoder soos Koinor om die grond om die plante te deurdrenk.

Meer oor:  Anna Celliers  |  Tuinbou  |  Winter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.