Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Wintertyd is ook woekertyd

’N Wintertuin word van sy blare gestroop en los net die “geraamte” agter. Dit bied die perfekte geleentheid om jou tuin se struktuur te heroorweeg – wat bygevoeg, verander of reggestel moet word.
Omskep ’n ongebruikte hoek in ’n knus leefarea buite.

’n Tuin is die hele tyd besig om te verander, soos hy ontwikkel, maar ook soos die tuinier se smake verander en met nuwe plante en uitlegte eksperimenteer.

Skuif een plant, en daar is ’n rimpeleffek deur die tuin.

Ek hou daarvan om veranderinge aan te bring en nuwe ruimtes te skep. Vanjaar het ek my groentetuin ingeruil vir ’n rustige, ontspannende hoekie. Dit was ongelooflik baie pret om dit te beplan en uit te lê.

Die landskapargitek Renée Wright, wat intussen na Italië verhuis het, het my waardevolle raad gegee oor tuinmaak en uitleg. Aldus haar moet enige verandering aan die ontwerp van die tuin wat strukturele werk verg, in die winter (in somer­reënvalgebiede) aangepak word. So gaan jou oormaaksessie ook nie deur reën ontwrig word nie.

Renée Wright se riglyne:

Grondpatroon

’n Sterk grondpatroon gee ’n tuin ’n gevoel van samehorigheid.

As geboë of reguit lyne effens vaag geword het, is dit weer tyd om die rande goed te snoei. Die rande van jou beddings of sypaadjies is maklik om te onderhou en hoef nie hard en oorheersend te wees nie.

Toskaanse keistene (100 mm x 100 mm) word maklik gelê en lyk mooi op hul eie.

Sorg dat dit gelyk is met die grasperk en dat die grassnyer die rande afgewerk hou.

As jy van verskillende hoogtes gebruik maak sal jou tuin groter voel.

Kyk daar!

Moenie die belangrikheid van fokuspunte onderskat nie. Elke huis moet ’n paar hê, vanaf leefareas, na die slaapkamers of selfs wanneer jy vanuit die motorhuis inkom.

In elke blik moet daar altyd iets wees wat ’n fees is vir die oog.

Dit hoef nie ’n houer of ’n fonteintjie te wees nie. Dit kan eenvoudig ’n opvallende plant wees.

Afbakening

’n Gevoel van omarming is ’n onsigbare element van die tuin, maar het ’n groot invloed op hoe ons die tuin ervaar.

Dit skep ’n gevoel van geborgenheid en intimiteit. Soek maniere om hoekies af te baken en fokusareas te skep.

Breek eenvormigheid

Plaveisel is ’n lae instandhoudingsoplossing, maar dit kan groot, vaal gebiede lewer.

Breek die eenvormigheid deur die plaveisel te lig en tussendeur grondbedekkings te gebruik. Dit verg steeds min instandhouding, maar sorg vir interessante patrone en teksture.

Jy kan ook verskillende kleure teëls, soos geglasuurde blou teëls, gebruik om ’n meer eksotiese patroon te vorm.

’n Ander manier om eentonige oppervlakke te breek, is om verskillende hoogtes soos terrasse, lae keermure en plantbakke, te skep.

’n Meer vertikale effek kan verkry word deur traliewerk, muurskilderye of deur openinge in mure te gebruik. Vir ekstra diepte kan traliewerk ongeveer 15 cm van die muur af gemonteer word, pleks van teen die muur.

Lang smal ruimtes of opritte kan interessant gemaak word deur ’n bedding langsaan te plant om dit te raam. Die plante moet egter hitte kan verdra wat van die plaveisel weerkaats word.

Plante van verskillende hoogtes verminder die gevoel van lengte.

Meer oor:  Tuinbou  |  Tuinmaak  |  Winter  |  Wenke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.