Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Belasting: Só eis Jan Taks sy pond vleis van jou
belasting
Belasting

Jy sal dalk die fout kan maak om te dink die begroting bring goeie nuus oor belasting vir die belastingjaar wat op 1 Maart begin.

Die tesourie het egter ’n paar bomme op gewone belastingbetalers laat val wat beteken die meeste mense gaan meer inkomstebelasting betaal.

Dis nou benewens die gebruiklike skerp verhogings in “sondebelastings”, ’n styging in die algemene brandstof- en Padongelukkefondsheffing, en ’n verhoging in die suikerbelasting.

Die belangrikste verandering is dat géén aanpassing aan belastingkerwe aangebring is nie. Dit beteken baie mense sal ná hul jaarlikse verhoging vanjaar in ’n nuwe belastingkerf val en ’n groter persentasie van hul verhoging aan belasting opdok. Dit gaan vir die staatskas R12,8 miljard méér uit inkomstebelasting beteken.

Nog ’n baie belangrike besluit is dat die belastingkrediete op mediese fondse onveranderd gelaat word. Dit is ook ’n manier om onregstreeks inkomstebelasting te verhoog. Die regering hoop om só R1 miljard méér in te vorder.

Hier is van die grootste veranderinge in belasting in die nuwe belastingjaar – asook die nuwe belastings waarop jy in 2020 of later bedag moet wees:

Belastingdrempel

Die belastingdrempel styg met minder as 1,1%, dus minder as die inflasiekoers. Mense wat minder as die belastingdrempel verdien, betaal geen belasting nie.

  • Mense van jonger as 65 jaar: Van R78 150 tot R79 000
  • Mense van 65-74 jaar: Van R121 000 tot R122 300
  • Mense van 75 jaar en ouer: Van R135 300 tot R136 750

Belastingkortings

Die belastingkortings – dus die bedrag wat mense kan aftrek voordat hulle inkomstebelasting bereken – styg ook met net 1,1% en dus minder as die inflasiekoers.

  • Primêre korting (jonger as 65 jaar): Styg van R14 067 tot R14 220
  • Sekondêre korting (65-74 jaar oud): Styg van R7 713 tot R7 794 (totale korting nou R22 014)
  • Tersiêre korting (75 jaar en ouer): Styg van R2 574 tot R2 601 (totale korting nou R24 615)

Belastingkerwe

Die kerwe wat bepaal watter persentasie van jou inkomste jy aan Jan Taks gee, is glad nie aangepas nie. Dit beteken soos wat mense meer verdien, sal ’n groter persentasie van hul inkomste teen ’n hoër koers belas word.

Die maksimum inkomstebelastingkoers bly onveranderd op 45% vir mense wat R1,5 miljoen of meer per jaar verdien.

belasting

Trusts

Die belastingkerwe vir trusts (uitgesluit spesiale trusts soos trusts wat vir gestremdes of minderjariges opgerig word wanneer broodwinners sterf) bly onveranderd. Die maksimum koers bly onveranderd op 45% vir trusts met ’n inkomste van R1,5 miljoen of meer per jaar.

Mediese krediete

Die bedrag wat mense met mediese fondse kan aftrek voordat belasting bereken word, bly onveranderd. Die hooflid en eerste bykomende lid kry korting van R310 elk en bykomende afhanklikes R209 elk.

Die belastingvoordeel vir mediese uitgawes wat mense uit hul eie sak moet aangaan, bly ook onveranderd op 25% vir mense onder 65 jaar en 33,3% vir mense van 65 jaar en ouer.

Suikerbelasting

Die suikerbelasting, wat in April 2018 van krag geword het, word verhoog van 2,1c per gram suiker per 100 ml koeldrank tot 2,21c per gram per 100 ml. Die basiese vrystelling geld dat die eerste 4 g suiker per 100 ml koeldrank belastingvry is.

Belasting op toegevoegde waarde (BTW)

Dit bly onveranderd op 15%. Soos voorheen breedvoerig berig is, word drie nuwe items van April van BTW vrygestel: koekmeelblom, broodmeel en sanitêre doekies.

Brandstofheffings

Die algemene brandstofheffing styg op 3 April met 15c per liter. Die Padongelukkefondsheffing styg met 5c per liter.

Dit beteken die totale styging op 3 April voordat die maandelikse verandering weens oliepryse en die rand-dollar-wisselkoers bygereken is, sal 20c per liter wees.

Op 5 Junie word ’n bykomende heffing op brandstof van krag, naamlik die koolstofheffing. Dit sal 9c per liter petrol en 10c per liter brandstof beloop. Geen dieselrabat sal hierteen geëis kan word nie.

Rente- en kapitaalwinsvrystellings

Geen aanpassing word gemaak aan hoeveel rente-inkomste en kapitaalwins vrygestel word van inkomstebelasting nie.

Rente: Mense jonger as 65 jaar kan steeds R23 800 rente-inkomste belasting verdien, en mense van 65 jaar en ouer R34 500.

Kapitaalwins: Die jaarlikse vrystelling van R40 000 bly onveranderd; in die jaar van jou dood bly die vrystelling vir jou boedel onveranderd op R300 000.

Maatskappybelasting

Die koers bly onveranderd op 28%.

Skenkingsbelasting

Dit bly onveranderd op 20% vir enige eiendom tot R30 miljoen en op 25% op eiendom van R30 miljoen of meer.

Boedelbelasting

Dit bly onveranderd op 20% op die eerste R30 miljoen van ’n boedel en 25% op die waarde bo R30 miljoen. Die eerste R3,5 miljoen van ’n boedel is vrygestel van boedelbelasting, ’n bedrag wat ook nie verhoog is nie.

Sondebelastings

Aksyns op alkohol en tabak – die sogenaamde “sondebelastings” – styg soos gewoonlik met heelwat meer as die inflasiekoers.

Hier is die belangrikste stygings – en ’n aanduiding van hoeveel belasting jy per blikkie bier, bottel wyn en pakkie sigarette betaal:

  • Bier: Styg met 7,4% tot R102,07 per liter absolute alkohol oftewel R1,74 per 340 ml-blikkie.
  • Wyn: Styg met 7,4% tot R4,20 per liter oftewel R3,15 per 750 ml-bottel.
  • Vonkelwyn: Styg met 9% tot R13,55 per liter oftewel R10,16 per 750 ml-bottel.
  • Spiritualieë: Styg met 7,4% tot R204,15 per liter absolute alkohol oftewel R65,84 per 750 ml-bottel.
  • Siders en alkoholiese vrugtedrankies: Styg met 7,4% tot R102,07 per liter absolute alkohol oftewel R1,74 per 340 ml-blikkie.
  • Sigarette: Styg met 7,4% tot R16,66 per 20 sigarette.
  • Pyptabak: Styg met 9% tot R5,39 per 25 g.
  • Sigare: Styg met 9% tot R89,72 per 23 g.
sondebelasting

Aftreefondse

Belastingvrye bydraes tot aftreeprodukte bly onveranderd.

Hereregte

Hereregte bly onveranderd, met 13% as die hoogste koers (op eiendom van meer as R10 miljoen).

Didvidendbelasting

Dié belasting bly onveranderd op 20%.

Nuwe belastings in 2020 of later

Die tesourie verwag die volgende belastings in 2020 of later:

Inkomstebelasting op oorsese werk: Die tesourie het bevestig dat die belasting op inkomste wat oorsee verdien word, op 1 Maart 2020 van krag word. Die eerste R1 miljoen wat mense oorsee verdien, sal vrygestel word van belasting. In dié stadium betaal mense wat langer as 183 dae per jaar in sekere lande werk, geen inkomstebelasting daar of in Suid-Afrika nie of ’n kleiner persentasie as in Suid-Afrika. Die tesourie hou reeds in Maart slypskole oor dié belasting, waaroor daar groot ontsteltenis was toe dit twee jaar gelede aangekondig is.

E-sigarette: Die tesourie werk saam met die departement van gesondheid aan wetgewing om elektroniese sigarette en tabakverhittingsprodukte soos sigarette te belas.

Brandstowwe: Op die oomblik geld die brandstof- en Padongelukkefondsheffing (POF-heffing) net op petrol, diesel en biodiesel. Die tesourie sê fossielbrandstowwe soos paraffien en gas en biobrandstowwe soos bio-etanol en biogas word op die oomblik nié belas nie, en tog word dit wel in die vervoersektor gebruik. Dit skep die situasie dat daar eise vir ongelukke teen die POF gebring word deur voertuie wat nié die POF-heffing betaal nie. Die tesourie kyk daarna om die definisies in die Wet op Doeane en Aksyns aan te pas om dié probleem op te los.

Dobbelbelasting: ’n Belasting van 1% op dobbelmaatskappye se inkomste om programme vir dobbelverslawing te finansier.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Begroting 2019  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.