Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Promosie
Magnus Heystek: Haal die rooskleurige bril af

Die Suid-Afrikaanse aftreebedryf is mal daaroor om mense bang te praat oor hoe sleg hulle in hul oudag daaraan toe sal wees. Hulle hou daarvan om die statistieke tot vervelens toe te herhaal dat slegs 6% van die bevolking “gemaklik” sal kan aftree – wat dít ook al beteken.

  

Magnus Heystek, direkteur van Brenthurst Wealth.

Om mee te begin, is die syfer onakkuraat en is dit hoogstens op ontwikkelde lande soos Australië en Kanada van toepassing, nie op Suid-Afrika nie. Selfs ’n oppervlakkige ontleding van Suid-Afrika se demografie (meer as 57,7 miljoen mense), mense met werk (16,5 miljoen) en die getal mense wat inkomstebelasting betaal (6 miljoen) sal toon die syfer is baie nader aan 3% van die bevolking.

Maar selfs dié syfer is dalk hoog, deels veroorsaak deur die aftreebedryf self, bygestaan deur die voorskriftelike (en beperkende) beleggingsriglyne wat aan spaarders opgelê word deur regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse.

Regulasie 28 is riglyne wat deur die nasionale tesourie vasgestel word, oor die jare heen beïnvloed deur oormatige valutabeheer. Benewens ander voorskrifte beperk regulasie 28 fondsbestuurders en individuele beleggers se blootstelling aan oorsese bates in die jare wanneer hulle vir hul aftrede moet spaar.

Soos enigeen in die beleggingsbedryf weet, het buitelandse markte die afgelope jare jaarlikse opbrengste van dubbeld en in die geval van die VSA selfs drie keer so veel as die plaaslike aandelebeurs opgelewer.

Om die waarheid te sê, die plaaslike beurs het die afgelope vyf jaar gesukkel om inflasie oor alle tydperke te klop.

Hoe lank nog gaan die plaaslike batebestuursbedryf en sy duisende raadgewers die olifant in die vertrek ignoreer?

Elke jaar vir die afgelope vier, vyf jaar hoor ek hoe beleggingsreuse soos Old Mutual, Coronation, Sanlam, Allan Gray en ander daardie geykte beroep op beleggers doen: “Bly belê, onthou dat aandele inflasie op lang termyn sal klop, kontant nié.”

Ons is nou in die vyfde jaar waarin kontant grootliks aandele geklop het, en nie met ’n klein marge nie, maar met ’n massiewe een.
Magnus Heystek

Ons is nou in die vyfde jaar waarin kontant grootliks aandele geklop het, en nie met ’n klein marge nie, maar met ’n massiewe een.

Die hartseer werklikheid is dat die JSE kwalik die inflasiekoers geklop het die afgelope vyf jaar, terwyl alle kategorieë vir aftreefondse (lae, medium- en hoë blootstelling aan aandele) onderwater is teenoor inflasie.

’n Mens kry die indruk soveel geld vloei by dié batebestuurders uit dat hulle desperaat by hul kliënte pleit om nie méér geld te onttrek om dit oorsee te belê nie. Na ons mening is dit nie goeie raad nie. 

Hoe lank nog gaan die plaaslike batebestuursbedryf en sy duisende raadgewers die olifant in die vertrek ignoreer? Foto: Shutterstock

’n Diepte-ontleding van Suid-Afrika se haglike ekonomiese en fiskale situasie wys dat die rooskleurige bril waardeur beleggingsreuse voorspellings maak, met heelwat omsigtigheid behartig moet word.

Daar is ’n baie sterk saak uit te maak om in kontant belê te bly, of in fondse met hoë blootstelling aan kontant, eerder as om te val vir die lokaas dat die volgende groot opswaai net om die draai is.

Groot batebestuursfirmas sal niemand óóit aanbeveel om na kontant te skuif nie om ’n eenvoudige rede: gelde. Die gelde wat hulle in multibate-effektetrustfondse verdien, is tot vier keer meer as die gelde vir kontantfondse.

Beleggers wat na kontant skuif, sal beteken batebestuurders verdien aansienlik minder gelde, bonusse en selfs bevordering. Loopbane word gebou op multibate-fondse, nooit in kontantfondse nie.

Langdurige kliënte van Brenthurst weet ons beveel omsigtigheid aan wanneer dit by plaaslike beleggingsfondse kom.

Ons eie twee fonds van fondse – die Brenthurst Cautions Fund of Funds en die Brenthurst Balanced Fund of Funds – het albei hoë blootstelling aan kontant en effekte. Ons sien eenvoudig nie ’n skielike verbetering in die vooruitsig vir die plaaslike aandelebeurs nie; om die waarheid te sê, ons bly op kort termyn uiters negatief.

Net so het ons oor die afgelope vyf jaar baie van ons kliënte se geld oorsee geskuif, in sommige gevalle met skouspelagtige resultate. Ons sien steeds beter beleggingsvooruitsigte vir kapitaal oorsee as in die plaaslike mark.

Dis als goed en wel om vir mense te sê hulle moet “belê bly op lang termyn” wanneer dit nie jou geld is nie. Baie beleggers kan nie ’n uitgerekte tydperk van gebrek aan prestasie verduur soos ons die afgelope vyf jaar beleef het nie.

’n Belegging in ’n wêreldindeks het meer as dubbeld die opbrengs opgelewer as die JSE. Die opbrengs op die S&P 500-indeks was drie keer meer as dié van die JSE. Die JSE het ook swakker gevaar as die MSCI-indeks van ontluikende lande, wat die JSE vantevore oor baie dekades geklop het.

As ’n mens die plaaslike beleggingsbedryf moes glo, is Suid-Afrika die beste plek ter wêreld om jou geld te belê, wat eenvoudig nie waar is nie. Dis hoekom ons soms verstom is oor die optimistiese vooruitskattings deur die plaaslike batebestuursbedryf.

Ons onafhanklike ontleding van plaaslike ekonomiese toestande verskil hemelsbreed van die hopeloos optimistiese voorspellings van baie van ons land se grootste batebestuursfirmas. 

Hier is van die probleme wat sentraal staan tot ons negatiewe vooruitsig vir die JSE:

  • Buitelandse geld vloei nou al sedert 2014 konstant uit die JSE se aandele- en effektemark uit. Die totale uitvloei teen einde Januarie 2019 is al naby R500 miljard. Die verkope het in 2014 begin en onverpoosd voortgeduur, met die uitsondering van ’n klein invloei in Oktober en November 2017 wat met Ramaforie verband hou. Dit het die afgelope maande selfs versnel weens ’n algehele onttrekking aan ontluikende markte en stygende rentekoerse wêreldwyd. Maar dis grootliks die gevolg van swak en dikwels onlogiese politieke besluite en die swak bestuur van die ekonomie. Die massiewe kapitaalvlug is ’n groot teenwind vir die JSE en verdere dalings lê voor, tensy ’n dramatiese ommekeer plaasvind. Gegrond op die ervaring van die afgelope vier jaar lyk dit onwaarskynlik, veral in die lig van die onsekerheid wat die algemene verkiesing op 8 Mei skep.
  • Maatskappye se wins is onder erge druk. Meer as 70% van die top-40-maatskappye se resultate was swakker as wat ontleders verwag het die afgelope 12 maande, volgens Thomson Reuters.
  • Staatskaping. Die finansiële koste van staatskaping kan tot R1 500 miljard wees, ekonomiese groei kon tussen 30% en 50% hoër gewees het daarsonder, sowat R500 miljard meer belasting sou ingevorder gewees het en 2,5 miljoen meer poste sou geskep gewees het, volgens die Universiteit Stellenbosch se Buro vir Ekonomiese Ondersoek. Die optimistiese voorspellings vanuit die batebestuursbedryf ignoreer blykbaar aspris dié droewige statistieke.
  • Onteiening. Die vraagstuk van grondonteiening sonder vergoeding is dalk nie op die oomblik die hoofnuus nie, maar dit sal binnekort terugkeer in die aanloop tot die verkiesing. Dis moeilik om die skade te bereken wat die debat oor onteiening aan die ekonomie aanrig, maar net een aanwyser – die aansoeke vir nuwe huislenings – het in die derde kwartaal van 2018 met 16% gedaal.
  • Die moontlikheid van ’n afgradering deur Moody’s Investors Service duur voort. Hoewel die land dit pas vrygespring het, bly dit ’n risiko. Moody’s is die enigste gradeerder wat Suid-Afrika steeds op beleggingsgraad het. Enige verdere afgradering tot onder beleggingsgraad – rommelstatus – sal tot ’n enorme uitvloei van geld uit Suid-Afrika se aandele- en effektemark lei, wat die geldeenheid selfs verder sal laat verswak.
  • Verdere regulering. Die ANC se verkiesingsmanifes dui op die party se plan om beleggings aan die aftreebedryf voor te skryf. Dit sal nóg ’n slag vir lede van aftreefondse wees, wie se aftreedrome reeds verpletter is deur tien jaar se ekonomiese wanbestuur deur die ANC onder Jacob Zuma.

Al dié faktore en ander – die stand van staatsondernemings, Eskom en munisipaliteite – word oënskynlik heeltemal geïgnoreer deur ons optimistiese voorspellers wat ’n rooskleurige prentjie wil skilder, bang omdat hulle geld wat hulle bestuur, gaan verloor.

Daar’s geen punt om doekies om te draai of te maak of die negatiewe, vernietigende neigings wat Suid-Afrika se beleggingsmarkte beïnvloed, nie gebeur nie, of dat hulle wonderbaarlik uit hul sluimering sal ontwaak.

Die huismark klop nou al byna 11 jaar lank nie inflasie nie, en aandele toon dieselfde neiging die afgelope vyf jaar.

Die enigste twee bateklasse wat konstant inflasie klop, is kontant in die vorm van hoë-inkomstefondse en buitelandse bates. Dit bly steeds ons belangrikste beleggingsaanbeveling om jou aftreekapitaal te beskerm.

  • Magnus Heystek is die beleggingstrateeg en ’n direkteur van Brenthurst Wealth Management. Brenthurst, ’n finansiëledienstefirma wat onder meer beleggingsbestuur, boedel- en belastingbeplanning doen, het vir dié artikel betaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.