Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politieke Partye
Bloeiende DA: ‘Alles reg hier’

Die DA bloei links én regs kiesers in tussenverkiesings, maar die party se leiers sien geen rede vir paniek nie en spog dat sy steun onder swart kiesers plek-plek toeneem.

DA-amptenare tydens die party se bekendstelling van sy verkiesingsveldtog gister by die DA-hoofkantoor in Bruma, Johannesburg. Foto: Elizabeth Sejake

’n Ontleding van tussenverkiesings die afgelope twee jaar wys dat die DA steun verloor het in 75% van die wyke waaraan hy deelgeneem het – ’n tendens wat die afgelope Woensdag verdere stukrag gekry het.

Die DA se steun is nou in 110 wyke landwyd laer as wat dit was in die vorige munisipale verkiesing in Augustus 2016, en hoër in slegs 35 wyke.

In altesaam 29 van die 110 wyke waar die DA steun verloor het, was die skade so erg dat die DA beheer van die wyk moes prysgee.

Daarenteen kon die party slegs twee wyke by die ANC afrokkel.

John Steenhuisen, DA-leier, het gister ná afloop van die bekendstelling van sy party se verkiesingsveldtog gesê dat hy “baie ontspanne” is oor die vooruitsigte vir sy party in vanjaar se munisipale verkiesing, wat gereël is om op 27 Oktober plaas te vind.

“Ons is glad nie (paniekerig nie),” sê Steenhuisen. “Kyk net na ons groei in swart steun.”

Ontleders kyk kritieke data oor DA-steun mis, soos in Tshwane, waar die party Woensdag drie wyke behou het.

Steenhuisen sê die DA hoop om die ANC se steun tot onder 50% te druk in alle metromunisipaliteite.

“Waar ons dit regkry, wil ons soveel meerderhede as moontlik kry, of goeie koalisieregerings in te stel.”

Die DA regeer 26 munisipaliteite, insluitend die Kaapstad-, Tshwane-, en Nelson Mandelabaai-metro’s.

Die party se boodskap was gister duidelik: “Waar die DA regeer, gaan dit beter met Suid-Afrikaners.

“Ons hoef nie, soos ander partye, te praat oor wat ons as ’n regering sou doen nie. Die DA praat oor wat ons reeds as regering bereik het, en daardie prestasies plaas die ANC-regering in ’n verleentheid,” het Steenhuisen in sy toespraak gesê.

“Die topvyf bes bestuurde munisipaliteite in Suid-Afrika word almal deur die DA bestuur. Die bes bestuurde metro word deur die DA regeer. En die bes bestuurde provinsie word deur die DA regeer. Dis nie my opinie nie – dit is volgens onafhanklike oudits en ranglyste.”

Tog hou kleiner partye aan om aan DA-meerderhede te vreet onder veral wit en bruin Afrikaanse kiesers.

In Woensdag se tussenverkiesings, die laastes voor vanjaar se munisipale verkiesing, het die party steun verloor in sewe van die 11 wyke waaraan hy deelgeneem het en vier wyke aan opposisiepartye afgestaan.

In Eldoradopark, Johannesburg, het die DA beheer prysgegee oor wyke 17 en 18 aan die Patriotic Alliance (PA), wat op bruin kiesers fokus, en in Ennerdale (wyk 7) het die DA beheer afgestaan aan die ANC (sien grafika hiernaas). Dit is die 20ste wyk wat die DA sedert Mei 2019 aan die ANC afstaan.

In Faerie Glen in die ooste van Pretoria (wyk 44 in Tshwane) het die DA se steun na 65,4% (-23,4 persentasiepunte) gekrimp, terwyl die VF Plus se steun tot 31,9% (+17%) toegeneem het.

Die verlies aan wit Afrikaanse steun is in ’n verslag in 2019 toegeskryf aan die DA se verraderlike hantering van rassekwessies onder die leiding van Mmusi Maimane, onder meer in Schweizer-Reneke in Noordwes, waar die party sonder bewyse ’n jong wit onderwyseres van rassisme beskuldig het.

Die DA het in 2019 kwaai steun in dié provinsie verloor aan die VF Plus, en ook sedertdien vier wyke daar afgestaan aan dié party.

Onder bruin kiesers het die DA sedert Mei 2019 wyke afgestaan aan Patricia de Lille se Good-party in George, asook Al Jama-ah, ’n Moslem-party, in Johannesburg.

Bruin wyke in die Wes-Kaapse platteland (Matzikama, Cederberg, Knysna en Oudtshoorn) is ook aan die ANC afgestaan, grootliks te wyte aan partye soos Good en die Cape Coloured Congress wat stemme by die DA afrokkel.

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, het die verliese aan bruin steun voorheen verduidelik as die prys wat die DA betaal vir die “onbegryplike” manier waarop dié party in Oktober 2018 van De Lille ontslae geraak het.

Selfs in Kaapstad, die DA se kroonjuweel, word gefluister dat die party vrees hy kan sy meerderheid weens die verlies aan bruin kiesers verloor. In die laaste agt tussenverkiesings in Kaapstad het die DA in sewe wyke steun verloor, al het hy dié wyke behou.

Die aanwysing van ’n burgemeesterskandidaat vir die stad het ook in ’n petalje ontaard. Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse DA-leier en die provinsie se LUR vir vervoer, moes uit sy poste bedank ná aantygings dat hy oor sy akademiese kwalifikasies gelieg het. Die Madikizela-petalje het gelei tot die bedanking van dr. Nomafrench Mbombo, LUR vir gesondheid in die Wes-Kaap, as die leier van die DA se vrouenetwerk.

Phumzile van Damme, voormalige nasionale woordvoerder van die DA, het ook Donderdag haar bedanking as LP aangekondig, ’n besluit wat sy toegeskryf het aan ’n “kliek” in die DA. Sy bly ’n DA-lid.

Verskeie top-DA-amptenare het die afgelope week aan Rapport gesê hulle sien plek-plek ’n afwaartse trajek, maar daar is nie rede tot kommer nie. “Die leiers skep nie ’n indruk dat daar probleme is nie, en ons voel ook nie so nie,” het een amptenaar in Kaapstad op voorwaarde van anonimiteit gesê.

“Ons aanbod (aan kiesers) bly die beste in die land. Dit sal by die stembus wys.”

Steenhuisen voeg by ontleders kyk kritieke data oor DA-steun mis, soos in Tshwane, waar die party Woensdag drie wyke behou het. “Kyk hoe goed het ons onder swart kiesers gevaar in die stemlokaal waar die Uniegebou geleë is,” sê Steenhuisen.

Die DA het by hierdie stemlokaal die meeste steun getrek (43%) nadat die party nie eens 30% van die steun daar in 2019 se algemene verkiesing kon kry nie. “Dit is ’n stemdistrik waar 80% van die inwoners swart is, so dit is ’n uitstekende prestasie,” sê Steenhuisen.

Ook die DA se interne peilings wys volgens hom “dat ons verwagtinge gaan oortref hierdie jaar”.

Waarom dan ’n eksodus van bruin en wit kiesers?

“Want kiesers is, heeltemal tereg, nog kwaad vir ons oor foute in die verlede, veral wat die administrasie van Johannesburg (onder DA-beheer) betref,” sê Steenhuisen. “Ons is bewus daarvan en doen alles in ons vermoë om daardie kiesers weer aan ons kant te kry.”

Steenhuisen se boodskap aan eks-DA-kiesers is eenvoudig: “Net die DA is groot genoeg om die ANC te takel”.

Meer oor:  Helen Zille  |  John Steenhuisen  |  Tussenverkiesings  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.