Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ontledings
Dink twee keer oor uitstel van verkiesing – De Vos

Hoewel dit te verstane is dat die beplande plaaslike verkiesing op 27 Oktober moontlik uitgestel sal word weens die Covid-19-pandemie, is daar gevaarligte wat brand, sê die grondwetkenner prof. Pierre de Vos van die Universiteit van Kaapstad.

Hy skryf op sy webwerf Constitutionally Speaking die Grondwet maak nie voorsiening daarvoor dat die Verkiesingskommissie (OVK) of die president die vyfjaar-termyn van munisipale rade kan verleng nie.

Prof. Pierre de Vos

“Dit is belangrik omdat só ’n mag maklik misbruik kan word deur ’n sittende regering om verkiesingsvoordeel daaruit te trek.

“Dit kan ook in die toekoms misbruik word deur ’n anti-demokratiese regering wanneer dit daarop dui dat die verkiesing ongeleë is vir die regering of selfs daartoe kan lei dat hy sy mag verloor,” sê De Vos.

Oud-adjunkhoofregter Dikgang Moseneke het Dinsdag in ’n verslag wat hy ná ’n ondersoek in opdrag van die OVK gedoen het, aanbeveel die verkiesing moet uitgestel word omdat dit onder die huidige Covid-19-omstandighede nie vry en regverdig sal wees, soos die Grondwet vereis, nie.

Hy het voorgestel die verkiesing moet uitgestel word – maar tot nie later nie as die einde van Februarie 2022. Die verkiesing mag ook slegs een keer uitgestel word.

Moseneke sê sy verslag is gegrond op wetenskaplike feite en die huidige inperkingsmaatreëls.

De Vos sê dat die Grondwet verander sal moet word om dit moontlik te maak om die verkiesing uit te stel.

Dít, sê hy, moet ’n laaste uitweg wees.

Moseneke sê ook dit is nie wenslik nie.

Hy stel voor die OVK wend hom tot die “relevante hof” om te vra dat die verkiesing uitgestel word. Hy het nie gesê of dit die verkiesingshof of die konstitusionele hof is nie.

Omdat gereelde verkiesings deel is van ons grondwetlike demokrasie, is dit my mening dat verkiesings slegs in buitengewone omstandighede uitgestel mag word.

De Vos sê as die Grondwet aangepas móét word (75% van die lede van die Nasionale Vergadering moet daartoe instem), moet dit só verander word dat dit nie ’n algemene diskresie aan die president verleen om toekomstige verkiesings uit te stel nie.

Verkiesing binne 90 dae nadat termyn verstryk

Die Grondwet maak dit duidelik dat ’n verkiesing vir plaaslike besture moet plaasvind binne 90 dae nadat die vorige raad se termyn verstryk het. Die huidige termyn verstryk op 3 Augustus.

As die verkiesing nie voor die einde van Oktober plaasvind nie, sal munisipale rade nie meer wettige gesag hê om te funksioneer nie – mits art. 159 van die Grondwet verander word om voorsiening te maak vir ’n uitstel.

“Omdat gereelde verkiesings deel is van ons grondwetlike demokrasie, is dit my mening dat verkiesings slegs in buitengewone omstandighede uitgestel mag word,” skryf De Vos.

“Die blote feit dat dit moeiliker vir politieke partye sal wees om verkiesingsveldtogte hou, of vir die OVK om vrye, veilige en regverdige verkiesings te hou, behoort nie ’n uitstel te regverdig nie.

“Dit beteken nie ’n uitstel sal nooit geregverdig wees nie. As ’n verkiesing ’n ernstige en wesenlike gevaar vir die veiligheid van OVK-personeel en kiesers inhou, of ’n vrye en regverdige verkiesing totaal onmoontlik maak, sou ’n uitstel oorweeg kan word,” sê De Vos.

“Die Covid-19-pandemie maak dinge moeiliker, maar nie noodwendig onmoontlik nie. Politieke partye kan steeds stemme werf en verkiesingsveldtogte hou.

Die Covid-19-pandemie maak dinge moeiliker, maar nie noodwendig onmoontlik nie. Politieke partye kan steeds stemme werf en verkiesingsveldtogte hou.

‘Uitdagings sal nie verdwyn’

“Die hou van ’n verkiesing in ’n wêreldwye pandemie sal altyd ’n gevaar inhou vir OVK-personeel en kiesers.

“Maar, al sal sou die situasie verbeter, sal Covid-19 nie in die volgende jaar totaal verdwyn nie (al word die pas van inenting verhoog). Dit beteken al sou die verkiesing met ses maande uitgestel word, sal die probleme en kommer oor veiligheid steeds daar wees.”

Die OVK is tans besig om Moseneke se voorstelle te bestudeer voordat hy ’n besluit neem. Die voorstelle is nie bindend op die kommissie nie.

Meer oor:  Pierre De Vos  |  Uitstel  |  Inperkingsmaatreëls  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.