Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Promosie
Toyota wen eerste sneltrajek in 2021-Dakar-ren

Toyota Gazoo Racing se Suid-Afrikaanse deelnemers het Sondag in die 2021-Dakar-veldtydren weggespring ná ’n skitterende voorren Saterdag waarin die stof en klippe behoorlik gespat het, en Maandag sy eerste sneltrajekoorwinning aangeteken.

Toyota se Suid-Afrikaanse jaers is: 

* Die Dakar-veteraan van Stellenbosch, Giniel de Villiers, en sy Spaanse navigator, Alex Haro;

* Die dubbele Suid-Afrikaanse veldtydrenkampioen Henk Lategan en sy plaaslike navigator, Brett Cummings; en

* Shameer Variawa met Dennis Murphy langs hom in die navigatorsitplek.

Suid-Afrika se Dakar-veteraan, Giniel de Villiers, wat dié ren in 2009 gewen het, het sommer met die intrapslag reeds sy merk in die 2021-Dakar gemaak nadat hy Sondag 3 Januarie 18de weggespring en tot agtste opgeskuif het. Die noodlot het egter Maandag toegeslaan en hy en sy navigator, Alex Haro, het baie tyd verloor toe hulle verdwaal het.

Die Toyota Gazoo-renspan sluit ook Toyota se 2019-wenner, Nasser Al-Attiyah van Katar en sy Franse navigator, Mathieu Baumel, in. Hulle het Maandag (4 Januarie) Sneltrajek 2 in ’n identiese weergawe van die Toyota Hilux-bakkies waarmee die drie Suid-Afrikaanse jaers jaag, gewen. (Lees die renverslag hier.)

Die Suid-Afrikaanse spanne, wat ook al die tegnici, ’n mediaspan, administratiewe personeel en natuurlik die jaers en navigators insluit, het twee dae ná Kersfees vertrek. Hulle het Maandag 28 Desember in Djedda aangekom, waar hulle al die hindernisse vir toegang tot die Dakar-veldtydren suksesvol oorgesteek het.

Dit het 48 uur se selfafsondering in ’n hotel in Djedda ingesluit, en almal moes eers ’n Covid-19-toets laat doen. Die span moes hulle toe weer afsonder totdat die toetsuitslae twee dae later negatief bevestig is.

“Dit was gewis ’n ander soort Dakar-ervaring,” het Glyn Hall, die Toyota Gazoo Racing-spanhoof, gesê. “Ons moes die motors in die hotel se parkeerterrein aanmekaarsit, aangesien ons nie toegelaat is om die perseel te verlaat nie. Daarna kon ons die motors deur ’n toetslopie sit, waarna die amptelike voorren Saterdag aan die beurt gekom het.”

Al-Attiyah-hulle het die vinnigste tyd in die voorren aangeteken, wat hulle in die eerste plek laat wegspring het. Dit was egter nie sulke goeie nuus nie, aangesien hulle Sondag die pad in die eerste sneltrajek moes “oopry” om die roete te vind, en in die proses erg verdwaal het. Hulle het die wenstreep uiteindelik in die tiende plek oorgesteek. Dit het hulle egter Maandag goed te pas gekom omdat hulle spore kon volg, en hulle het Sneltrajek 2 oortuigend gewen.

Agter hulle het dit heelwat beter met De Villiers en Haro gegaan, wat in die voorren tyd verloor het toe hulle die elektronika wat die versneller beheer, in die ry moes verstel. Dit het egter goed geëindig en hulle het 18de weggespring, maar ander jaers op die roete voor hulle, het stof ’n probleem gemaak. Hulle het ook drie pap bande opgedoen, maar ten spyte daarvan by Al-Attiyah-hulle verbygekom en tot agtste plek opgeskuif.

Nasser Al-Attiyah en Mathieu Baumel in hul Suid-Afrikaans-geboude Toyota Gazoo Racing Hilux in volle vaart in Saterdag se voorren, waarin hulle die vinnigste rentyd opgestel het. Hulle het dit Maandag met hul eerste sneltrajekoorwinning vir die 2021-Dakar opgevolg en is nou derde algeheel.

Maar Maandag het ’n navigasieprobleem hulle erg gekniehalter. Hulle het baie tyd verloor en eers 38ste oor die wenstreep gejaag.

Variawa en Murphy was ietwat teleurgesteld ná die voorren, waarin hulle die 26ste vinnigste tyd aangeteken het, maar het goed met ’n stewige vertoning in die eerste sneltrajek teruggeveg. Hulle het in die 12de plek geëindig, net 58 sekondes agter Al-Attiyah en Baumel. Maandag het hulle egter erg verdwaal en eers 52ste by die eindpunt aangekom.

Die Dakar-nuwelinge Lategan en Cummings, wat die afgelope twee seisoene – 2019 en 2020 – se plaaslike veldtydrenkampioenskap agtereenvolgens gewen het, het ’n puik eerste Dakar-sneltrajek agter die rug, al is hulle ook deur stof, pap wiele en ’n gesoek na die regte roete gekniehalter. Hulle was uiteindelik 14de oor die wenstreep in hul heel eerste Dakar-sneltrajek.

Maandag het hulle egter hul man gestaan en in dieselfde posisie as die vorige dag geëindig ten spyte van die feit dat hulle vroeg reeds lank op ’n sandduin vasgeval het.

Hulle het hul Dakar-veldtog met “die slegste moontlike wegspring” begin, soos Lategan dit ná die eerste sneltrajek gestel het. Hulle het ook drie pap bande opgedoen en twee keer verdwaal, maar nogtans net 18 minute en 31 sekondes agter die sneltrajekwenners geëindig.

“Dit was ’n baie moeilike openingsneltrajek, en ons het baie angstige oomblikke deur die dag gehad,” het Hall Sondagaand gesê nadat die span almal by die eindpunt naby Bisha aangekom het. “Hoewel ons gewis verkies om verder vorentoe te wees, kan ons regtig nie kla ná al die uitdagings van die dag nie, en al vier ons motors is almal in goeie posisies om aan te val.”

Die byeenkoms sluit Sondag 10 Januarie, die eerste helfte van die berugte marathon-sneltrajek vol sand en duine, waar hitte ’n groot probleem kan wees. Die deelnemers moet aan die einde van die eerste helfte oor 737 km (waarvan 471 km die sneltrajek vorm) hul voertuie self versien en vir die tweede helfte voorberei, aangesien niemand anders as die jaers en hul navigators by die oornagpunt in Sakaka toegelaat word nie. Die tweede gedeelte oor 709 km (375 km teen die stophorlosie) neem hulle na Neom, waar die tegniese spanne weer mag inspring.

  • Die tydren bestaan uit altesaam 12 sneltrajekte. Saterdag kry die jaers en navigators ’n effense blaaskans in Ha’il, maar dan spring die tegniese span aan die werk om alle komponente wat in die eerste week hard gewerk het, met nuwes te vervang om die motors vir die marathon-sneltrajek en die res van die roete voor te berei. Hoewel dit nie noodwendig gebeur nie, kan omtrent alles in die motors vervang word, behalwe die enjin en romp self.
  • Nuwe berigte oor die Dakar-ren verskyn elke dag op Netwerk24 sowel as in Media24 se dagkoerante (Beeld, Die Burger en Volksblad).
    Die 2021-Dakar-roete is geheel en al nuut. Die voorren en eerste twee sneltrajekte (Sondag 2 en Maandag 3 Januarie) is nou agter die rug. Die deelnemers jaag vandag in ’n sirkelroete om Wadi ad-Dawasir en vertrek Woensdag na Riyadh, Donderdag na Al Qaisumah en Vrydag na Ha’il waar hulle Saterdag rus. Die ren hervat Sondag op die marathon-sneltrajek na Sakaka, waar die deelnemers self hul voertuie moet versien, en dan na Neom waar hulle aanstaande Dinsdag weer ’n sirkelroete doen. Aanstaande Woensdag jaag hulle na Al Ula en dan na Yanbu, waarna die laaste dag se sneltrajek Saterdag 15 Januarie beslis word wanneer die byeenkoms terug in Djedda eindig. Foto: Verskaf

Nog Toyota-nuus is te kry by:

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.