Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Begroting: Dít maak ekonome baie bekommerd
Tito Mboweni, minister van finansies.Foto: Jaco Marais

Waar kruip die klein jakkalsies weg wat die wingerd van die land se begroting kan verniel?

Hierdie vraag bekommer sommige ekonome, want hulle sê daar was eenvoudig nie genoeg besonderhede in die begrotingsrede van Tito Mboweni, minister van finansies, nie.

Alan Mukoki, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (SAKKN), is veral bekommerd oor die gebrek aan duidelikheid oor presies hoe die R18 miljard wat daarvoor begroot is, gebruik gaan word om werk te skep. Daar is ook nie baie besonderhede gegee oor presies hoe die R6,5 miljard bestee gaan word wat begroot is om kleinsakeondernemings te help ontwikkel nie.

Andrew Duvenage, besturende direkteur van NFB Private Wealth Management, sou meer besonderhede wou hê oor wat die planne met staatsondernemings is.

“Daar was veral geen inligting oor hoe Eskom se toenemende skuldprobleem opgelos gaan word nie.”

Hy sê daar was ook geen verwysing in die begrotingsrede oor die vakverbond Cosatu se voorstel dat die staatspensioenfonds (GEPF) geld vir Eskom moet gee om sy skuld te help delg nie. Daar was ook baie min besonderhede in die begrotingsrede oor die staat se beplande welvaartsfonds en staatsbank.

“Die minister het gesê die nuwe staatsbank gaan as ’n kleinhandelsbank geskep word wat volgens kommersiële beginsels gaan werk. Dit sal onderhewig wees aan die Bankwet en ‘ ’n toepaslike kapitaalstruktuur en prestasiemaatstawwe vir beleggings en lenings’.

“Die groot vraag is hoe ’n staatsbank gekapitaliseer sal word, aangesien banke wat volgens kommersiële beginsels werk, aansienlike kapitaalvereistes het.”

Duvenage sê daar is ook bitter min oor die welvaartsfonds gesê.

Waar gaan die geld vanaand kom?

“Waar hierdie finansiering vandaan gaan kom, moet nog gesien word. Die minister sê geld kan moontlik gekry word uit die opbrengste van spektrumtoekenning, tantième op petroleum-, gas- of mineraalregte, die verkoop van sekere staatsbates, toekomstige fiskale surplus en geld wat opsy gesit is vir toekomstige begrotings.”

Roger Baxter, uitvoerende hoof van die Mineraleraad van Suid-Afrika, sê die “jakkalsie” wat hulle nie gesien het nie, is presies hoe myne toegelaat gaan word om self elektrisiteit op te wek.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, het onlangs gesê die regering gaan dít binnekort toelaat.

Fanie Brink, ’n onafhanklike ekonoom, sê sy gevolgtrekking oor die begroting is dat dit steeds nie lyk of die regerende party verstaan wat nodig is om ekonomiese groei te bewerkstellig nie.

Brink sê daar was Woensdag net ’n paar “kosmetiese veranderings van ’n paar miljard rand” aan die nuwe begroting wat geen daadwerklike verskil gaan maak om die land se skuldlas te verlig nie.

Hy waarsku dat sonder behoorlike begrip van wat nodig is om ekonomiese groei te steun, daar steeds ’n groot kans is dat die ekonomie binnekort in ’n resessie sal verval.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Ekonomie  |  Btw  |  Belasting  |  Begrotingsrede  |  Begroting2020  |  Taks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.