Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Aftrede: Tito kondig groot veranderinge aan

Aftreehervorming is vir die eerste keer in vier en ’n half jaar weer in die visier van die tesourie – en die aftreebedryf reken dis breedweg gesproke ’n baie goeie ding.

Suid-Afrikaners wou tydens die Covid-19-krisis hul hande op hul aftreespaargeld lê. Die tesourie gaan dit dalk in die toekoms moontlik maak. Foto: Unsplash

Tito Mboweni, minister van finansies, het onverwags daarna verwys met die indiening van die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR).

Hy het aangekondig dat ’n “historiese ooreenkoms” tussen al die partye in die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) gesluit is wat goedkeuring gee vir die annuïtisering van voorsorgfondse vanaf Maart 2021. Die regering, sakesektor, arbeidsektor en gemeenskapsorganisasies onderhandel in Nedlac oor arbeidsverwante en ekonomiese wetgewing.

Die aankondiging beteken lede van voorsorgfondse sal eersdaags ook met hul aftrede minstens tweederdes van hul aftreegeld móét gebruik om vir hulle ’n pensioen te koop, sogenaamde annuïtisering. Dis ’n wet wat reeds dekades lank van toepassing is op mense met pensioenfondse en uittreeannuïteite (UA’s), maar mense met voorsorgfondse kan in dié stadium die volle waarde van hul voorsorgfonds met aftrede in kontant onttrek.

Die vakverbond Cosatu het so hard teëgestribbel teen die annuïtisering van voorsorgfondse dat die beoogde inwerkingstelling van die wysigings in Maart 2016 ’n stille dood gesterf het. Voorsorgfondse is algemener onder lae-inkomste-werkers wat ook meer deur vakbonde verteenwoordig word.

Die tesourie het voorheen gedreig dat mense met voorsorgfondse hul belastingvoordeel op bydraes gaan verloor as hulle nie tot annuïtisering instem nie, en Mboweni herhaal dié dreigement by implikasie met sy opmerking dat dit “alle werkers in staat sal stel om steeds die belastingaftrekkings op hul bydraes te geniet”.

Mboweni bedank die arbeidsektor omdat “geskikte annuïteitsprodukte vir lae-inkomste-werkers geïdentifiseer is”.

In ’n nota by die MTBR sê die tesourie produkte wat beter waarde vir geld vir dié werkers bied, gaan geskep word. Dit sluit sogenaamde hibried-annuïteitsprodukte in, wat verwys na produkte waarvan ’n deel ’n gewaarborgde inkomste bied (’n lewensannuïteit) en ’n deel ’n beleggingsgekoppelde inkomste (’n lewende annuïteit). Dit gee vir mense ’n waarborg dat hulle bepaalde uitgawes sal kan dek, maar ook die potensiaal om iets vir hul kinders na te laat, verduidelik Malusi Ndlovu, hoofbestuurder van Old Mutual Corporate Consultants.

Toelae

Die verandering aan voorsorgfondse is daarop gemik om te verseker dat meer mense hul eie aftrede kan finansier.

Dit kan die druk op die staatskas in die vorm van ouderdomstoelae verlig. Meer as drie miljoen mense van ouer as 60 jaar ontvang die staat se ouderdomstoelae van R1 780 of R1 800 (vir mense ouer as 75 jaar).

Ndlovu sê verpligte bewaring van voorsorgfondse is ’n goeie ontwikkeling omdat dit meer mense dwing om hul aftreegeld te gebruik vir die doel waarvoor dit in die eerste plek gespaar is – om ’n inkomste te verseker wanneer hulle nie meer kan of wil werk nie.

Rowan Burger, hoof van kliëntstrategie by Momentum Investments, verwag dat enige veranderinge slegs van toepassing sal wees op mense jonger as 55 jaar en op toekomstige bydraes.

Onttrekking van aftreegeld tydens krisis

Met die Covid-19-verwante inperkings en gepaardgaande afleggings of verlagings in mense se inkomste het dit duidelik geword baie Suid-Afrikaners se enigste bron van spaargeld is juis hul aftreegeld, waarop hulle nie hul hande kan lê tensy hulle bedank nie.

Die tesourie sê verskeie voorstelle is van belastingbetalers en Nedlac-vennote ontvang dat mense in ramptye van hul aftreegeld mag onttrek en die tesourie oorweeg die moontlikheid om beperkte onttrekkings voor aftrede moontlik te maak.

Ndlovu sê dit lyk nie vir hom in hierdie stadium asof mense wat bedank of van werk verander, verhinder gaan word om die volle waarde van hul aftreefonds te onttrek nie, hoewel dit inderdaad vantevore op die kaarte was dat mense minstens ’n deel van hul geld sal moet bewaar.

Mboweni het in sy toespraak hieroor gesê: “Die regering sal volgende jaar wetgewing voorlê wat beperkte onttrekkings voor aftrede onder sekere omstandighede sal toelaat, gekoppel aan verpligte vereistes vir bewaring.”

Sentrale aftreefonds?

Nog ’n belangrike opmerking was dat gewerk word aan ’n stelsel waardeur alle mense met werk outomaties lid word van ’n aftreefonds. Mboweni verwys na “’n fonds om voorsiening te maak vir werkers wat tans van pensioendekking uitgesluit is, as ’n dringende ingryping in die rigting van ’n omvattende stelsel van maatskaplike sekerheid”.

Die regering het vantevore planne gehad om een groot, sentraal bestuurde aftreefonds, die sogenaamde Fonds vir Maatskaplike Sekerheid, te skep waartoe almal met werk sou moes bydra.

Burger beskou die verwysings inderdaad as ’n voorloper tot so ’n fonds.

Wat van voorgeskrewe bates?

Mboweni het in sy toespraak gesê die regering het ’n proses begin om regulasie 28 te hersien “om dit vir aftreefondse makliker te maak om hul belegging in infrastruktuur te verhoog – sou hul raad van trustees kies om dit te doen. Ten alle tye word van trustees verwag om die belange van aftreefondslede eerste te stel.”

Mboweni sê konsepregulasies sal eersdaags vir openbare kommentaar uitgereik word.

Ten alle tye word van trustees verwag om die belange van aftreefondslede eerste te stel.
Tito Mboweni, minister van finansies

Regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse bepaal die maksimum wat ’n aftreefonds in enige gegewe bate of bateklas mag belê. Kommer – insluitend versoekskrifte en dreigemente van hofsake – heers nou al geruime tyd dat aftreefondse gedwing gaan word om in die staat se infrastruktuurprojekte te belê.

Pres. Cyril Ramaphosa het met die voorlegging van sy ekonomiese heropbou-en-herstelprogram ook klem gelê daarop dat fondse nie gedwing sal word om in infrastruktuur te belê nie, maar dat die projekte vir hulle aanloklik gemaak moet word sodat hulle dit wíl doen.

Mboweni se opmerking dat trustees die belange van lede eerste moet stel, is die mees pertinente toegewing tot dusver oor die onderwerp.

Ndlovu vind dit ook as uiters gerusstellend dat daar so pertinent verwys word na die rol van trustees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.