Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Begroting moes al 3 j. gelede gelewer gewees het

Die begrotingsrede wat Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag in die parlement gelewer het, moes al drie jaar gelede gelewer gewees het.

Lullu Krugel, hoofekonoom van PwC. Foto: Elvira Wood

Dit is die mening van ’n paneel kenners wat Vrydag aan PwC se bespreking oor die begroting deelgeneem het.

Die paneel het uit Kyle Mandy, belastinghoof van PwC, Lullu Krugel, hoofekonoom van PwC, Mary Vilakazi, bedryfshoof van FirstRand, Phuti Mahanyele, voorsitter van Sigma Capital, en Max du Preez, politieke ontleder en redakteur van Vrye Weekblad, bestaan en is in Sandton, Johannesburg, gehou.

“Ek wens ons het hierdie begroting drie jaar gelede al gehoor,” sê Mahanyele.

“Ek weet nie of dit nou té laat vir hierdie begroting was nie,” sê sy.

Hoewel die meeste kenners meen dat die rede baie positiewe elemente ingesluit het, is baie onsekerhede ook geskep.

Mandy sê dit lyk vir hom asof Suid-Afrika weer ’n geloofwaardigheidsprobleem het wanneer syfers voorgelê word.

Hy sê die begrotingstekort word al groter en hy dink selfs die 4,5% van bruto binnelandse produk wat nou voorgelê word, is steeds nie akkuraat nie.

Die verskillende syfers wat verskaf is op die dag van die begrotingsrede en Donderdag oor presies met hoeveel die tesourie Eskom gaan ondersteun, is nog ’n rede tot kommer.

Volgens Mahanyele het dit net tot nóg meer onsekerheid gelei.

Mboweni het in sy begroting gesê Eskom sal R69 miljard oor die volgende drie jaar kry.

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie, het egter Donderdag aan parlementslede gesê Eskom gaan op die ou einde meer as R230 miljard oor tien jaar uit die staatskas kry.

Vilakazi sê die tesourie sal baie binnekort duidelikheid oor dié syfers moet gee.

Rommelstatus

Ondanks die kredietgradeerder Moody’s Investor Service wat reeds die aand ná die rede gewaarsku het dat die begroting nié goeie nuus vir die land se kredietgradering is nie, dink van die paneellede dat daar ’n kans is dat die land se skuld nie dadelik afgegradeer gaan word nie.

Krugel het egter reeds voor die begrotingsrede gesê sy verwag dat dié gradeerder – die enigste een wat nóg nie die land se skuld tot onder beleggingsvlak afgegradeer het nie – dit wel vóór die einde van die jaar sal doen.

Belasting

Wat belasting betref, het die jongste begroting Mandy glad nie beïndruk nie.

“Dit lyk asof die tesourie nou nie meer planne het oor hoe om meer belasting in te samel nie, sê hy.

Mandy sê baie Suid-Afrikaners kan dalk onder die wanindruk verkeer dat dit ’n goeie begroting is omdat die meeste belastingkoerse nié verhoog is nie.

“Die feit dat die minister nie enige van die belastingkerwe aangepas het nie, is baie slegte nuus vir verbruikers. Baie van hulle gaan vanjaar meer belasting betaal,” voorspel hy.

Die verkiesing

Die paneel was dit eens dat die algemene verkiesing wat op 8 Mei gehou gaan word, ’n groot invloed op die begroting gehad het.

Paneellede sê dit was duidelik dat aan die een kant syfers genoem is, maar aan die ander kant stellings gemaak is wat nie heeltemal met die ANC as regerende party se verkiesingsbeleid strook nie.

Mboweni het byvoorbeeld sy stem dik gemaak dat die voortbestaan van staatsondernemings heroorweeg moet word as daar nie regtig ’n doel vir hulle is nie.

“Ek is baie beïndruk dat Mboweni nie reg voor die verkiesing ingegee en ’n baie populistiese begrotingsrede gelewer het nie,” sê Du Preez.

“Kom ons wees eerlik. Elke liewe probleem waarmee die tesourie in die begroting sukkel, is weens Jacob Zuma, die voormalige president.

“Ek dink nie mense besef hoe groot die invloed was wat hy op die land en die ekonomie gehad het nie.

“Dit gaan ons ’n lang tyd neem om dié probleme op te los.

“May 8 is our next date with fate,” sê Du Preez.

Meer oor:  Pwc  |  Tito Mboweni  |  Lullu Krugel  |  Belasting  |  Begroting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.