Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Tito se tameletjie met staat se salarisse

Tito Mboweni, minister van finansies, se grootste uitdaging met vanjaar se begroting is hoe die staat se salarisrekening besnoei gaan word.

Jeff Schultz, senior ekonoom by BNP Paribas, sê dié vraagstuk, saam met die Eskom-krisis, gaan baie aandag in die minister se begrotingsrede geniet.

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Adrian de Kock

Mboweni lewer op 26 Februarie sy begrotingsrede in die parlement.

“Dit gaan baie moeilik wees om die begroting vanjaar op te stel,” sê Schultz Maandagoggend in ’n gesprek met die media by die bank se kantore in Rosebank, Johannesburg.

“Ons hier by BNP Paribas dink nie dat daar groot belastingverhogings aangekondig gaan word nie. Ons glo dat die staat dit veral nié sal oorweeg om belasting op toegevoegde waarde (BTW) te verhoog nie,” sê hy.

Dis in teenstelling met verskeie ander ontleders, onder meer van Absa en Mazars, wat reken belastings gaan oor ’n breë front verhoog word, insluitende die moontlike verhoging van BTW.

Schultz sê hy dink die regering se besluit in 2018 om BTW te verhoog, is nog te onlangs om nóg ’n verhoging nou in 2020 te regverdig. BTW is toe van 14% tot 15% verhoog.

“Ons glo ook as belasting nou te veel verhoog word, gaan dit eerder ’n negatiewe as ’n positiewe invloed op staatsinkomste hê.”

Hy sê BNP Paribas verwag nie enige beduidende aanpassing in persoonlike belastingskale nie. Schultz sê hulle verwag wel dat sondebelasting soos gewoonlik verhoog sal word.

“Ons glo egter die grootste aanpassing wat die minister gaan maak, is oor hoe hy die staat se salarisrekening onder beheer gaan kry.

“Ons weet dat die staat sowat R150 miljard wil bespaar. Die probleem is dat die staat ’n ooreenkoms het met staatsamptenare wat aan vakbonde behoort wat tot 2021 duur. Die minister gaan dus sukkel om lone vanjaar aan te pas.

“Ons dink die tesourie gaan vir eers kyk na die salarisse van staatsamptenare wat ’n hoër inkomste verdien. Hulle behoort nie aan vakbonde nie,” voorspel Schultz.

“Ons verwag dat daar glad nie salarisverhogings gaan wees nie óf dat dit baie nader aan die inflasiekoers gaan wees. Ons verwag ook wanneer daar wel met vakbonde onderhandel word, na baie laer verhogings gekyk gaan word.”

Schultz sê dié aanpassings gaan die staat nie R150 miljard oor die volgende jaar bespaar nie, maar nader aan R100 miljard.

Hy sê om eerlik te wees, behoort die staat eerder ’n aanpassing van R230 miljard te maak om veral sy skuldvlakke te stabiliseer.

Eskom

Die probleme by Eskom gaan na verwagting ’n invloed op ekonomiese groei hê.

Schultz sê dat hulle reken dat as fase 2-beurtkrag vir 20 dae gedurende die eerste helfte van die jaar ingestel word, sal dit 0,3 persentasiepunte van ekonomiese groei besnoei.

“Ons glo ekonomiese groei gaan net sowat 0,5% wees in 2020,” sê hy.

Dit is nou belangriker as ooit tevore dat Eskom sy omkeerplan bekendmaak en uitvoer.
Jeff Schultz, senior ekonoom by BNP Paribas

“Die ekonomie bevind hom in baie groot moeilikheid. Groot hervorming is dringend nodig,” sê hy.

Schultz sê daar is selfs ’n kans van tussen 30% en 40% dat die land se ekonomie in ’n resessie kan verval sou beurtkrag meer gereeld ingestel word.

“Dit is nou belangriker as ooit tevore dat Eskom sy omkeerplan bekendmaak en uitvoer.”

Schultz sê Eskom gaan na verwagting nie vanjaar sy huis in orde kan kry wat betref sy geldsake nie.

As Eskom nie teen einde Maart in drie dele – transmissie, verspreiding en opwekking – verdeel word nie, verwag BNP Paribas dat dit dan eers in 2021 deurgevoer sal word.

Hy verwag ook dat die staat eers in 2022 bekend gaan maak oor presies wat hy met Eskom se skuld op lang termyn gaan doen.

Schultz sê hy dink nie die vakbond Cosatu se voorstel dat staatsamptenare se pensioengeld gebruik moet word om die skuld te delg, is ’n goeie idee nie.

“Ons gaan moet wag vir die regrukhoof se verslag, wat einde dié maand verwag word, voordat ons begin bespiegel oor wat gedoen gaan word,” sê Schultz.

Freeman Nomvalo, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica), is in Julie 2019 as regrukhoof by Eskom aangestel.

“Wanneer ons na syfers kyk, lyk dit vir ons of ’n afgradering reeds ingereken is,” sê Jeff Schultz van BNP Paribas.

Rommelstatus

Schultz sê dis net ’n kwessie van tyd voor Moody’s Investors Service, die land se kredietgradering gaan afgradeer.

“Ons het oorspronklik verwag dat hy dit op 27 Maart gaan doen wanneer hy sy volgende hersiening van Suid-Afrika geskeduleer het.

“Ons dink egter dat gegewe Moody’s self sê hy verkies om eerder ’n jaar te wag vandat hy ’n vooruitsig verander het totdat hy ’n besluit maak oor ’n kredietgradering, dink ons hy gaan dié besluit eerder later vanjaar maak,” voorspel Schultz.

Hy sê Mboweni gaan egter reeds in Februarie groot veranderinge moet aankondig in die begroting om Moody’s gelukkig te hou.

Moody’s is die enigste van die drie groot kredietgradeerders wat nóg nie Suid-Afrika se staatskuld tot onder beleggingsgraad afgegradeer het nie.

Schultz sê selfs al gradeer Moody’s die land se skuld af, dink hy nie die invloed op die land gaan so dramaties wees as wat sommige kenners voorspel nie.

“Wanneer ons na syfers kyk, lyk dit vir ons of ’n afgradering reeds ingereken is,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.