Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Plaaslike Verkiesing
Registrasie vir verkiesing het om middernag gesluit

Kiesers wat nie teen Dinsdag om middernag vir die munisipale verkiesing geregistreer is nie, sal dalk nie op 27 Oktober kan stem indien die verkiesing sou voortgaan nie.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma
Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake. Foto: GCIS

Dit kom nadat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dié datum amptelik vir die verkiesing geproklameer het.

Die OVK het sonder om veel besonderhede te gee in ’n verklaring gesê een van die gevolge van haar proklamering van die datum, is dat die kiesersrol Dinsdag om middernag sal sluit.

Hy het vroeër die registrasienaweek vir kiesers uitgestel wat op 31 Junie en 1 Augustus sou plaasvind.

Hoewel die OVK ’n verslag aanvaar het waarvolgens die verkiesing weens die Covid-19-pandemie uitgestel moet word, bepaal die Grondwet dat die munisipale verkiesing moet plaasvind 90 dae nadat munisipale rade se termyn van vyf jaar verstryk het.

Die termyn verstryk vroeg in Augustus.

Dlamini-Zuma het Dinsdag op ’n mediakonferensie gesê sy het regsadvies ontvang dat nóg sy, nóg die OVK by magte is om die verkiesing uit te stel omdat die hof moet bepaal of die verkiesing sal voortgaan of nie.

“Deur die verkiesing te proklameer, kom ek my grondwetlike plig na,” sê Dlamini-Zuma.

Die OVK het reeds aangedui dat hy van plan is om die Grondwethof oor die kwessie te nader en sal glo Woensdag meer besonderhede daaroor gee.

Volgens Dlamini-Zuma kan sy nie vooruitloop of die hof die uitstel van die verkiesing sal toestaan nie omdat die situasie tans “ongekarteerde terrein” is.

“Ons word in die gesig gestaar deur buitengewone omstandighede wat die opstellers van die Grondwet nie kon voorsien het nie.”

Ons word in die gesig gestaar deur buitengewone omstandighede wat die opstellers van die Grondwet nie kon voorsien het nie.

Die voormalige adjunkhoofregter Dikgang Moseneke het in sy verslag, wat verlede week deur die OVK aanvaar is, bevind dat die munisipale verkiesing in die huidige omstandighede nie “redelik regverdig” kan geskied nie.

Hy het bepaal dat die verkiesing nie later nie as Februarie 2022 moet plaasvind.

Intussen het die ANC, wat die uitstel van die verkiesing steun, die proklamasie van die verkiesingsdatum verwelkom omdat dit glo die weg vir die OVK se aansoek by die konstitusionele hof baan.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het in ’n verklaring benadruk dat die Moseneke-verslag ook die uitwerking van die pandemie in ag geneem wat betref die registrasie van kiesers, die vermoë van partye om kandidate te kies en om verkiesingsveldtogte te hou.

Hy het bygevoeg dat die ANC ’n inset sal lewer om die OVK se aansoek aan die hof te steun.

Cilliers Brink, DA-LP, het in ’n verklaring gesê die DA hou voet by stuk dat die verkiesing op 27 Oktober moet plaasvind omdat gemeenskappe onder meer die kans gegun moet word om vir verandering te stem.

“Die fokus is nou op die OVK, wat deur die Grondwet die taak het om gereelde, vrye en regverdige verkiesings te hou,” lui die verklaring.

Brink het ook gesê kiesers moet die beoogde uitstel van die verkiesing teenstaan en dat die DA “en kiesers landwyd” gereed is om na die stembus te gaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.