Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting 2018
Afskaf van BTW op sanitêre produkte sloer
Wêreldwyd is daar ’n veldtog om die sogenaamde tampontaks af te skaf deur geen BTW op sanitêre produkte te hef nie omdat dit ’n basiese behoefte is. Foto: Pixabay

Terwyl die regering al twee jaar sloer met die afskaf van BTW op sanitêre produkte vir vroue, fokus die nasionale tesourie tans daarom om geld te vind vir die gratis verskaffing van dié produkte aan armes.

Tesourie-amptenare het Donderdag aan die parlement se veelpartyvrouekoukus gesê nasionale en provinsiale departemente moet die nodige geld in hul begrotings vind deur te herprioritiseer.

Agt provinsies het reeds sulke programme geskep deur te herprioritiseer en vennootskappe aan te gaan.

Gauteng het in die 2017-’18-begroting R58 miljoen begroot vir dié inisiatief, hoewel dit ook ander higiëne-produkte insluit. KwaZulu-Natal het R20 miljoen begroot, die Vrystaat R6 miljoen, Noordwes R2,2 miljoen en die Oos-Kaap R1,2 miljoen.

Die vrouekoukus het al in 2015 ’n resolusie aanvaar om die afskaffing van BTW op sanitêre produkte te ondersoek.

In arm gemeenskappe gaan baie meisies nie skool toe wanneer hulle hul maandstonde het nie, wat hulle laat agter raak met hul skoolwerk. Verskeie private inisiatiewe is die afgelope jare hieroor begin.

’n Jaar gelede het Ismail Momoniat, belastinghoof by die tesourie, aan die vrouekoukus gesê die afskaf van BTW maak iets bloot 14% goedkoper en is nie noodwendig die beste oplossing nie.

Die steun vir alle staatsprogramme word beperk deur die huidige druk op die staatskas.

Hy het toe reeds gesê die departemente van gesondheid en onderwys moet eerder begroot vir geld om sanitêre produkte gratis uit te deel.

Momoniat het gemeen kwytskelding van BTW kan ’n gevaarlike presedent skep en eerder rykes bevoordeel as armes.

Masefele Morutoa, voorsitter van die vrouekoukus, sê wêreldwyd is daar ’n veldtog om sanitêre produkte belastingvry te maak of te subsidieer, want die belasting daarop is ’n vorm van diskriminasie teen vroue.

Die regering het in 1995 al begin om nasionale begrotings op te stel wat sensitief is vir vroue-kwessies, maar die proses het sedertdien agterweë gebly, sê Morutoa.

Die tesourie-amptenare sê die departement van vroue is tans met die tesourie in konsultasie om weer ’n begrotingsbeleidsraamwerk te ontwikkel wat responsief is vir geslagskwessies.

Die tesourie beklemtoon egter die steun vir alle staatsprogramme word beperk deur die huidige druk op die staatskas.

Geldtoekennings in die begrotingsproses sal steeds deur die prioriteite van die Nasionale Ontwikkelingsplan, die negepunt-plan vir ekonomiese groei, die nywerheidsbeleidsaksieplan en ander planne van die regering gerig word.

Die tesourie-amptenare meen die vorige pogings tot geslag-sensitiewe begrotings is laat vaar omdat dit oor die algemeen nie die verlangde resultate opgelewer het nie.

Hulle sê Indië is ’n voorbeeld van ’n land waar geslagsensitiewe begrotings suksesvol bedryf word.

Meer oor:  Btw  |  Belasting  |  Tesourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.