Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
10 maniere hoe die begroting jou sak raak

Belastingbetalers kan ’n sug van verligting slaak oor die begroting wat Tito Mboweni, minister van finansies, pas ter tafel gelê het. Die tesourie gee toe dat die staat nie sy geldprobleme kan oplos met hoër belasting op individue nie en gee vir die eerste keer in jare heelwat verligting deur. Maar natuurlik is daar ook pyn, veral as jy lief is vir ’n drankie of ’n dampie.

   

Begroting2021
Die aksyns op alle drink- en rookgoed styg met 8%, dus amper drie keer die huidige inflasiekoers van 3,2%.

1. Jy gaan minder inkomstebelasting betaal

Belastingkerwe en kortings is die vorige drie jaar met minder as die inflasiekoers aangepas, wat effektiewelik beteken het mense het ná hul verhogings ’n groter persentasie van hul inkomste vir Jan Taks gegee.

Vanjaar verhoog die belastingkerwe en kortings met 5%, dus met meer as die inflasiekoers (tans 3,2%). Dit beteken dat baie mense dadelik (vanaf 1 Maart) minder belasting gaan betaal en waarskynlik ook nie na ’n nuwe belastingkerf gaan spring wanneer hulle vanjaar verhogings kry nie, tensy hulle natuurlik bevorder word of ’n vet verhoging kry.

Die tesourie raam dat mense tussen 0,9% en 2,6% minder belasting gaan betaal, met veral die middelklas wat die grootste voordeel trek.

Die boonste kerf, die bedrag waarbo mense 45% belasting betaal, styg van R1 577 300 per jaar tot R1 656 600 per jaar.

Nog goeie nuus is dat die tesourie die belastingkoers oor die volgende paar jaar wil verlaag.

  

2. Mediesefondskrediete styg

Die regering het in vorige jare gedreig om geleidelik weg te doen met mediesefondskrediete – die belastingaftrekkings wat mense kan doen as hulle tot ’n mediese fonds behoort. Vanjaar word die krediete egter wel weer verhoog, en ook met meer as die inflasiekoers.

Die krediet vir die eerste twee lede van ’n mediese fonds styg met R13 oftewel 4,1% per maand, van R319 tot R332. Vir daaropvolgende lede styg dit met R8 oftewel 4,2% per maand, van R215 tot R224.

  

3. Heffings op brandstof styg met 27c per liter

Die totale styging in heffings op brandstof is 27c per liter. Dis ’n styging van 15c per liter in die algemene brandstofheffing en ’n styging van 11c per liter in die Padongelukkefondsheffing, asook ’n styging van 1c in die koolstofbelastig.

Die doeane en aksyns styg nie.

Die nuwe heffings word op 7 April van krag.

  

4. Sondebelasting styg skerp

Wynboere, brouerye en sigaretvervaardigers gaan gil hieroor – en so ook almal wat ’n bier, glas whisky of sigaret geniet.

Die aksyns op alle drink- en rookgoed styg met 8%, dus amper drie keer die huidige inflasiekoers van 3,2%.

Van die stygings in aksyns is as volg:

  • Bier, sider en alkoholiese vrugtedrankies: Styg met 14c per 340 ml-blikkie tot nagenoeg R1,96 per blikkie.
  • Wyn: Styg met 26c per 750 ml-bottel, wat dit op nagenoeg R3,56 te staan bring.
  • Vonkelwyn: Styg met 86c per 750 ml-bottel, wat dit op nagenoeg R11,63 te staan bring.
  • Spiritualieë soos whisky, brandewyn, rum en wodka: Styg met R5,50 per 750 ml-bottel, wat dit op nagenoeg R74,34 te staan bring.
  • Sigarette: Styg met R1,39 per pakkie van 20, wat dit op R18,79 te staan bring.
  • Stokkies vir verhitte tabakprodukte: R14,09 per 20 stokkies

Mense met e-sigarette (vapes) moet ook kennis neem dat aksyns op die vloeistof dalk nog vanjaar in werking gestel gaan word. Die tesourie reik eersdaags ’n besprekingsdokument daaroor uit. Sowel vloeistof wat nikotien bevat as nikotienvrye produkte sal belas word.

k

  

5. Die meeste toelaes styg met minder as inflasie

Slegte nuus vir mense wat van staatstoelaes afhanklik is, is dat die meeste daarvan slegs minimaal styg, met tussen 1% en 1,6%, met die uitsondering van die kindersorgtoelae, wat met 3,4% styg, hoewel dit slegs R15 per maand beteken.

Die stygings lyk as volg:

  • Ouderdomstoelae (60 tot 74 jaar): Styg met R30 of 1,6% tot R1 890 per maand.
  • Ouderdomstoelae (75 jaar en ouer): Styg met R30 of 1,6% tot R1 910 per maand.
  • Ongeskiktheidstoelae: Styg met R30 of 1,6% tot R1 890 per maand.
  • Pleegsorgtoelae: Styg met R10 of 1% tot R1 050 per maand.
  • Sorgafhanklikheidstoelae (vir die versorging van gestremdes): Styg met R30 of 1,6% tot R1 910 per maand.
  • Kindersorgtoelae: Styg met R15 of 3,4% tot R460 per maand.

     

6. Waagkapitaliste se belastingvoordeel val weg

Die tesourie het in 2009 belastingverligting in werking gestel vir mense wat waagkapitaal belê. Die hele waarde van die belegging kon van hul belasbare inkomste afgetrek word. Dié inisiatief duur tot 30 Junie en gaan nie verleng word nie, ondanks pleidooie deur die waagkapitaalbedryf.

Die tesourie sê sy navorsing toon dat die inisiatief nie in sy doelwit geslaag het nie, naamlik om klein ondernemings te ontwikkel en werk te skep.

“Die meerderheid beleggings blyk te wees in laerisiko- of gewaarborgde-opbrengs-ondernemings wat sonder die inisiatief ook finansiering sou lok.

“Dit het net ’n beduidende belastingaftrekking aan welvarende belastingbetalers gegee.”

  

7. Suikerbelasting nie verhoog

As jou koeldrank skielik duurder kos, blameer die vervaardiger of die kafee – nie die tesourie nie. Die suikerbelasting, oftewel die gesondheidsbevorderingsheffing, word vanjaar glad nie verhoog nie.

Dit gaan kampvegters teen vetsug en diabetes ongelukkig maak wat gepleit het dat die suikertaks tot 20% verhoog word, maar dit gaan ook suikerprodusente ongelukkig maak, wat gepleit het dat die heffing verminder of heeltemal afgeskaf word.

  

8. Bydrae tot WVF styg

Die maksimum bydrae tot die WVF, wat die afgelope vyf jaar nie verhoog is nie, verhoog om dit in pas te bring met die maksimum salaris waarvoor mense kan eis. Die maksimum bydrae sal nou ook bereken wees op grond van R17 711,58 per maand. Dit beteken almal wat soveel of meer verdien, sal nou 1% daarvan, dus sowat R177 per maand, tot die WVF bydra, teenoor R148 tot einde Februarie. Mense wat R17 711,58 per maand of meer verdien, sal in die geval van aflegging 38% van daardie bedrag, oftewel sowat R6 730 per maand, van die WVF ontvang - dié bedrag is onveranderd. Uitbetalings vir mense wat minder as dit verdien, word op ’n glyskaal bereken tot ’n maksimum van 60% van hul salaris.

  • Dié verduideliking korrigeer ’n vorige weergawe van die berig, wat die WVF-bydraedrempel verkeerd verduidelik het.

  

9. Heffing op sekere plastieksakke daal

Die heffing op bio-afbreekbare plastieksakke gaan nou die helfte wees van dié van gewone plastieksakke. Dit word dus 12,5c per sak, pleks van die gewone 25c per sak. Die datum wanneer dit van krag word, moet nog bepaal word.

  

10. Let op as jy van die huis af werk

Hoewel die veranderinge nog nie vanjaar deurgevoer word nie, waarsku die tesourie dat hy navorsing doen oor die belastingvergunnings wat mense kan eis as hulle van die huis af werk. Dit is weens die groot getal mense wat die afgelope paar jaar van die huis af begin werk het – iets wat geweldig toegeneem het weens die Covid-19-pandemie.

Omdat dit ’n enorme invloed kan hê op hoe salarisse gestruktureer word, voorsien die tesourie jare lange konsultasie daaroor, wat in die nuwe belastingjaar sal begin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.