Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
16% BTW te veel? Kyk wat betaal ander lande
k

’n Verhoging in die koers van belasting op toegevoegde waarde (BTW) is een van die aankondigings wat Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag in sy begrotingsrede kan maak.

Bykans die helfte van die 19 ekonome wat aan Netwerk24 se peiling oor hul verwagtinge vir die begroting deelgeneem het, voorspel dat BTW met een persentasiepunt van 15% tot 16% verhoog kan word. Daar is selfs een ekonoom wat meen ’n verhoging van twee persentasiepunte is nie onmoontlik nie.

LEES OOK: Rommelstatus ís ons voorland, sê ekonome

Die meeste ekonome is dit darem eens dat hulle nie verwag die koerse van persoonlike inkomstebelasting gaan verhoog word nie.

Suid-Afrika se belastingkoerse vergelyk nie só sleg met dié van sy bure nie. Foto: Pixabay

Tans is die hoogste koers vir persoonlike inkomstebelasting 45%. Van die ekonome meen wel dat Mboweni ’n ekstra koers tussen 40% en 45% kan skep.

Die ekonome verwag ook dat belastingkerwe onveranderd gelaat gaan word. Dit beteken dat Suid-Afrikaners wat ’n salarisverhoging gekry het, in die komende jaar swaarder belas kan word indien die verhoging hulle in ’n hoër belastingkerf laat val.

Die vraag is nou: Hoe vergelyk die persoonlike inkomstebelasting en BTW wat Suid-Afrikaners betaal met dié van ander lande?

Netwerk24 het gaan kyk na die hoogste persoonlike-inkomstebelastingkoers in ander lande en dit met dié van Suid-Afrika vergelyk.

Suid-Afrikaners betaal baie meer aan persoonlike inkomstebelasting as belastingbetalers in die meeste van ons buurlande, maar ons BTW-koers van 15% vergelyk relatief goed.

Die buurland met die hoogste persoonlike-inkomstebelastingkoers is Zimbabwe (46,35%) en dié met die laagste is Botswana (25%).

Botswana se BTW-koers van 12% is ook die laagste in die streek, terwyl Mosambiek s’n (17%) die hoogste is.

Ander Afrikalande, soos Mauritius, Rwanda en Nigerië, wat dikwels as mededingers van Suid-Afrika beskou word, veral vir buitelandse beleggings, het meestal laer persoonlike-inkomstebelasting-, maar hoër BTW-koerse.

In Mauritius is albei dié belastings 15%. Die hoogste persoonlike-inkomstebelastingkoers in Rwanda is 30%, maar sy BTW-koers is 18%.

Emigrasie-bestemmings vir Suid-Afrikaners

Australië se hoogste koerse vir albei soorte belastings stem ooreen met dié van Suid-Afrika – 45% vir persoonlike inkomstebelasting en 10% vir BTW, terwyl Nieu-Seelanders onderskeidelik 33% en 13% betaal.

As die koers waarteen jy belasting betaal, jou besluit oor ’n finale bestemming gaan beïnvloed, sal Finland en Oostenryk waarskynlik nie op jou lysie verskyn nie.

In albei lande betaal burgers tot soveel as 55% persoonlike inkomstebelasting. In Finland word BTW teen 24% en in Oostenryk teen 20% gehef.

Mboweni lewer Woensdagmiddag om 14:00 sy begrotingsrede in die parlement.

Meer oor:  Btw  |  Inkomstebelasting  |  Belasting  |  Begroting2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.