Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Begroting: ‘Moeilikheid lê voor’

Miljarde rande word in die begroting aan die sukkelende Eskom toegewys, maar die begrotings van onderwys, gesondheidsorg en behuising word gesny.

Daar is ook geen konkrete voorstelle oor hoe ongelykheid daadwerklik getakel moet word nie.

Só het Budget Justice Coalition (BJC) Donderdag gesê in reaksie op die reddingsboei van R69 miljard vir Eskom wat Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag in sy 2019-’20-begrotingsrede in die parlement aangekondig het.

Die regering kan later gedwing word om op pensioenfondse beslag te lê óf om sy beleid-soewereiniteit oor te gee in ruil vir ’n reddingsboei.

Dié koalisie bestaan uit ’n aantal burgerlike samelewingsorganisasies, onder meer Section27, Equal Education, die Kinderinstituut, die Dullah Omar-instituut en die Instituut vir die Studie van Armoede en Ongelykheid.

Ngqabutho Mpofu, koalisiewoordvoerder, sê dit is ironies dat Mboweni se begroting – wat R50,3 miljard van maatskaplike besteding oor die volgende drie jaar sal sny – voorgelê is op die dag wat maatskaplike geregtigheid wêreldwyd gevier is.

Volgens die BJC sal ongelykheid in Suid-Afrika nie getakel word nie omdat die meerderheid van die inkomste steeds uit BTW sal kom wat deur alle landsburgers betaal word en persoonlike inkomstebelasting wat deur werkers betaal word.

“Dit versuim om hoër inkomstegroepe te teiken en ignoreer die behoefte na baie groter rykdomsbelasting wat die hoofbron van ongelykheid in Suid-Afrika is.”

Dr. Frans Cronje, uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge, het gesê die begroting wys dat die land op pad is na ernstige ekonomiese en politieke moeilikheid.

As die huidige trajek voortduur, is ’n afgradering vir Suid-Afrika onvermydelik. Dit kan lei tot ’n skerp daling in die rand en stygende skulddienskoste, het hy gesê.

“Die regering kan later gedwing word om op pensioenfondse beslag te lê óf om sy beleid-soewereiniteit oor te gee in ruil vir ’n reddingsboei.

“Suid-Afrikaanse groeikoerse onderpresteer relatief tot voorspellings met ’n baie reële risiko om in ’n langtermynresessie te gly soos lewenstandaarde vinnig versleg en politieke onstabiliteit styg,” het Cronje gesê.

Natasha Adonis, woordvoerder vir die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe se Omgewingsinstituut (Safcei), het gesê hulle is bly omdat niks oor kernkrag in die begroting genoem is nie, maar die regering moet klimaatsverandering en omgewingskwessies beter begin verstaan.

Intussen het Zola Saphetha, hoofsekretaris van Nehawu, die grootste vakbond in die staatsdiens, Donderdag gewaarsku dat die regering hom kan staal vir sterk teenstand van Nehawu as planne deurgevoer sou word om die regering se salarisrekening drasties te verminder.

Mboweni het in sy begrotingsrede gesê daar word beplan om daardie salarisrekening met sowat R27 miljard te sny.

Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut, het Donderdag gesê die begroting is nie ’n verrassing nie omdat dit weer wys dat die ANC-regering weet Suid-Afrika is in ’n krisis, maar “glad nie weet hoe om ons hier uit te kry nie”.

Meer oor:  Eskom  |  Begroting 2019  |  Reddingsboei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.