Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
5 dinge wat Mboweni sleg laat slaap
tito mboweni
Tito Mboweni Foto: Gallo Images

Vat die selfone weg en kom ons verkoop die lugdiens SA Express.

Dis van die voorstelle en oplossings wat Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag genoem het as risiko’s vir die staatskas.

1. Skuld-tot-BBP-verhouding

Dié verhouding begin aan onvolhoubare vlakke raak, waarsku Mboweni. “As dit oor 60% is, moet ons bekommerd wees. Dit behoort 30% of selfs laer te wees. Mense praat met my en sê hoekom jaag ons nie ons skuld op tot 100% van die bruto binnelandse produk (BBP) soos Amerika nie, maar Amerika het reserwes wat ons nie het nie.”

Om skuldvlakke te verbeter tot ’n gemakliker vlak van 64% van die BBP teen 2022, moet besteding met sowat R250 miljard verlaag word oor dié tydperk, “maar ons is baie ver daarvan”, en ’n mikpunt van R150 miljard is gestel.

2. Staatsondernemings

Die regering gaan streng met Eskom wees. Enige nuwe reddingsboei aan Eskom gaan nie ’n ekwiteitsinspuiting wees nie, maar ’n lening wat Eskom sal moet terugbetaal, het Dondo Mogajane, direkteur-generaal van finansies, Woensdag gewaarsku. ’n Toegewysde likiditeitsgerief vir alle staatsondernemings gaan in die tesourie geskep word waarin al die geld bestuur sal word waarmee staatsondernemings gehelp word, het Mboweni op ’n mediakonferensie voor sy toespraak in die parlement gesê. Dit sal verseker dat hulp aan staatsondernemings beter bestuur word.

Sekere staatsbates sal verkoop word. Daar sal met die departement van openbare ondernemings onderhandel word oor watter bates verkoop moet word.

Mboweni het voorgestel dis talk tyd om SA Express te verkoop. Hy het sy verbasing uitgespreek oor die vreemde situasie waar die SAL ’n klein belang in SA Airlink besit, wat regstreeks met SA Express meeding.

3. Fiskale lekkasies en vermorsing

Benewens korrupsie is daar algemene vermorsing in die staatsdiens. Sowat R5 miljard word in die staat bestee aan net die selfoonkoste van staatsamptenare. “Ek vat die selfone weg. Mense verdien salarisse. Hulle kan hul eie selfone koop. Hulle kan eise indien vir hul selfoongebruik.”

Dan is daar mediese en ander regseise teen die staat. As al die eise tans teen die staat uitbetaal moes word, sal dit sowat R100 miljard bedra, het Mboweni gesê. Daar is georganiseerde misdaadsindikate wat spesialiseer in sulke eise teen die staat, en wat vasgevat moet word.

mtbr

4. Staatsdienssalarisse

Vir elke R100 se belasting wat die staat invorder, word R46 aan salarisse vir staatsamptenare bestee. Dit is nie soseer die aantal mense in diens van die staat wat die probleem is nie, maar die omvang van hul salarisverhogings. Daar gaan met vakbonde gepraat word om te kyk hoe dit in bedwang gebring kan word.

5. Vernietiging van staatseiendom

Die vernietiging van staatseiendom deur betogers is ’n groot koste vir die staat. “Ons mense moet uitkom uit die kultuur om hul eie eiendom te verbrand. As jy ’n skool of hof afbrand, moet dit herbou word. Dit is alles goed wat wegvreet aan die staatsfinansies,” het Mboweni gesê op die mediakonferensie voor sy toespraak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.