Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
10 dinge uit die MTBR wat jy moet weet
mtbr

Tito Mboweni, minister van finansies, het sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) Woensdag aan die parlement voorgelê. Hier is tien dinge waarop hy gefokus het en waarvan jy moet weet.

1. Hoër belasting

  

Hoër belasting word vir 2020 oorweeg.

“Beduidende belastingverhogings die laaste paar jaar laat min ruimte toe om inkomste uit belasting te verhoog. Dit gesê, gegewe die omvang van die aanpassing wat nodig is, word bykomende belasting oorweeg,” lui die MTBR.

Geen besonderhede word gegee oor presies wat oorweeg word nie. Die besluit hieroor sal eers uiteengesit word in die begrotingsrede wat in Februarie 2020 gelewer word.

2. E-tol is hier om te bly

   

As daar hoop was dat die regering gaan plan maak met e-tol op Gauteng se snelweë, is dié hoop nou verydel. Mboweni stel dit duidelik dat, hoewel die staat verskeie voorstelle oorweeg het, hy by die besluit hou dat “die verbruiker moet betaal”.

Daar is dus geen sprake daarvan dat e-tol geskrap gaan word nie.

3. Ministers se salarisse bevries

   

Dit is nie net gewone Suid-Afrikaners wat in die toekoms hul sente sal moet omdraai weens lae of geen salarisverhogings nie. Die tesourie het aangekondig dat hy kabinetslede, premiers en lede van die uitvoerende raad se salarisse vir die “afsienbare toekoms” gaan bevries “met ’n moontlikheid dat dit afwaarts aangepas kan word”. Ander stappe wat gedoen word, sluit in:

  • Ampsmotors mag nie meer as R700 000 kos nie. Dit sluit BTW in;
  • ’n Nuwe reëling wat betref selfone en hoeveel daar van die staat geëis mag word, gaan ingestel word;
  • Alle plaaslike vlugte sal in ekonomiese klas bespreek word; en
  • Daar sal nie meer ’n spesiale reistoelae betaal word vir plaaslike en/of internasionale reise nie.

   

4. Ekonomiese groei nou veel stadiger

   

Die tesourie verwag nou dat die ekonomie vanjaar teen net 0,5% gaan groei. Dit is beduidend laer as die 1,5% wat hy nog in Februarie voorspel het.

5. Die staat se beursie is leeg

   

Die staat se beursie is dolleeg. Dit is omdat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) vanjaar ’n enorme R52,5 miljard te min belasting ingesamel het. Die tesourie sê hoë werkloosheid en laer loonverhogings is hoekom minder persoonlike inkomstebelasting ingevorder word. Maatskappye wat laer wins toon, is tot nadeel van die insameling van maatskappybelasting, terwyl verbruikers wat minder bestee, weer beteken die staat verdien minder uit BTW.

Die SAID kry wel ’n addisionele R1 miljard om sy invordering te verbeter en korrupsie teen te werk.

6. Hulp aan staatsondernemings

   

werk
Die ekonomie groei nie vinnig genoeg om werk te skep nie. Foto: Pixabay

Hoewel die staat steeds miljarde aan staatsondernemings soos Eskom, die SAL, SAUK, Denel en SA Express bestee, stel die tesourie dit duidelik dat hulle hul huis in orde moet kry.

Die staat gaan R9,2 miljard van die SAL se skuld oor die volgende drie jaar oorneem.

Wat betref Eskom gaan dié kragreus ’n addisionele R49 miljard in 2019-’20 en R56 miljard in 2020-’21 kry. Van dié hulppakkette is reeds voorheen bekend gemaak.

7. Diep in die skuld

   

Die land is baie diep in die skuld en soos sake nou staan, gaan dit net erger word.

8. Staatsamptenare kos ’n fortuin

 

Sowat 29 000 staatsamptenare plus ander hooggeplaastes het verlede jaar elk ’n salaris van meer as R1 miljoen verdien.

Nadat syfers vir inflasie aangepas is, is bogenoemde meer as dubbel die getal staatsamptenare wat meer as R1 miljoen in 2006-’07 verdien het.

Die gemiddelde salarisverhoging wat staatsamptenare in 2018-’19 ontvang het, was 6,8%, en dus 2,2% hoër as die inflasiekoers. Die gemiddelde salaris wat staatsamptenare ontvang het, het nadat dit vir inflasie aangepas is, die afgelope tien jaar met 66% gestyg.

9. Skuld op rente plaas druk op gesondheid, veiligheid

   

Die staat se enorme skuldlas beteken dat hy al hoe meer rente daarop betaal. Hoe meer rente hy moet betaal, hoe minder geld het hy beskikbaar vir ander dienste soos gesondheid en veiligheid.

Die verwagting is dat teen 2022-’23 die staat meer aan rente op sy skuld gaan bestee as wat hy aan gesondheid en ekonomiese ontwikkeling saam gaan bestee.

Net vanjaar het die staat R204 miljard aan rente op skuld gehoes.

10. Padongelukkefonds

   

Die Padongelukkefonds (POF) gaan na verwagting oor ’n jaar die grootste las op die staat se finansies wees. Die rede hiervoor is dat al hoe meer Suid-Afrikaners van dié fonds eis.

“Eise teen die POF het baie vinniger gegroei as die stygings in die heffing wat op brandstofverkope ingesamel word,” lui die MTBR.

Die heffing beloop 22% van die totale brandstofprys. Na verwagting sal eise in 2019-’20 altesaam R341 miljard beloop terwyl dit na verwagting tot R605 miljard in 2022-’23 gaan styg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.