Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leefstyl
‘Jy’s net kurator van dié karre’
Die 1967 Mercedes-Benz 230E, ook bekend as die Fintail in Engels of Heckflosse in Duits, is volgens die afslaer Joff van Reenen een van die sterre van die veiling. Foto’s: Elizabeth Sejake

”Oom Louis het gesê mens besit nooit hierdie karre nie, jy is bloot hul beskermheer vir ’n rukkie en dan is dit iemand anders se beurt.”

En Saterdag 5 Desember breek dié beurt vir ander aan wanneer meer as 140 klassieke voertuie uit Louis Coetzer van Bloemfontein se versameling van by die 350 opgeveil word, sê Joff van Reenen, die afslaer van The High St Auction Co., wat die veiling gaan behartig,

Coetzer en sy vrou, Hermien, is in Januarie dood toe hul viertrekvoertuig by ’n krans naby Barkly-Oos in die Oos-Kaap afgestort het.

Die veiling vind aanlyn plaas, want weens die inperkingsregulasies kan net 100 genooide gaste dit bywoon.

“Ander belangstellendes kan egter vanaf 30 November op die webwerf (www.highstreetauctions.com) virtuele toere van al die voertuie doen,” sê Van Reenen.

Hy was die afgelope week Rapport se gids vir dié versamelstukke op wiele.

Een van die sterre van die vertoning is ’n 1967-model Mercedes-Benz 230E, wat vir die Duitsers ’n Heckflosse was en vir die Engelse ’n Fintail. “Die Fintail is een van die héél skaarsste voertuie wat ’n liefhebber kan begeer. Daar is in die 1960’s net 200 van hulle vervaardig en na België verskeep,” sê Van Reenen. “Die feit dat hierdie een regterstuur is, maak die kar net nog meer spesiaal. Voor dié een in die Coetzer-versameling ontdek is, het niemand eens geweet daar is een in Suid-Afrika nie.”

Die spiertier wys sy spiere. Volgens Van Reenen verdien die 1964 afslaankap Ford Thunderbird eervolle vermelding.
Van Reenen by die 1959 Chevrolet Kingswood-stasiewa wat eens die enigste luukse negesitplek-stasiewa op die pad was.

Nog ’n gunsteling is ook ’n stasiewa. “Die 1959 Chevrolet Kingswood is ’n kortkop agter die Fintail as dit by spesiaal kom. Hierdie negesitplek-stasiewa was in die laat 1950’s die hoogtepunt van luuksheid op die pad.”

Die agterbank is omgedraai, sodat ’n passasier van daar af deur die agterruit kyk. “Die agtervenster was outomaties. Met die druk van ’n knoppie het ’n hidrouliese stelsel in werking gekom en die venster kon op of af. In die 1950’s. Ongelooflik!”

Van Reenen sê Coetzer het ’n voorliefde vir Mercedes-Benz-motors gehad. “Dié 1958 Mercedes-Benz 300 Dora was een van sy gunstelingkarre. Dis een van die enigste twee Mercedes-modelle ooit wat na ’n mens vernoem is.”

Die ander mensnaam-Mercedes is óók in die versameling: die 1953 Mercedes-Benz 300 Adenauer. “Dit is vernoem na Konrad Hermann Joseph Adenauer. Hy was die eerste kanselier van die Duitse Federale Republiek.”

Van Reenen sê die Adenauer was Mercedes-Benz se antwoord op die Rolls-Royce Silver Cloud.

“Dit was eintlik die begin van die Maybach en was Mercedes se eerste tree na die ultra-luukse mark. Kyk die houtafwerkings, dis alles met die hand gedoen.”

Die 1973 Chevrolet Ranger Coupé is die enigste kar wat in Suid-Afrika ontwerp, gebou én verkoop is.

“Kyk voor op die enjinkap, die wapen is ’n Springbok-kop.”

Van Reenen lag.

’n Deel van die Louis Coetzer-versameling.
Dié 1958 Mercedes-Benz 300 Dora – een van Coetzer se gunstelinge.

“Suid-Afrikaanse rugby het hulle later gedwing om die wapen te verander, want die Springbok was hulle s’n.”

Hy word ernstig.

“Hierdie Ranger is die Coetzer-kinders se huldeblyk aan hul gestorwe ouers. Dit is lot nommer een op die dag en word sonder ’n reserweprys verkoop. Die volle koopsom sal aan liefdadigheid geskenk word.”

Hy los nog ’n spesiale kar vir amper laaste. “Die 1957 Mercedes-Benz 190 Ponton is werklik ’n eens-in-’n-leeftyd voertuig vir versamelaars of motorliefhebbers. Dit is absoluut enig in sy soort. Soos met die Fintail het niemand eens geweet daar was een in Suid-Afrika nie.”

Van Reenen kan nie uitgepraat raak oor die Coetzer-versameling nie. “Daar is soveel ander wat eervolle vermelding verdien. Die 1964 afslaandak Ford Thunderbird, die 1964 Mercedes-Benz 220SE pilaarlose koepee . . .”

“Ek kan jou die hele dag besig hou. Dis ’n voorreg om as afslaer te kan optree vir hierdie versamelaar. Dis selde wat mens soveel rariteite en kwaliteit onder een dak kan sien.”

Meer oor:  Louis Coetzer  |  Bloemfontein  |  Klassieke Voertuie  |  Versameling  |  Veiling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.