Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Promosie
Magnus Heystek: Die ware koste van orkaan Zuma

Die verwoesting wat oudpres. Jacob Zuma gesaai het, gaan nie oornag reggestel word nie. Daarom moet beleggers mooi dink oor die pad vorentoe, skryf Magnus Heystek.

  

Magnus Heystek, direkteur van Brenthurst Wealth.

Die burgers van antieke Rome moes sowat sewe dae lank na keiser Nero se vioolspelery luister terwyl hul stad gebrand het.

Daarteenoor moes Suid-Afrikaners die ekonomiese plundery van die land byna tien jaar lank verduur, en oudpres. Jacob Zuma het geen delikate instrument bespeel terwyl hy op ons politieke verhoog gepronk het nie – hy het gevra dat hulle sy masjiengeweer bring.

Ná al die vernietiging, slagting en plundery het hy die vermetelheid om te sê, soos aangehaal deur Timeslive: “Ek bly trots op wat die land die afgelope dekade bereik het. Kon ons meer gedoen het? Ja. Kon dit beter gewees het? Ja. Was dit ’n vermorste dekade? Nee.”

Byna alle finansiële maatstawwe in die land het onder Zuma se ANC dramaties agteruitgegaan.

Die skade is in sommige gevalle onomkeerbaar.

In die meeste ander gevalle sal dit ’n kolossale poging deur die regering en private sektor verg om die skade aan die noodsaaklike instellings van SA Ingelyf om te keer.

Soos Barney Mthombothi, die Sunday Times-rubriekskrywer en oudkollega, onlangs geskryf het: “Hy het in sy negejarige bewind soveel verwoesting gesaai dat ’n mens nie eens daaroor wil dink nie.”

Ons moet egter nadink oor die omvang van die skade wat orkaan Zuma, ’n eenmens-sloopgewig, aangerig het.

Teen dié agtergrond is dit belangriker as ooit vantevore dat jy professionele raad vir jou persoonlike finansiële plan kry.

Die lewenstekens van die ekonomie – soos ekonomiese groei, buitelandse investering, werkloosheid, die geldeenheid, eiendomswaardes, staatskuld, die begrotingstekort, die prestasie van die JSE, opbrengste op aftreefondse – toon almal simptome van ’n finansiële tsoenami wat stadig begin het, maar spoed opgetel en na al die uithoeke van ons pragtige land versprei het.

Die afgelope vier jaar of so het ek dit dikwels gewaag buite die warm, wollerige sirkel van sonskyn- finansiële joernalistiek. Jy ken dit – die alles-sal-regkom-skool.

Die afgelope tien jaar was baie sleg vir plaaslike beleggers en optimisme oor die toekoms is dalk misplaas, reken Magnus Heystek. Foto: Pixabay

Vir my sondes is ek gebrandmerk as “negatief”, “sinies”, swak ingelig en die beste van alles: ’n “finansiële pornograaf”, soos ’n kollega in die beleggingswêreld my genoem het.

Die klein groepie ekonome en finansiële kommentators wat van tyd tot tyd gewaarsku het oor ons ekonomiese agteruitgang werk óf vir hulself óf vir klein batebestuursfirmas. Ek sou Mike Schüssler, Dawie Roodt, Russell Lamberti en die landbou-ekonoom Fanie Brink hierby insluit.

Kom ons kyk na van die belangrikste ekonomiese syfers oor die tydperk toe Zuma se ANC in beheer was:

  • Werkloosheid het van 22,5% in 2008 tot 27,1% einde 2018 gestyg. Teen die derde kwartaal van 2018 was die getal werkloses 1,6 miljoen mense.
  • Totale staatskuld as ’n persentasie van die nominale bruto binnelandse produk (BBP) het opgeblaas van ’n laagtepunt van 26,5% in 2008 tot presies dubbeld dit, 53%, teen einde 2017. Fin24 het in Oktober 2018 berig die regering se bruto leningskuld gaan na verwagting teen 2021-’22 tot 58,5% van die BBP versnel, vanaf 55,8%. Die styging word grootliks aan die wisselvallige rand toegeskryf.
  • Die invordering van belasting is onder aansienlike druk. In Desember 2018 was maatskappybelasting 6,6% laer as ’n jaar gelede.
  • ’n Verslag deur Power Optimal wat in 2018 uitgereik is, toon dat Eskom se kragtariewe oor tien jaar met sowat 356% gestyg het terwyl inflasie oor dieselfde tydperk 74% was.
  • Die BBP per capita het van $8 066 per jaar in 2011 tot $6 268 in 2017 gedaal.
  • Die Suid-Afrikaanse ekonomie is tans op sy traagste groeitrajek sedert 1945.
  • Die huismark is al tien jaar lank in ’n beermark. In reële waarde het huispryse met 22% geval. In die derde kwartaal van 2018 het nuwe aansoeke om huislenings met 16% geval.
  • Gemiddelde aftreefondse klop nou al oor tydperke van een, drie, vyf en binnekort sewe jaar nie inflasie nie.
  • Die jaaropbrengs op die JSE is die laagste of tweede laagste as dit vergelyk word met die S&P 500, MSCI World Index, MSCI Japan en MSCI Europe. Teen soortgelyke lande – soos gemeet aan die MSCI Emerging Market – vaar die JSE nou al sedert Desember 2015 byna twee persentasiepunte swakker. Vir dié wat al vergeet het: Zuma het Nhlanhla Nene op 9 Desember 2015 as minister van finansies met die LP Des van Rooyen vervang.
  • Meer as R400 miljard is oor die afgelope drie jaar aan die land se aandele- en effektemark onttrek.

Ons moet hieroor dink, want die meeste Suid-Afrikaners is deur die finansiële tsoenami verswelg wat deur die Zuma-jare ontketen is. Armoede is al hoe sigbaarder op elke straathoek; in leë rugby- en sokkerstadions; in kwynende gholf- en rolbalklubs. Die lys is byna oneindig.

Teen dié agtergrond is dit belangriker as ooit vantevore dat jy professionele raad vir jou persoonlike finansiële plan kry.

Hoewel pres. Cyril Ramaphosa verskeie inisiatiewe begin het in ’n poging om dinge om te keer, is die stand van sake sodanig dat dit ’n baie lang tyd sal duur om van orkaan Zuma te herstel.

Klik hier vir 'n reeks seminare wat Brenthurst Wealth in Junie in samewerking met Rapport en Momemtum aanbied. Magnus Heystek, ekonoom Mike Schussler en Beleggingsdirekteur van Momentum Wealth International, Glyn Owen, sal die stand van sake bespreek en hul insigte met beleggers deel.

  • Magnus Heystek is die beleggingstrateeg en ’n direkteur van Brenthurst Wealth Management. Brenthurst, ’n finansiëledienstefirma wat onder meer beleggingsbestuur, boedel- en belastingbeplanning doen, het vir dié artikel betaal. E-pos hom by magnus@heystek.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.