Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Promosie
Magnus Heystek: Tyd om oogklappe te verwyder

Dis verstommend dat daar in dié dae steeds gepraat word van buitelandse beleggings asof dit iets is wat ten alle koste vermy moet word. Dis “gevaarlik”, dis ’n “swart gat wat jou beleggings gaan insuig” en adviseurs wat buitelandse beleggings aanbeveel, het “sinistere motiewe” wat ten alle koste vermy moet word.

   

Magnus Heystek sê: 'Die wêreld kyk en is bekommerd. Neem jou bates landuit.'

Dié soort kommentaar – en glo my, daar is baie variasies daarvan – is myns insiens gegrond op onkunde, maar word dalk steeds beïnvloed deur amper 40 jaar se isolasie van buitelandse beleggings wat teweeggebring is deur die apartheidsera se sanksies en valutabeheer.

Beheer oor buitelandse blootstelling

Van 1960 tot 1997 is Suid-Afrikaners verbied om enige buitelandse bates te bekom as individue. Selfs maatskappye het kwaai gesukkel om toestemming van die regering te kry ten einde buitelandse beleggings te doen.

Ek herinner my aan ’n onderhoud baie jare gelede met wyle dr. Anton Rupert, stigter van die internasionale Rembrandt- en Richemont-groep maatskappye, toe hy vertel het hoe hy gesukkel het om die betreklik klein bedrag van £50 000 in die vroeë 1960’s oorsee te kry vir die eerste stappe ten einde beleggings te doen in die internasionale tabakmaatskappy British American Tobacco en jare daarna in die maatskappye wat bekend is vir luukse goedere soos Cartier, Dunhill en ander, wat vandag honderd maal groter en winsgewender is as die plaaslike belange van Richemont.

Enige Suid-Afrikaner wat uitgevang is dat hulle op ’n onwettige manier buitelandse valuta en bates opgebou het, is strafregtelik vervolg – baie het in die tronk beland.

Een van die gevolge van dié tydperk was dat Suid-Afrikaanse beleggingshuise letterlik met moord weggekom het met die soort beleggingsprodukte wat hulle aan plaaslike beleggers kon bemark, want daar was geen buitelandse mededinging nie. Die gryskoppe onder ons weet maar alte goed hoe die Drie Grotes – Sanlam, Old Mutual en Liberty – produkte soos langtermyn- polisgegronde uittreeannuïteite en uitkeerpolisse aan onkundige beleggers gesmous het. Dié produkte se koste en kommissiestrukture was gekoppel aan die termyn van die belegging: Hoe langer die termyn hoe beter.

Mediadekking deur myself en later deur Bruce Cameron wat gewys het hoe swak dié produkte se opbrengs was, het daartoe gelei dat die meeste van die maatskappye boetes van etlike miljarde rande moes betaal ten einde beleggers te vergoed. Hoe vinnig vergeet ons nie!

Vandag is daar nie ’n kat se kans dat dié soort produkte op die mark geplaas sal word nie.

Beleggingseminare

Brenthurst Wealth, in samewerking met Rapport en Momentum, bied in Junie drie beleggingseminare aan waar die stand van sake ná die verkiesing en verwagtinge van stadiger ekonomiese groei wêreldwyd bespreek sal word.

Magnus Heystek, direkteur en beleggingstrateeg van Brenthurst, die ekonoom Mike Schüssler van Economists.co.za, en Glyn Owen, beleggingsdirekteur van Momentum Wealth International, sal hul insigte deel.

Seminare word aangebied in Stellenbosch (10 Junie), Century City, Kaapstad (11 Junie) en Pretoria (13 Junie).

Klik om te bespreek: Brenthurst Seminare.

Eers in 1997 het die tesourie toestemming gegee dat plaaslike beleggers so ’n bietjie geld oorsee kon neem. Aanvanklik was dit R200 000 per person, toe R400 000, en so het dit stelselmatig gestyg. Vandag kan jy tot R1 miljoen landuit uitneem in die vorm van die enkel- diskresionêre toelae van R1 miljoen per belastingbetaler. Die aansoek by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is outomaties en geskied baie vinnig. Dit het die grondslag gevorm tot dusver van die meeste mense se aansoek om geld na die buiteland te neem.

Dan kan beleggers tot en met R10 miljoen per kalenderjaar uitneem in die vorm van die buitelandse beleggingstoelae, maar dié aansoek moet deur sowel die SAID as die Reserwebank goedgekeur word. In sommige gevalle kan dit lei tot ’n oudit van die aansoeker se geldsake.

Is dit altyd ’n wen?

Die uitneem van geld vir beleggingsdoeleindes is nie altyd noodwendig suksesvol nie. In die termyn 1997 tot 2002 was dit voordelig om geld landuit te neem, maar van 2002 tot 2008 was dit weer beter om geld plaaslik te hou danksy die goeie vertoning van die plaaslike beurs van 2002 tot 2007, wat gepaardgegaan het met ’n relatief power termyn van veral die Amerikaanse mark oor dieselfde tydperk – grootliks as gevolg van die sogenaamde dotcom-borrel wat gebars het.

Die afgelope tien jaar het buitelandse bates – veral aandele – Suid-Afrikaanse bates met ’n kortkop geklop. Oor sewe, vyf, drie en een jaar het die verskil algaande groter en groter geword.

Plaaslike beleggers wat nie geld regstreeks in oorsese markte gehad het nie – veral oor die afgelope vyf jaar – het droëbek gesit en kyk hoe ander markte, veral die VSA, uitskiet in ’n reuse-ontploffing in tegnologiemaatskappye soos Facebook, Amazon, Apple, Netflix en Google, ook bekend as die FAANG-aandele.

En voordat mense nou vinnig sê dat dié groepering aandele aan die vooraand van nog ’n borrel staan, pasop. Die legendariese belegger Warren Buffett het bekend gemaak dat Berkshire Hathaway sowat 2% van Amazon se aandele gekoop het en dat die groep verkeerd was om nie baie jare gelede in Google te belê nie.

Die JSE, daarenteen, het die afgelope vyf tot sewe jaar kwaai gely onder die impak van staatskaping, korrupsie, beleidsonsekerheid en -wisselvalligheid, asook globale faktore soos die ineenstorting van die hulpbronsiklus.

Beleggers kan nie verwag dat ’n land se beurs welvaart kan produseer terwyl maatskappye padgee en die res erg sukkel om wins te maak nie.
Magnus Heystek

Buitelandse beleggers het oor die afgelope vyf jaar meer as R500 miljard uit die JSE se aandele- en kapitaalmarkte onttrek. Die eindresultaat tot dusver was een van die swakste tydperke in baie dekades, met opbrengste wat inflasie skaars kon klop op die JSE.

Op aftreefondse – in die vorm van pensioenfondse, voorsorgfondse, uittreeannuïteite en bewaringsfondse – was die impak nog groter. Bitter min fondse kon oor vyf jaar die inflasiekoers klop.

Die hoofrede was die impak van regulasie 28, ’n regulasie van die tesourie wat bepaal dat slegs 30% van die geld in aftreefondse buiteland toe kan gaan. Dié beperking skep vir die beleggingsbedryf – ’n reusebedryf met totale bates van sowat R8 700 miljard – ’n groot probleem. Die meeste, indien nie al die fondse nie, het reeds hul buitelandse kwota gebruik. Derhalwe maak dit nie sin om meer buitelandse beleggings aan te beveel nie, want daar is nie meer “voorraad” nie.

SA ’n klein vissie in ’n groot poel

Ek is ook baie seker dat plaaslike beleggingshuise baie bekommerd is oor die groot bedrae kapitaal wat die land uitvloei. Akkurate syfers is nie bekend nie, maar na wat verneem word, bedra dit glo honderdmiljarde rand wat nou al landuit is in die afgelope paar jaar, soos plaaslike politieke en sake-onsekerheid toeneem.

Dié beleggingshuise oorheers wel in die plaaslike mark, maar op wêreldmarkte is hulle piepklein vergeleke met die internasionale grotes – BlackRock, Vanguard, Fidelity, Franklin Templeton en Schroders, om ’n paar van hulle te noem. Elkeen van dié maatskappy bestuur op hul eie meer bates as die hele Suid-Afrikaanse beleggingsmark.

Net soos wat Hollandse kaas, Franse wyn, Duitse toerusting en selfone van Suid-Korea of die VSA daagliks deur miljoene Suid-Afrikaners gekoop word, behoort buitelandse beleggingsname soos BlackRock, Fidelity, Schroders en Franklin Templeton ewe vryelik gebruik te word deur plaaslike beleggers.
Magnus Heystek

Wanneer ’n mens die buitelande beleggingsarena betree, besef ’n mens eers werklik hoe klein die plaaslike mark is, en hoe werklik min diversifisering beleggers kry deur net op een beurs te konsentreer.

Daar is ’n argument wat die rondte doen dat JSE-maatskappye genoegsame buitelandse blootstelling verskaf deurdat sowat 50% tot 60% van verdienste in die buiteland verdien word. Dis ’n halwe waarheid. Die meeste van dié maatskappye sukkel met plaaslike faktore soos Eskom, plaaslike arbeidstoestande, politieke onsekerheid, swart ekonomiese bemagtiging en dies meer.

Vanuit daardie perspektief is Suid-Afrika die “swart gat” wat jou geld gaan “opsuig”. Die opbrengs vir ’n buitelandse belegger die afgelope vyf jaar was ’n ronde zero in dollarwaarde!

Die afgelope sewe jaar was dit ’n groot fout om nie beduidend meer buitelandse bates in te sluit in plaaslike portefeuljes nie.

As jy van plan is om in die toekoms te emigreer, behoort jy al jou geld oorsee te belê. Foto: iStock

Hoeveel buitelandse blootstelling is optimaal?

Vir sommige beleggers is dit 100% en vir ander is dit weer nul.

Indien ’n belegger en sy gesin planne het om te emigreer of in die buiteland af te tree, is dit heel waarskynlik 100%.

Vir iemand wat nie sulke planne het nie en plaaslike kontant nodig het om ’n inkomste te genereer, is syfer daarenteen nul.

Daar is ’n wisselvalligheid in valutamarkte wat nie geïgnoreer kan word nie. Dis egter ’n klein prys om te betaal vir die welvaartskepping wat oor tyd deur oorsese beleggingsmarkte gebied word.

Suid-Afrika skep nie meer welvaart nie. Die plaaslike eiendomsmark is besig om in duie te stort as gevolg van onsekerheid oor die regering se grondbeleid. Plaasgrond se pryse het glo die afgelope jaar met meer as 30% tot 40% gedaal. Laat ek nie eens skryf oor die prys van buffels en ander voorheen skaars wildsoorte nie.

Beleggers kan nie verwag dat ’n land se beurs welvaart kan produseer terwyl maatskappye padgee en die res erg sukkel om wins te maak nie.

Die enigste alternatief – en dis glad nie so skrikwekkend soos sekeres loop te vertel nie – is buitelandse diversifikasie. Net soos wat Hollandse kaas, Franse wyn, Duitse toerusting, vrugte van Spanje, selfone van Suid-Korea of die VSA daagliks deur miljoene Suid-Afrikaners gekoop word – sonder dat hulle aangeval word – behoort buitelandse beleggingsname soos BlackRock, Fidelity, Schroders en Franklin Templeton ewe vryelik gebruik te word deur plaaslike beleggers.

  • Magnus Heystek is die beleggingstrateeg en ’n direkteur van Brenthurst Wealth. Dié artikel is geborg deur Brenthurst, ’n finansiëledienstefirma wat onder meer beleggingsbestuur, boedel- en belastingbeplanning doen, het vir dié artikel betaal. E-pos hom by magnus@heystek.co.za.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.