Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Begroting: Kom hoër BTW en duurder brandstof?

Maak jouself gereed om vanjaar nóg meer vir kruideniersware en brandstof te betaal.

Kyle Mandy. Foto: Elvira Wood

As kenners by die ouditgroep PwC se raaiskoot oor die land se begroting in die kol is, gaan Suid-Afrikaners van April af moontlik meer belasting op toegevoegde waarde (BTW) en soveel as 50c per liter brandstof meer betaal.

“Tito Mboweni, minister van finansies, het verlede jaar al gesê die staat se inkomste moet oor die volgende drie jaar met R150 miljard styg.

“Dit beteken vanjaar moet hy tussen R50 miljard en R60 miljard meer insamel.

“Die minister kan nie dié bedrag net deur middel van hoër belasting insamel nie. Dit sal die land se ekonomie vernietig,” waarsku Kyle Mandy, belastingbeleidsleier by PwC.

Al waar ons dink hy meer belasting gaan kan insamel, is deur veral BTW én brandstofheffings te verhoog.
Kyle Mandy

“Die enigste manier hoe hy dit wel gaan doen, is om aan die een kant wél belasting te verhoog, maar aan die ander kant besnoeiings aan te kondig.

“Al waar ons dink hy meer belasting gaan kan insamel, is deur veral BTW én brandstofheffings te verhoog.”

Mandy het Dinsdag saam met Lullu Krugel, hoofekonoom van PwC, dié firma se verwagting oor wat hulle dink hulle op 26 Februarie in Mboweni se begrotingsrede gaan hoor, met die media in Melrose Arch, Johannesburg, bespreek.

Mandy sê die regering het geen ander keuse as om BTW met tussen ’n halwe en een persentasiepunt te verhoog nie.

“Die vraag is net met hoeveel,” sê hy.

Mandy sê een van die kommerwekkendste redes hoekom die staat ’n groot tekort op sy begroting gaan ly, is omdat die staat in die huidige boekjaar net sowat R341 miljard se BTW ingesamel het. Dit is teenoor die begrote R360,5 miljard.

“As ons na die kleinhandelsyfers van Desember kyk, sien ons dit was ’n nagmerriemaand. Die verbruiker is onder geweldige druk,” sê hy.

Die staat het reeds in 2018 die koers waarteen BTW gehef word met een persentasiepunt tot 15% verhoog.

Mandy sê daar word ook ’n massiewe tekort verwag wanneer daar na brandstofheffings gekyk word.

In Februarie 2019 is daar begroot dat die staat R83 miljard deur middel van brandstofheffings sou insamel. PwC se verwagting is dat net sowat R79,4 miljard wel ingesamel is.

“Ons voorspel dus dat die algemene brandstofheffing met tussen 15c en 20c per liter verhoog sal word. Boonop dink ons gaan daar ook ’n beduidende verhoging wees vir die bydrae tot die padongelukkefonds van tot soveel as 30 c/l,” sê hy.

Mandy voorspel ook dat Suid-Afrikaners verseker kan wees dat hulle meer belasting op versoete koeldranke, wyn en sigarette sal betaal.

Hoewel hy nie verwag dat die koers waarteen persoonlike inkomstebelasting gehef word, verhoog gaan word nie, waarsku hy hulle verwag nie dat belastingskale aangepas gaan word nie.

Dit beteken dat belastingbetalers wat ’n salarisverhoging gehad het, moontlik meer belasting gaan betaal omdat die groter bedrag hulle in ’n hoër belastingskaal gaan druk.

Ons hoop dat Mboweni die ander tot R30 miljard deur besnoeiings gaan insamel. Bloot deur staatslone te vries kan die staat al heelwat geld spaar.
Kyle Mandy

PwC verwag verder dat die reëls oor kapitaalwinsbelasting vir individue verander kan word om wyer te strek. Hy verwag nie dat KWB vir maatskappye verander sal word nie.

“Ons verwag ook geen veranderinge aan maatskappybelasting óf belasting op dividende nie,” sê Mandy.

Mandy sê dié aanpassings gaan die staat net sowat R25 miljard tot R30 miljard in die sak bring.

“Ons hoop dat Mboweni die ander tot R30 miljard deur besnoeiings gaan insamel. Bloot deur staatslone te vries kan die staat al heelwat geld spaar,” sê hy.

Hy sê hy weet egter nie of daar die politieke wil is om dit te doen nie.

Mandy sê nóg ’n manier hoe die staat tot R10 miljard per jaar meer kan verdien, is bloot deur te verseker dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) doeltreffender bedryf word.

“Ek was baie beïndruk om te sien dat die SAID nou al meer tegnologie wil gebruik. As hulle die data wat hulle reeds het reg inspan, kan hulle ’n baie groot verskil maak,” sê Mandy.

Meer oor:  Pwc  |  Tito Mboweni  |  Staatskas  |  Staatsbesteding  |  Begroting 2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.