Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
10 maniere hoe die begroting jou sak raak

Die meeste Suid-Afrikaners kan eintlik ’n sug van verligting slaak oor die nasionale begroting. Belasting op toegevoegde waarde styg nie, daar is geen nuwe “superbelasting” nie en selfs sondebelastings word nie te verskriklik verhoog nie. Hier is die tien belangrikste dinge wat jy moet weet.

Wees gerus: BTW word nie verhoog nie.
Pixabay

1. Jan Taks vat minder van jou verhoging

Belastingkerwe en kortings word vir die eerste keer in jare met meer as die inflasiekoers aangepas, naamlik met 5,2% (teenoor die verwagte inflasiekoers van 4,4% vir 2020). Dit beteken sogenaamde blokkruiping – waardeur mense ná inflasieverwante verhogings ’n hoër persentasie van hul verhoging aan Jan Taks gee – word gestuit.

2. Dis altyd ’n goeie tyd om minder te drink, rook

Die drank- en tabakbedryf glimlag waarskynlik van oor tot oor, want die aksyns op mense se plesiertjies is amper deur die bank met vanjaar se verwagte inflasiekoers van 4,4% verhoog. Die uitsondering is vonkelwyn (6%), pyptabak en sigare (albei 7,5%).

Maar selfs billike verhogings beteken natuurlik jy gaan meer opdok vir jou wyn, bier, whisky of sigarette. Só lyk Jan Taks se deel van jou belangrikste sondetjies nou:

  • Bier, sider en alkoholiese vrugtedrankies: Jy gaan 4,4% oftewel 7,64c méér aksyns vir ’n 340 ml-blikkie betaal, wat beteken altesame 181,15c van die prys gaan na die staat.
  • Wyn: Jy gaan 4,4% oftewel 14c méér per 750 ml-bottel betaal, wat beteken R3,29 van elke standaardbottel wyn gaan na die staat.
  • Brandewyn: Jy gaan 4,4% oftewel 24c méér per 750 ml-bottel betaal, wat beteken nagenoeg R5,51 van elke bottel is Tito se tol.
  • Vonkelwyn: Jy gaan 6% oftewel nagenoeg 61c méér per 750 ml-bottel betaal, wat beteken die tesourie sê “gesondheid!” van nagenoeg R10,77 vir elke bottel vonkelwyn wat jy koop.
  • Spiritualieë: Jy gaan 4,4% oftewel R2,89 méér per 750 ml-bottel whisky, vodka, rum of jou gekose sterk drank opdok en gaan voortaan altesame R68,73 per bottel vir Jan Taks gee.
  • Sigarette: Jy gaan 4,4% oftewel 74c méér per pakkie van 20 sigarette opdok en altesame R17,40 van die prys is Jan Taks s’n. Dis 87c vir elke kankerstokkie.

En dis nie ál nie. Verhitte tabakprodukte word onmiddellik belas teen 75% van die belasting op sigarette. (Navrae is gerig oor presies hoe die belasting bereken gaan word.) E-sigarette word nog nie belas nie, maar die regering beoog om dit van 2021 af te doen. Die verskil tussen die twee soorte rookgoed is of dit tabak bevat of nie. Verhitte tabakprodukte sluit die sogenaamde “hubbly bubbly” of hooka-rookpyne in.

3. Brandstof-belastings gaan nie bank bankrot maak nie

Heffings op brandstof styg met altesame 25c per liter, maar die verhogings is nie so erg soos vooraf voorspel is nie. Die algemene brandstofheffing styg met 16c per liter en die Padongelukkefondsheffing met 9c per liter. Die koolstofbelasting van 7c per liter op petrol en 8c per liter op diesel wat in Junie verlede jaar ingestel is, verander glad nie.

Die nuwe belastings word op Woensdag 1 April van krag. Die styging sal vererger óf teengewerk word deur die gemiddelde oor- of onderverhaling gegrond op hoe die rand-dollar-wisselkoers en internasionale brandstofpryse in Maart verander het.

4. Staatstoelaes styg in pas met inflasie

Die maatskaplike toelaes aan behoeftige Suid-Afrikaners styg ook in pas met inflasie of effens meer. Só lyk die nuwe toelaes:

  • Staatspensioen: Styg met 4,4% of 4,5% oftewel R80. Vir mense van 60 tot 75 jaar oud beteken dit die toelae styg van R1 780 tot R1 860 en vir mense van ouer as 75 jaar styg dit van R1 800 tot R1 880.
  • Gestremdheidstoelae: Styg met 4,5% oftewel R80, van R1 780 tot R1 860.
  • Pleegsorgtoelae: Styg met 4% oftewel R40, van R1 000 tot R1 040.
  • Sorgafhanklikheidstoelae: Styg met 4,5% oftewel R80, van R1 780 tot R1 860.
  • Kindertoelae: Styg met 4,7% oftewel R20, van R425 tot R445.

5. Jy kan nou méér belastingvry spaar

Die bedrag wat jy belastingvry mag belê, word vir die eerste keer in twee jaar verhoog. Dit styg met R3 000 tot R36 000 per jaar. Enige rente, dividende, kapitaalwins of ander groei in belastingvrye beleggings en rekeninge is vrygestel van belasting.

6. Mediese belastingkrediete styg sowaar

begroting 2020, begroting

Hoewel die tesourie verlede jaar gewaarsku het dat mediese belastingkrediete dalk uitgefaseer gaan word soos wat die Nasionale Gesondheidsversekering in werking gestel word, kry belastingbetalers met mediese fondse weer vanjaar effens meer verligting.

Die belastingkrediete word egter met net 2,9% meer, minder as die verwagte inflasiekoers (4,4%) en heelwat minder as die styging in mediesefondstariewe (tussen 8% en 10%) verhoog.

Die eerste twee begunstigdes op ’n fonds kry nou ’n belastingkrediet van R319 per maand (teenoor R310 in die lopende belastingjaar) en ander begunstigdes kry R215 per maand (teenoor R209).

7. Plastieksakke word duurder

Die heffing op plastieksakke word meer as verdubbel, van 12c tot 25c per sak. Dit word op 1 April van krag. Die heffing word ook hersien en sal duidelikheid gee oor hoe bio-afbreekbare sakke belas gaan word.

8. Ekspats kan méér belastingvry oorsee verdien

Die sogenaamde ekspat-belasting, wat vir die eerste keer op 1 Maart in werking tree, belas voortaan mense wat oorsee werk vir die verskil tussen die inkomstebelasting wat hulle oorsee betaal en wat hulle plaaslik sou betaal het. Die eerste R1 miljoen per jaar wat oorsee verdien word, sou belastingvry wees, maar die tesourie het aangekondig dat dié vrystelling tot R1,25 miljoen verhoog word.

9. Belasting op gloeilampe styg weer

In ’n poging om die gebruik van energievriendelike gloeilampe aan te moedig verhoog die heffing op gewone gloeilampe met R2 tot R10. Dit word op 1 April van krag.

10. Meer motors belas – en hoër ook

Wanneer mense nuwe motors koop, betaal hulle ’n koopbelasting op koolstofvrystellings. Op die oomblik word die belasting nie betaal op motors wat minder as 120 g koolstofdioksied per kilometer vrystel nie, maar die perk word op 1 April tot 65 g verlaag. Dit beteken die prys van klein motors gaan dalk styg.

Die belasting word boonop verhoog tot R120 per gram koolstofdioksied vir passasiersmotors en tot R160 vir dubbelkajuitvoertuie.

Meer oor:  Ekonomie  |  Belasting  |  Begrotingsrede  |  Begroting2020  |  Taks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.