Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Promosie
VIA: Kyk híérvoor uit in Jan se jongste reeks, verklap vervaardiger

Moenie hierdie week die laaste episode van JAN op VIA (DStv-kanaal 47) misloop nie. Dit is die openingsaand van die restaurant Klein JAN en gaste vlieg van oor die land heen vir dié geleentheid.

As jy die laaste episode van die reeks gemis het,
As jy die laaste episode van die reeks misgeloop het, kan jy die heruitsending op Maandag 20 September om 07:30 kyk.

Ons gesels met Carien Loubser, die vervaardiger van die program, oor haar gunsteling-oomblikke in die reeks. 

1. Klein JAN is geleë op een van Suid-Afrika se vooraanstaande privaat wildreservate, Tswalu Kalahari. Hoe was die reis tot daar? Was dit moeilik om daar uit te kom? 

Ons was omtrent so twee tot drie dae op die pad met al ons toerusting: van ligte tot kameras. En kyk, afstand is een ding, maar die hitte is ’n ander ding! Ons het daar aangekom toe hulle nog besig was om Klein JAN te bou met nie ’n aircon in sig nie. Ons het vrek warm gekry in Desember, maar toe ons Februarie teruggaan om die laaste dele te skiet, was dit nóg warmer. Klein JAN is op ’n reservaat, so oor die algemeen kan enigeen nie net daar aankom nie. Daar moet reëlings getref word en daar is pakkette vir plaaslike mense om soontoe te gaan. Dis regtig baie nice en wat dit vir ons ekstra spesiaal gemaak het, was die road trip soontoe. Dis nie ’n plek waarheen ’n mens gewoonlik gaan nie, so ’n mens moet dit benut. Ons het by verskillende plekke oornag op pad soontoe en by die lekker plekkies langs die pad gestop. My span werk al so 15, 16 jaar saam, so dit het vir my gevoel asof ek saam met my pêlle met vakansie gaan. 

2. Was daar enige uitdagings?

Die uitdaging is maar dat daar niks binne ’n 500 km-radius van jou is nie, so ’n mens moet regtig goed beplan. As iets opraak, kan jy nie net vinnig winkel toe gaan om dit te gaan koop nie. Jy moet regtig ’n plan B en C hê. 

3. Wat was jou gunsteling-episode in dié reeks?

Ek het nogal ’n paar gunsteling-episodes. Die een by die kameelplaas was baie nice en die een waar hy by boer Tina gekuier het. Hulle het lekker gepraat oor die vrou se rol in vandag se tyd. Wie het gesê vrouens kan nie boer nie en mans kan nie kos maak nie? Oe, en dan natuurlik die laaste episode. Die hele reeks het gelei tot die groot oomblik wanneer Klein JAN se deure kan oopmaak. Dwarsdeur die reeks het ons spatseltjies van die restaurant vir kykers gewys, maar in die laaste episode het die volle prentjie bymekaargekom. Wonderlike mense soos Devi Govender, Elana Afrika-Bredenkamp en Zola Nene was daar. Dit was ’n groot, emosionele ervaring. En ten spyte van hierdie tyd waarin ons leef, het Jan deurgedruk en hierdie baanbreker-restaurant geopen. Dit gaan baie vir Suid-Afrika beteken; mense neem internasionaal daarvan kennis. Dit gaan een van daardie destination- kulinêre ervarings wees. Dis beslis ’n plek waarop ons as Suid-Afrikaners trots kan wees; dis werklik nie net ’n restaurant nie. 

4. Het daar enigiets interessants op stel gebeur?

Ons het een dag op ’n duin geskiet en daar was een van daardie groot wewervoëlneste en die volgende oomblik toe kom daar ’n Kaapse kobra daar uitgeseil. Ek dink ’n paar mense van die crew het hul onderbroeke vuilgemaak. Oe, en die episode waar Jan ’n onderhoud met Elvis en Hans, twee lede van die Khoisan-stam, gevoer het, was vir my baie oulik. Dit was vrek warm buite, dit het seker gevoel soos 50 grade en terwyl ons opstel, sê ek vir Elvis en Hans hulle kan onder die enigste koelteboom vir ons wag. Ek dog toe ek’s nice, maar toe sê hulle later vir my hulle kry koud. [lag]

5. Vertel my ’n bietjie meer van een van jou gunsteling-oomblikke gedurende die reeks?

Vir die eerste episode het ons een aand op ’n pan in die Noord-Kaap geslaap en daar was die ongelooflikste sonsondergang. Dit was rooi en oranje en ek het behoorlik gesnak na my asem. Ons het geskiet en die volgende oomblik was daar net oral sterre: Hulle was so baie en het so naby gevoel, dit het gelyk asof ’n mens hulle uit die lug kon pluk. 

6. Wat was die vreemdste ding wat Jan gemaak het?

Gemsbokhart. Kyk, Jan stop dit en rol dit op en maak dit fancy, maar vir my was dit maar ’n bietjie vreemd. 

7. Wat maak hierdie reeks anders as sy vorige reekse?

Die feit dat dit plaaslik is, maak dit besonders. Italië en Frankryk is wonderlik en om daar te skiet is ongelooflik, maar om die reeks hier te skiet, was amper vir my meer incredible, aangesien dit trots Suid-Afrikaans is. Die landskap is so mooi. Dis ook nie ’n deel van die land wat baie mense ken nie, so om dit vir mense te wys en op so ’n mooi manier aan te bied, is regtig ’n spesiale ding. En vir Jan om terug te kom ná soveel jaar en sy talent hier te gebruik en ’n restaurant hier te bou, is werklik spesiaal. 

As jy die laaste episode van die reeks misgeloop het, kan jy die heruitsending op Maandag 20 September om 07:30 kyk.   

Jy kan ook die episode op DStv Catch Up en Showmax kyk. 

Hierdie episodes op VIA maak ons opgewonde vir volgende week (13-19 September):

Konings van kitskos, Dinsdae om 17:00 

Platteland toe, Woensdae om 18:30

Boerediva, Donderdae om 17:00

Volgende week begin die nuwe seisoen van Aansit, Donderdae om 20:00.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.