Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
3 redes hoekom prognose vir Tito se planne sleg lyk

Die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) se doeltreffendheid om staatskuld in die bek te ruk en die ekonomie te laat groei, berus op drie dinge: ’n plafon op die staat se salarisrekening, steun vir infrastruktuurprojekte, en die skuldlas van staatsondernemings. En die prognose lyk nie goed nie.

mtbr2020
Tito Mboweni Woensdag tydens die lewering van sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR). Foto: Jaco Marais

Sal die staat regtig daarin kan slaag om sy salarisrekening in toom te hou – gegewe dat dit onder meer vereis dat staatsamptenare drie jaar lank geen verhogings kry nie?

Sal die regering die private sektor se vertroue kan inboesem om in infrastruktuurprojekte te belê?

Wanneer gaan die staat werklik die krane vir sukkelende staatsondernemings toedraai?

Dis die drie belangrikste vrae wat ontleders skepties maak oor die prognose van Tito Mboweni, minister van finansies, se mediumtermynbegrotingsraamwerk-rede, wat hy Woensdag gelewer het.

Mike van der Westhuizen, portefeuljebestuurder van die batebestuursfirma Citadel, gaan so ver as om die MTBR as “lugkastele” te beskryf.

Besnoeiing aan die salarisrekening

Die besparings wat die regering wil behaal in ’n poging om die primêre begrotingstekort te verklein, berus daarop dat die staat se salarisrekening met R310 miljard besnoei moet word vanaf vanjaar tot 2024.

Van der Westhuizen sê die groot vraag is of die regering die stryd met vakbonde sal wen.

LEES OOK: Dalk geen verhogings vir onnies, polisie vir 3 jaar

Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing van Intellidex, wys daarop dat die diepste besnoeiings aan salarisse by die departemente van gesondheid, onderwys en die veiligheidsmagte gedoen moet word – juis departemente met baie sterk vakbonde.

Die vakverbond Cosatu en die onderwysersvakbond Sadtu het reeds oorlog verklaar oor die MTBR se opmerking dat staatsamptenare se salarisse dalk vir die volgende drie jaar gevries gaan word.

’n Hof moet nog uitspraak gee oor die regering se besluit om nie vanjaar verhogings toe te ken nie in weerwil van die bepalings van ’n driejaarooreenkoms wat in 2018 gesluit is en voorsiening maak vir verhogings van bo die inflasiekoers. Daar word alom verwag dat Desember se uitspraak appèlhof en dalk selfs konstitusionele hof toe sal gaan, wat beteken dit kan nog ’n jaar duur voordat uitsluitsel gegee word oor vanjaar se verhogings.

Onderhandelinge oor die volgende driejaarooreenkoms moet intussen nou begin.

Andrew Duvenage, besturende direkteur van NFB Private Wealth Management, sê gegewe dat Cosatu ’n bondgenoot van die ANC-alliansie is, sal nog gesien moet word of die regering die politieke wil het om die salarisvraagstuk deur te voer.

Montalto wys daarop dat die besnoeiings in ’n polities uiters moeilike tyd sal plaasvind, insluitend die ANC se kieskonferensie van 2022 en die nasionale verkiesing van 2024. Hy verwag dat die konflik die einde van Mboweni se termyn as minister van finansies kan beteken – en dít sal dit selfs moeiliker maak om salarisrekeninge te besnoei.

Van der Westhuizen sê dit stuur wel ’n goeie boodskap uit dat Mboweni verwys het daarna dat die salarisse van senior bestuurders op alle vlakke van die staatsdiens – van ministers tot munisipale amptenare – besnoei moet word.

Bernard Sacks, belastingvennoot by die ouditfirma Mazars, is bekommerd oor die uitwerking wat salarisbevriesings op dienslewering kan hê. Die MTBR lê wel klem daarop dat elke departement sy organisatoriese struktuur sal moet hersien om te verseker dat die bevriesings ’n minimale invloed op dienslewering het.

Die kans op stakings in die staatsdiens is baie hoog oor die vraagstuk.

mtbr2020
Tito Mboweni Woensdag buite die parlement in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Verhoogde besteding aan infrastruktuurontwikkeling

Van der Westhuizen sê pogings om goeie korporatiewe beheer te verbeter, tesame met veranderinge aan regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse ten einde pensioenfondse te magtig om in infrastruktuur te belê, kan help om geld te werf vir infrastruktuurprojekte wat ’n goeie opbrengs belowe.

Daar is heelwat teenstand teen veranderinge aan regulasie 28 aangesien baie instellings vrees dat dit ’n voorwendsel gaan wees vir gedwonge beleggings in projekte wat geen opbrengs oplewer nie. Mboweni self het beklemtoon dat trustees ten alle tye in die belang van pensioenfondslede moet optree.

LEES OOK: Aftrede: Tito kondig groot veranderinge aan

“Die plan het egter heelwat risiko’s vir inwerkingstelling aangesien dit swaar steun op die sakke van die private sektor – en dit sal ’n dramatiese ommekeer in sentiment in ’n baie kort tydjie vereis,” sê Van der Westhuizen.

Nog steun aan staatsondernemings

Die MTBR wys weer heelwat geld aan staatsondernemings toe – die mees omstrede daarvan die R10,5 miljard wat aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gegee word om sy sakereddingsplan uit te voer en skuld te verminder.

Daarby word nog R7 miljard vir die Landbank belowe wat oor die volgende drie jaar betaal gaan word.

Van der Westhuizen en ander ontleders – ook opposisiepartye soos die DA – wys daarop dat die geld gevind word deur besnoeiings by belangrike staatsdepartemente soos opvoeding, gesondheidsorg en behuising.

“Dis eintlik ’n geval van steel by Peter om aan Paul te gee, of die herrangskikking van dekstoele ten einde die krake weg te steek wat op die vloer begin wys.”

LEES OOK: Só is SA se vlerke geknip sodat SAL kan vlieg

Hy sê die regering herhaal gereeld dat hy die finansiële krane van staatsondernemings wil toedraai, “maar dit lyk in dié stadium naïef om te dink hy sal sy belofte nakom. Die groeiende skuldverpligtinge van staatsondernemings sal immers nie net verdwyn nie.”

Mboweni self het kritiek uit DA-geledere Woensdag probeer snoer met die opmerking: “ ’n Mens kan nie van jou verpligtinge weghardloop nie.” Hy het dit twee keer herhaal. Dis ’n verwysing daarna dat miljarde rande se lenings aan staatsondernemings op grond van staatswaarborge bekom is.

Duvenage beskou dit as kommerwekkend dat daar geen aanduiding is van hoe Eskom se stygende skuldlas gestabiliseer gaan word nie.

Die besluit om die SAL te help, is ook teenstrydig met Mboweni se stellings vantevore dat daar geen “heilige koeie” behoort te wees nie. “Ongelukkig ondermyn die toewysing (van R10,5 miljard) die geloofwaardigheid van alles wat die tesourie sê, en is daar geen bewys of versekering dat hy by ander doelwitte sal hou nie,” sê Duvenage.

Montalto waarsku dat dit nog nie die einde van hulp aan die SAL is nie. Die lugdiens sal nog R14,7 miljard oor die volgende drie jaar benodig voordat daar hoop is dat dit winsgewend kan word. Hy bly skepties oor die herhaalde verwysings na ’n ekwiteitsvennoot vir die SAL – iets waarna Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, weer Donderdagoggend verwys het.

LEES OOK: Alternatief vir SAL-hulp was nog duurder likwidasie

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Ekonomie  |  Mtbr2020  |  Belasting  |  Begroting  |  Mtbr  |  Staatsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.