Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leefstyl
Wat’s jou storie?
Omgee is grootste roeping vir Engo se De Wet

Hoofseun in die laer- en hoërskool­. Gekeur vir medies. BRek gestudeer. Model. Mnr. Suid-Afrika-finalis. Getroud met sy skoolliefde. Mal oor sport, maar veral mense. Soettand. Lid van die Vrystaatse veterane-tennisspan.

De Wet Claassens, uitvoerende hoofdirekteur van Engo. Foto: Lientjie Mentz

Dit is in ’n neutedop die curriculum vitae van die 34-jarige De Wet Claassens, uitvoerende hoofdirekteur van Engo in Bloemfontein.

Met Engo groot op die muur agter hom geverf by die organisasie se kantoor in Van Heerdenweg 22, Wilgehof, gesels hy passievol oor wat hier vermag word. En oor die uitdagings om die lewe vir diegene na wie die wêreld behoorlik sy agterkant gedraai het, ’n bietjie beter te maak.

Volgens Engo se webtuiste is dit ’n nie-winsgewende en nie-regeringsorganisasie (NRO) wat hulp verleen en hoop skep in die lewe van mense en fokus op die versorging van kinders, bejaardes, gesinne, mense met gestremdhede en pasiënte in nood met sy wortels in die NG Kerk.

Altesaam 34 kinder- en jeugsorgsentrums, 23 bejaardesorgsentrums, 14 gesinsorgkantore, vier kantore vir mense met gestremdhede en ses ondersteuningskantore vir hospitaalsorg is in die Vrystaat gevestig.

Engo lewer voorkomings-, beveiligings-, versorgings-, opvoedings-, ontwikkelings- en behandelingsprogramme aan individue, gesinne en gemeenskappe. Engo bereik meer as 300 000 individue oor die Vrystaat heen met sy dienste en hierdie syfer groei jaarliks.

Dit is ook dié organisasie waarvoor Volksblad se Ons gee om-fonds jaarliks geld insamel om in die groot behoefte van al dié programme te help voorsien.

Die Claassens. Foto verskaf.

Oor dié reusetaak waarvan hy aan die hoof staan, sê De Wet sonder skroom: “Dit is waar my roeping lê – om ’n verskil in mense se lewe te maak.”

Hy beskou homself as iemand wat geseën is met leierskap. “Dit is juis wat my in staat stel om die groot verantwoordelikheid wat op my skouers rus, te kan hanteer.”

Met al sy talente kon hy natuurlik baie meer geld en aansien gehad het sou hy sy loopbaan wat hy by ’n ouditeursfirma begin het, voortgesit het. Maar: “Die beloning wat ek kry waar ek nou is, is baie meer as die monetêre beloning wat ek elders sou kry.”

As leerling aan die Hoërskool Hentie Cilliers in Virginia het hy aan alles moontlik deelgeneem – tennis, atletiek, krieket, junior stadsraad, redenaars, kuns – alles boustene wat hom nou help om Engo te vernuwe, moderne konsepte in werking te stel en nuwe maniere te ontdek om die organisasie lewensvatbaar te maak.

As ’n voormalige finalis van die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie het hy die eerste keer werklik in aanraking gekom met liefdadigheid toe hy as deel van die kompetisie ’n liefdadigheidsprojek moes aanpak.

“Dit het my passie aangevuur. Dit is maklik om ’n werk te kry, maar baie moeilik om jou roeping te ontdek,” sê hy filosofies.

En hier het hy sy roeping ontdek en besef elke mens se uitdaging is om nie net te oorleef nie, maar ook te kan droom, en hoop, om ook dit vir ander moontlik te maak om te droom en te kan hoop. “As jy dié dinge nie in jouself het nie, kan jy dit nie vir ander bring nie.”

Hy kry ’n hartseertrek om sy oë as hy praat oor die talle kinders in kinderhuise oor die Vrystaat heen.

“Geen kind kies of verdien om in ’n kinderhuis te wees nie. Elke kind hier by ons se grootste begeerte is om deel van ’n gesin te wees.”

Oor maatskaplike ontwikkeling is hy driftig. “Dit moet van regeringskant ’n groter rol speel. As ’n land nie maatskaplike ondersteuning prioritiseer nie, is dit die begin van die ineenstorting van ’n land en kan dit tot ’n nasionale ramp lei.

“Hoe slegter dit met die ekonomie van die land gaan, hoe meer druk is op die gesin, wat tot meer sosio-ekonomiese en moontlike maatskaplike probleme kan lei.”

Hy beskou finansies – of die gebrek daaraan – as sy grootste uitdaging waarmee hy daagliks moet worstel deurdat die regering nie voldoende subsidies betaal nie, en dit ook nie betyds betaal nie.

Engo is reeds vanaf 2003 in hofsake met die provinsiale regering gewikkel weens onvoldoende subsidies. Uit vorige hofsake in 2014 reeds is bepaal dat R50 per dag per kind ’n goeie maatstaf is, maar op die oomblik word slegs R12 tot R17, afhangend of die kind in ’n plattelandse of stedelike kinderhuis is, vir drie maaltye per dag bewillig.

“Dit het ’n groot impak op die sisteem en daarom kan ons nie oorleef sonder groot borge soos die NG gemeentes in ons streek, die Ons gee om-fonds en skenkings van ander instansies en individue nie.”

Ongeag dié donker prentjie is moedeloosheid nie eers in De Wet se gedagtes nie.

“Dit is die Here se werk. Hy is die ware Leier en Heerser van Engo. Vader God sal sorg vir sy kinders. Hy sorg al meer as 100 jaar vir hierdie instansie en Hy sal dit steeds doen. Ons moet net getroue instrumente in Sy hand wees, dan sal Hy ons nooit in die steek laat nie,” sê hy.

Hy erken dat die ellendes wat hy daagliks sien en beleef hartverskeurend is, maar dat dit hom nie verlam of moedeloos laat nie.

“Ons het vasberade mense in ons diens om vir dié mense te gee wat hulle verdien. Die grootste motivering is om op te staan en te veg vir die sowat 300 000 minderbevoorregtes wat jaarliks bereik word. Ons sal hulle nie net in die steek laat nie.”

Engo het meer as 1 000 werknemers oor die Vrystaat heen, van wie baie maatskaplike werkers is. “Ons veg ook vir hulle en om hul werk te vergemaklik,” sê hy.

Dat hulle afhanklik is van die staat, is nie weg te redeneer nie, “maar die staat is ook afhanklik van ons om dié dienste te lewer”.

De Wet se ondervinding as model, asook sy jeugdigheid, is vir hom ’n groot pluspunt om ’n ander dimensie aan sy werk te gee.

“Engo moet net eenvoudig uit die boks begin beweeg met meer innoverende, vernuwende denke, ’n meer diverse groep om oor die toekoms te dink. Dit verg ’n nuwe soort energie en denkwyse.”

Die Omgie-mannetjie is een van die nuwighede wat veral vir kinders groot pret verskaf en by bemarkingsgeleenthede Engo se boodskap uitdra.

De Wet Claassens in ontspanne luim saam met sy vrou, Nadia, seuntjie, Liewan (4), en dogtertjie, Lika (7). Foto: Verskaf

Vir De Wet is die opdrag in Matteus 28 vers 19 tot 20 om dissipels te maak een van sy en sy personeel se hooftake – “om die ewige hoop te bring, lig in duisternis, om hier te wees vir God, vir mekaar en die wêreld”.

“My grootste droom is om vir my personeel te gee wat hulle verdien, want hulle leef saam met my hul roeping uit om vir elke mens in nood die wêreld ’n beter plek te maak sodat hulle kan uitsien na die dag van môre.”

Hoewel hy die toonbeeld is van ’n moderne, suksesvolle en passievolle jong man, is een van De Wet se grootste uitdagings juis verandering. Maar hy sien homself as deel van ’n groot familie wat hom ook in onseker tye dra.

“Dit is ongelooflik om te weet dat die personeel my respekteer en my visie deel, al is ek die jongste mens nog wat dié pos beklee.

“Ek moes myself bewys deur met voorbeeld te lei, om almal met respek te behandel. En vriendelikheid kos niks nie.”

Sy Christenskap is vir hom sy hoogste voorkeur. “Glo in God om in jouself te glo. Ek is nederig versekerd om dit te sê, want deur Hom is ek tot alles in staat.”

Teenoor sy ouers wat vir hom die grondslag gelê het, is hy baie dankbaar.

En as gesinsman is sy vrou, Nadia, ’n onderwyseres by Grey-kollege (pre-primêr), en twee kinders, Lika (7) en Liewan (4), sy veilige hawe.

Vir hom is Engo se slagspreuk die boodskap van sy lewe: “Die reus voor jou sal nooit groter wees as die God in jou nie.

“Dit kos net een klein klippie om ’n reus te laat val.”

Lesers kan tot die Ons gee om-fonds bydra met ’n inbetaling by die Volksblad-Kersfonds (tjekrekening), Nedbank, rekeningnommer 102 891 9980, takkode 117 134. E-pos die inbetalingstrokie na ria@engo.co.za.

Meer oor:  Vrystaat  |  Akteur  |  Model
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.