Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Promosie
Dít is waarom suiwer heuning onontbeerlik is

Heuning, veral suiwer heuning, hou vele voordele in. Danielle Daniëls het by Helena van der Westhuizen meer gaan uitvind oor suiwer heuning. 

Baie van ons is versigtig vir bye, maar die heuning wat hulle vervaardig is so goed vir ons en hou verskeie gesondheidsvoordele in. Doen jouself dus ’n guns deur die bye hul gang te laat gaan en oor te skakel na die gebruik van suiwer heuning.

Waarom suiwer heuning?

Helena van der Westhuizen, eienaar van Simply Bee, sê suiwer heuning het baie gesonde eienskappe. Die onsuiwer weergawe is waarskynlik ’n mengsel van stroop en heuning en niks beter as suikerstroop nie – iets wat veral nie goed vir diabete is nie.

Heuning kan vir gesondheid- en skoonheidsdoeleindes ingespan word en is boonop baie gesonder as suiker. Foto: ISTOCK

“Pasteurisasie is die proses wat rou heuning deurgaan om te keer dat dit versuiker of kristalliseer. Hoewel hierdie proses kristallisasie voorkom, veroorsaak die hoë hitte dat al die goeie bakterieë wat ons so nodig het om ons immuunstelsel optimaal te laat funksioneer, beskadig word.

“Kommersiële heuning is ook gewoonlik eenvormig in kleur en smaak. Rou heuning is egter nooit dieselfde kleur en smaak nie. Dit kristalliseer ook omdat dit heuning se natuurlike preserveringsproses is.”

Helena verduidelik hoe dit werk:

“Heuning se kleur en smaak word beïnvloed deur die soort plante wat deur die by besoek word in haar seisoenale bedrywigheid van stuifmeel- en nektarversameling. Hierdie proses is al baie verfyn deur byeboere wat net wag vir die regte tyd om ’n sekere geur heuning te oes, byvoorbeeld bloekom, sonneblom, Bosveld, lemoen, makadamia ensovoorts, wat almal in kleur, geur en digtheid van mekaar verskil.”

Ses voordele van heuning

  • Volgens Helena is hierdie van die voordele van suiwer heuning:
  • Suiwer heuning bestaan uit minerale soos natrium, kalium, magnesium, kalsium, yster, sink, vitamien A, B en C.
  • Dit is antisepties en fantasties vir die behandeling van brandwonde.
  • Dit is ’n sellulêre hernuwer.
  • Dit is ’n serebraal herstellende middel.
  • Heuning en kaneel behandel baie mediese probleme soos maagsere, aknee en hoë bloeddruk. Daar is vele boererate wat die goeie eienskappe van dié mengsel benut.
  • Heuning sit vog terug in die vel in kosmetiese produkte.
  • Heuning is baie gesonder om in jou kos te gebruik as suiker.

Hoe toets jy of heuning wel suiwer is?

Helena sê jy kan ’n stukkie brood in heuning doop en as die brood na agt of 10 minute ferm is en nie waterig nie, is die heuning suiwer.

“Nog ’n manier is om ’n lepel heuning in koue water te sit en as jy dit roer en dit los nie onmiddellik op nie, is dit suiwer. Baie mense sê heuning wat vinnig loop, is nie suiwer nie, maar dit is ongelukkig nie waar nie. Koue en hitte sal ook die heuning vinniger of stadiger laat loop.”

Waarvoor suiwer heuning alles gebruik kan word

Suiwer heuning word in baie gesogte restaurante in verskillende geregte gebruik, want heuning is die enigste kossoort wat nooit bederf nie, sê Helena.

“Brandwonde word ook nog gereeld met heuning behandel, want dit sit vog terug in die vel en herstel skade. Heuning word ook in baie salwe gebruik weens die genesingswaarde daarvan.

“In kosmetiese produkte sal jy ook heuning vind. Dit word al eeue lank in skoonheidsprodukte en geneesmiddels gebruik.

Heuning help ook om vog aan te trek en binne te hou, wat help om die vel bevogtig en elasties te hou.

“Wie ken nie die ou boereraat van heuning vir keelseer, of as jy ’n seertjie in jou mond of op jou lippe het nie? As jy ooit jou tong met warm tee, koffie of sop verbrand, neem onmiddellik ’n teelepel heuning, hou dit op die brandplek vir so lank as wat jy kan, en siedaar, binne ’n paar minute is die brand weg.”

Helena sê heuning is ryk aan vitamiene, mikronutriënte, ensieme en antioksidante, en het antibakteriese en genesende eienskappe.

“Nie net help die antioksidante om veroudering van die vel te voorkom nie, maar die antibakteriese eienskappe help met die verligting en genesing van aknee. Heuning help ook om vog aan te trek en binne te hou, wat help om die vel bevogtig en elasties te hou.”

Hoe lank jy suiwer heuning kan hou vanaf die gekoopte datum

Helena sê suiwer heuning is die enigste kosproduk wat nooit bederf nie.

“Selfs al het dit versuiker, het dit nie verval nie, dit is net nog ’n teken van suiwerheid. Heuning is die natuur se supervoedsel en is meer as 3 000 jaar gelede deur die Egiptenare verbou. Die produk is so hoog geag dat flesse daarvan saam met afgestorwenes begrawe is vir gebruik in die hiernamaals vir die helende eienskappe van heuning, wat toe al bekend was. Daardie heuning is weer na 3 000 uit die grafte verwyder en dit was net versuiker, maar nog steeds suiwer heuning.”

Stoor dit só

“Ek beveel altyd vir mense aan om hul suiwer heuning teen kamertemperatuur of warmer te berg. Net nie bo 45 °C nie, want dan kan die goeie eienskappe afgebreek word en onder 20 °C sal dit dalk vinnig versuiker,” waarsku Helena.

Probeer dié wenresepte vir algemene kwale

Helena sê heuning is ’n wonderkuur vir verskeie siektetoestande:

Heuning en kaneel

Hoewel heuning soet is, het wetenskaplikes bevind dat dit nie nadelig vir diabete is nie, mits dit in die regte hoeveelhede geneem word.

Artritis/rumatiek

Meng 2 liter gebottelde water met 2 eetlepels heuning, 2 eetlepels kaneel, 1 eetlepel borrie, 1 eetlepel rooipeper en 1 eetlepel gemmer. Bêre die mengsel in die yskas. Daar word beweer dat gereelde gebruik hiervan chroniese artritis kan genees. Skud die bottel en drink ’n groot sluk in die oggend en aande vir goeie resultate. Dit is goed vir alle gewrig-, been- en enkelpyne, seer hande en skouers, hoë cholesterol, hoë bloeddruk, rustelose bene en slapeloosheid.

Aknee en puisies

Meng 3 eetlepels heuning en 1 teelepel kaneel tot ’n pasta. Smeer aan puisies net voor slapenstyd en spoel die volgende oggend met louwarm water af. Indien dit vir twee weke daagliks gedoen word, sal die puisies verdwyn.

Gewigsverlies

Resep vir vetafbreking: Meng 1 teelepel heuning en ’n ½ teelepel kaneelpoeier met een koppie kookwater en drink dit soggens op jou nugter maag en saans voor jy gaan slaap. Hierdie drankie voorkom blykbaar dat vet in die liggaam opbou, al eet jy ook baie.

Keelseer en mangelontsteking

Meng heuning en kaneel met ’n bietjie water en drink.

Winde en slegte spysvertering

As jy opgeblaas voel van slegte spysvertering, neem heuning en kaneel om verligting te bring. Eet elke oggend op ’n nugter maag en in die aand voordat jy gaan slaap ’n ½ teelepel kaneel gemeng met 1 teelepel heuning (verkieslik rou heuning). Drink ’n koppie warm water direk daarna.

Slapeloosheid

Maak ’n drankie van 10 ml heuning, 250 ml warm melk en 5 ml fyn kaneel.

Verkoue en sinus

Neem 1 eetlepel louwarm heuning met ’n ½ teelepel kaneelpoeier daagliks vir drie dae. Dit sal verkoue opklaar, help vir kroniese hoes en maak die sinusse oop.


Meer oor:  Heuning  |  Kos  |  Bye  |  Natuur  |  Gesond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.