Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
2042: Dán stort ons oor die fiskale afgrond

Soos dinge nou aangaan, sal Suid-Afrika se geld teen 2042 opraak. Dit is wanneer die fiskale afgrond bereik word.

Prof. Jannie Rossouw

Dit beteken die staat se rente op skuld, sy uitgawes aan salarisse en sy uitgawes aan welsynstoelaes sal net soveel wees as die totale belastinginkomste van die staat, sê prof. Jannie Rossouw van die Universiteit van die Witwatersrand se Skool vir Sakewetenskappe.

Rossouw het op die openbare sitting in die parlement oor die afgelope begroting gesê die kernprobleem is die regering se ondoeltreffendheid.

Rossouw waarsku die bopunt van die Laffer-kurwe is nou bereik, wat beteken enige verdere verhoging in belasting sal tot laer belastinginkomste lei.

Hy maan as die tesourie nie ekonomiese groei reg kan voorspel nie, kan teikens oor skuld-tot-BBP (bruto binnelandse produk) en belastinginkomste nie gehaal word nie.

“Die voorspellers van BBP-groei in die tesourie laat weervoorspellers goed lyk.”

Rossouw waarsku die staat se salarisrekening, besteding aan welsynstoelaes en die rente wat die staat op skuld moet betaal, bedra nou al 71% van totale belastinginkomste. Teen die tempo waarteen dit groei, sal dit teen 2042 op 100% staan, en dit is wanneer die fiskale afgrond bereik word. Teen 2008 was die syfer nog op 55%.

Rossouw meen alle bonusbetalings by Eskom moet gestop word, want daar is geen regverdiging vir bonusse by dié staatsinstelling nie. Eskom moet sy personeel verminder want hy doen sake in ’n krimpende mark. “Eskom behoort elke Vrydag sy personeelgetalle op sy webwerf te publiseer.”

Oor die opgeblase kabinet en ministeries sê Rossouw R1 miljard kan bespaar word deur al 35 ministeries se koste te sny tot dieselfde vlak as die nasionale tesourie se ministerie-koste.

Dit lyk asof die tesourie baie hoop plaas op die Suid-Afrikaanse Inkomstediens om die belastingteikens te haal, en dit is straks ’n misplaaste hoop.
Mandy

Die duurste ministerie is verdediging op R137,7 miljoen. Die goedkoopste ministerie is die nasionale tesourie op R4,4 miljoen.

Rossouw sê hy kan nie glo die ministerie van kleinsakeontwikkeling kos R26,5 miljoen terwyl dit bykans niks geld vir kleinsakeontwikkeling gee nie.

Eers as dié koste gesny is, kan die verkleining van die getal ministeries oorweeg word, meen Rossouw.

Hy waarsku die begroting se plan om staatsamptenare vroeër te laat aftree, sal ’n ekstra las op die staatspensioenfonds plaas.

Rossouw vra waarom kan wetgewing nie verander word sodat die belastingopgawes van die president, adjunkpresident, kabinet en adjunkministers aan die publiek openbaar gemaak word nie.

Kyle Mandy, hoof van belastingbeleid by PwC.

Kyle Mandy, belastingbeleidsleier by die ouditgroep PwC, sê die laaste vyf jaar is belastinginkomste konsekwent oorskat, en veral in die afgelope drie jaar. Daar is nie meer geloofwaardigheid aan die vooruitskattings nie.

“Dit lyk asof die tesourie baie hoop plaas op die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) om die belastingteikens te haal, en dit is straks ’n misplaaste hoop.”

Mandy stem met Rossouw saam dat die spits van die Laffer-kurwe bereik is, met ander woorde dat verdere verhogings in belasting tot laer belastinginkomste gaan lei.

Hy waarsku die datum van 1 Junie om met die koolstofbelasting te begin is onprakties want dit is reg in die middel van die jaar en oorvleuel nie met maatskappye se verpligting om hul data oor kweekhuisgasvrystellings aan owerhede te rapporteer nie.

Meer oor:  Jannie Rossouw  |  Begroting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.