Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Belasting: Só kan dit verander - en hoekom

Die meeste ontleders verwag nie die nasionale tesourie sal in volgende week se begroting enige drastiese of skerp belastingverhogings of nuwe belastings aankondig nie, gegewe die swak ekonomie. Maar enigiets is moontlik, want die staatskas is leeg. Francois Williams het gaan kyk na elk van die vernaamste belastings.

  

PERSOONLIKE INKOMSTEBELASTING

Waarop staan dit nou?

Tans staan die top-belastingkoers vir mense wat meer as R1 577 300 per jaar verdien, op 45%. Die koers vir die res wissel van 18% tot 41%, en jy hoef eers belasting te betaal as jy meer as R83 100 per jaar verdien (mense jonger as 65).

nasionale tesourie
Die aalwynplantjie simboliseer vir Tito Mboweni, minister van finansies, die land se oorlewingsvermoë, selfs te midde van spreekwoordelike droogtes. Foto: Jaco Marais

Wat kry die staat daaruit?

Die staat het verwag om in die lopende boekjaar R546,7 miljard uit persoonlike inkomstebelasting te verdien – 38,3% van sy totale verwagte belastinginkomste.

Hoe lyk dit in die res van die wêreld?

Teen 45% is Suid-Afrika se topkoers êrens in die middel as dit met die meeste ander lande vergelyk word. Dit is nie so hoog soos die Ivoorkus se 60% nie, maar ook nie so laag soos Hongarye se 15% nie.

Hoe kan dit verander?

Die ouditfirma Mazars verwag die tesourie sal vanjaar bloot nie die belastingkerwe vir inflasie aanpas nie, wat op so ’n manier sowat R13 miljard ekstra kan invorder.

Daar is wel ’n moontlikheid dat die tesourie ’n ekstra belastingkerf vir superrykes kan instel, maar dit is in dié inkomsteklas waar die meeste emigrasie plaasvind, en die tesourie is dalk versigtig om te veel van dié mense aan te spoor om eerder na die Bahamas, Bermuda of Broenei uit te wyk waar persoonlike inkomstebelasting 0% is.

Yolandi Esterhuizen, belastingpraktisyn en direkteur van Sage, meen ’n solidariteit-welvaartbelasting kan dalk ingestel word wat tot R160 miljard ekstra kan invorder, maar volgens haar kan dit te duur en ingewikkeld wees om te administreer.

  

MAATSKAPPYBELASTING

Waarop staan dit nou?

Suid-Afrika se maatskappybelasting staan tans op 28%

Wat kry die staat daaruit?

Die tesourie het verwag om vanjaar R230,2 miljard uit maatskappybelasting te verdien – 16,1% van totale belastinginkomste.

Maatskappybelasting is reeds 28% in Suid-Afrika.

Hoe lyk dit in die res van die wêreld?

Teen 28% is Suid-Afrika se maatskappybelasting relatief aan die hoë kant, vergeleke met eweknieë soos Bulgarye, Paraguay, Hongarye, Pole, Mauritius, Thailand of Kasakstan wat almal maatskappybelasting van 20% of laer het, en wat dus beter kan meeding vir enige internasionale belegging.

Hoe kan dit verander?

Bernard Sacks, belastingvennoot by Mazars, kla al lank die maatskappybelasting hier is te hoog en moet verlaag word om meer beleggings te lok.

Esterhuizen sê die tesourie het in 2020 aangedui hy wil die belastingbasis vir maatskappybelasting verbreed, wat hom ruimte kan gee om die koers te verlaag. Maar in die hersiende begroting van Junie 2020 is dié beoogde maatreëls tot volgende jaar uitgestel. Esterhuizen meen baie ondernemings sal in die huidige moeilike tye ’n laer maatskappybelasting verwelkom.

Wesley Grimm en Joon Chong, belastingkenners van die regsfirma Webber Wentzel, het egter onlangs gegis die tesourie kan dalk net besluit om maatskappybelasting tot 30% te verhoog in ’n poging om sy inkomste te verhoog. Dit sou wel in teenstelling wees met die internasionale tendens en sal tot verdere kapitaalvlug uit Suid-Afrika lei, het hulle gewaarsku.

  

BTW

Waarop staan dit nou?

Belasting op toegevoegde waarde (BTW) is tans 15% nadat dit onder erge protes in 2018 van 14% af verhoog is, waarop dit vir ’n kwarteeu vasgepen was.

Wat kry die staat daaruit?

Die staat verwag om vanjaar R360,5 miljard uit BTW te verdien – 25,3% van sy totale belastinginkomste.

Hoe lyk dit in die res van die wêreld?

Met BTW op 15% is Suid-Afrika weereens êrens in die middel vergeleke met die res van die wêreld. Die meeste Europese lande het BTW van 20% of meer, talle ander Afrika-lande se BTW wissel tussen Botswana se 12% en Kameroen se 19,25%, terwyl talle Midde-Oosterse, Suidoos-Asiatiese en Suid-Amerikaanse lande BTW of verkoopbelasting van minder as 10% het.

Hoe kan dit verander?

Omdat dit so ’n breë belasting is, het sommige waarnemers gedink ’n verhoging in BTW sou ’n eenvoudige en maklike manier vir die tesourie wees om ekstra geld in te kry om al die gate toe te stop wat die Covid-19-pandemie help vergroot het. Maar verbruikers is reeds onder druk en bestee minder.

Boonop wys ontleders van BNP Paribas op die onlangse beter as verwagte belastinginvorderings tot einde Desember. Die tesourie het in Oktober verwag sy voljaarinkomste sal 18,4% minder wees as die vorige jaar, maar tot op Desember was die invorderings net 10,1% laer as die vergelykende tydperk. Die tesourie sal dus dalk nie weer aan BTW hoef te torring nie.

  

BRANDSTOFHEFFING

Waarop staan dit nou?

Die brandstofheffing is ’n randbedrag per liter en nie ’n persentasie nie. Dit verander nie saam met die maandelikse verhogings of verlagings in brandstofpryse nie maar word een keer per jaar tydens die begroting aangepas. Dit staan tans op R3,77 per liter vir petrol en R3,53 vir diesel. Dit bedra sowat 24% van die huidige kleinhandelprys van petrol. Daar is ook die Padongelukfondsheffing van R2,07 per liter, ’n doeaneheffing van 4c per liter en ’n pypleidingheffing van 0,33c per liter. Saam vorm dié heffings 37,5% van die kleinhandelprys van petrol.

Wat kry die staat daaruit?

Die tesourie het verwag om vanjaar R83,4 miljard uit die brandstofheffing te verdien. Dit is 5,8% van sy totale belastinginkomste.

Heffings vorm reeds 37,5% van die kleinhandelprys van petrol.

Hoe lyk dit in die res van die wêreld?

Vergelykings tussen lande wat brandstofbelastings betref raak toenemend kompleks want sommige lande of streke binne lande hef verkoopbelasting op brandstofverkope bo-op die gewone brandstofheffing, terwyl ander ’n koolstofbelasting of ’n verkeersbelasting byvoeg.

Soms word biobrandstof laer belas omdat dit ’n hernieubare bron is. Teen die byna 38% van kleinhandelpryse wat plaaslik tans uit belastings bestaan, vergelyk Suid-Afrika nog relatief goed met lande soos Indië waar hul belastings nou al 69% van die prys bedra, asook Italië (64%), Frankryk en Duitsland (albei 63%) en Brittanje (62%). Hierteenoor is belasting op brandstof in Kanada 33% van die pompprys en in Amerika 19%. Waar aksyns op brandstof in Amerika toegewy word aan ’n fonds waaruit padinfrastruktuur gefinansier word, beland Suid-Afrika se brandstofheffing net so in die staatskas.

Hoe kan dit verander?

Soos BTW is die brandstofheffing ook ’n breë soort belasting met min elastisiteit, d.w.s. mense het nie veel van ’n keuse om steeds brandstof of kos te koop om te kan oorleef en te beweeg nie, so ’n verhoging is ’n relatief eenvoudige en maklike manier om ekstra inkomste in te vorder. Verlede jaar is die brandstofbelastings net met inflasie verhoog, maar die tesourie kan dalk besluit om dit vanjaar skerper te verhoog vir meer inkomste. Dit vergoed dalk vir die laer brandstofverbruik omdat soveel meer mense nou van die huis af werk en nie meer so gereeld werk toe hoef te ry nie.

  

AKSYNS OP DRANK EN TABAK

Waarop staan dit nou?

Die aksyns op bier staan tans op R106,56 per liter alkoholinhoud, oftewel R1,81 per 340-ml-blikkie. Op wyn is die aksyns R4,39 per liter. Die totale belastinglas op bier is sowat 35% en op wyn sowat 23%, volgens prof. Corne van Walbeek van die Universiteit van Kaapstad.

sigaretverkope
Sondebelastings is altyd maar ’n maklike teiken in die begroting. Foto: Pixabay

Die aksyns op ’n pakkie van 20 sigarette is tans R17,40. Saam met BTW is die belastinglas op sigarette tussen 50% en 55%, sê Van Walbeek.

Wat kry die staat daaruit?

Die tesourie het verwag om vanjaar R16,4 miljard uit die aksyns op bier te verdien, R5,32 miljard uit wyn en R14,4 miljard uit sigarette. Die drank- en tabakverbod tydens die inperking gaan die finale syfers egter na verwagting met tot 30% knou.

Hoe lyk dit in die res van die wêreld?

’n Besprekingsdokument van die tesourie in 2014 het aangedui Suid-Afrika se belastinglas op wyn (23%) is laag teenoor internasionale gemiddelde standaarde (29%), maar relatief hoog vergeleke met groot wynproduserende lande (18%). Die belastinglas op bier van 35% is ook relatief in pas met die internasionale gemiddelde van 34%, hoewel dit verouderde syfers van 2007 was wat die tesourie gebruik het.

Hoe kan dit verander?

Die staat het met sy verbod op drank en tabak homself asook die bedrywe self ’n kwaai hou in die maag gegee, en hy sal dalk wil inhaal deur dié sondebelastings met skerper as inflasie te verhoog. Maar die drankbedryf maak reeds skerp kapsie teen enige verhoging in drankaksyns. Hellen Ndlovu, direkteur vir regulatoriese en openbare beleid by die biergroep SAB, sê die regering moenie die aksyns enigsins verhoog nie om die bedryf kans te gee om te herstel. Sy vra die regering moet soos talle ander lande eerder aksyns vir tot drie jaar vooruit vasstel sodat die bedryf beter kan beplan.

Yusuf Abramjee van Tax Justice SA vra ook die regering moet geen verhogings in sondebelastings aankondig nie, want dit sal net die misdadigers in die sluikhandel in veral tabak verder aanmoedig en verryk. Om die verlore inkomste van meer as R20 miljard uit aksyns terug te wen deur dit te verhoog, sal ’n hou in die maag vir verbruikers wees, waarsku Abramjee.

  

SUIKERBELASTING

Waarop staan dit nou?

Die gesondheidsbevorderingsheffing, alom bekend as die suikerbelasting, staan op net meer as 2,2c per gram suiker per 100 ml wat meer is as 4 gram in ’n versuikerde koeldrank.

Wat kry die staat daaruit?

Die staat verwag om vanjaar R2,86 miljard daaruit te verdien, wat maar 0,2% is van die totale belastinginkomste.

Hoe lyk dit in die res van die wêreld?

Suikerbelasting en soortgelyke gesondheidsbelastings is relatief nuut maar het die afgelope 5 tot 10 jaar al hoe gewilder begin raak, met tot 50 lande wat al sulke belastings het om mense se gedrag te probeer verander en ’n gesonder leefstyl aan te moedig.

Dit word verskillend toegepas, met sommige lande wat ’n ad valorem-aksyns hef, d.w.s. ’n persentasie op die verkoopprys van ’n koeldrank of ’n item gemorskos, terwyl die meeste ’n spesifieke aksyns hef teen ’n bedrag per suikerinhoud of per volume koeldrank. Die Verenigde Arabiese Emirate en Bahrein het ’n 50%-suikerbelasting op alle gaskoeldrank en ’n 100%-belasting op energiedrankies. Barbados het ’n 10%-belasting op alle soet drankies, maar suiwer vrugtesap word uitgesluit.

Brittanje hef R3,68 per liter op koeldrank wat 5 tot 8 gram suiker per 100ml bevat, en R4,91 per liter op koeldrank met meer as 8 gram suiker per 100ml bevat.

Hoe kan dit verander?

Dis nie ’n noemenswaardig groot inkomsteverdiener vir die regering nie, maar gesondheidsaktiviste wil hê die regering moet die suikerbelasting skerp verhoog tot sowat 20% van die kleinhandelprys van ’n tipiese koeldrank, teenoor die huidige minder as 11%, veral in die lig van mense met obesiteit en diabetes wie se risiko vir sterfte en komplikasies weens Covid-19 baie hoër is.

  

BOEDELBELASTING

Waarop staan dit nou?

Dis tans op 20% vir die eerste R30 miljoen en 25% op meer as R30 miljoen, met die eerste R3,5 miljoen wat belastingvry is

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Sarel van der Walt

Wat kry die staat daaruit?

Die staat kry tans R2,32 miljard uit boedelbelasting – dis maar 0,16% van sy totale belastinginkomste.

Hoe lyk dit in die res van die wêreld?

Japan het die hoogste boedelbelasting op 55%. Amerika s’n staan op 40%, maar daar is ook groot vrystellings. Frankryk se boedelbelasting is 45%. Verskeie lande hef geen boedelbelasting nie, soos Kanada, Israel, Portugal, Swede, Hongarye, Australië en Nieu-Seeland. Ysland en Turkye hef net 10% en Pole en Switserland net 7%.

Hoe kan dit verander?

Boedelbelasting is ’n soort welvaartbelasting en die tesourie kan wel besluit om dit te verhoog.

Maar Patricia Williams, belastingvennoot van Bowmans, voer aan boedelbelasting is ’n voorbeeld van ’n “onvolledige oplossing” omdat daar nog skuiwergate is soos familietrusts waar rykdom tussen geslagte heen oorgedra kan word, of ryk mense wat besluit om te emigreer voordat boedelbelasting betaalbaar word.

  

KAPITAALWINSBELASTING

Waarop staan dit nou?

Dis ’n soort welvaartbelasting gehef op enige bates wat verkoop word. Die maksimum effektiewe koers is 18% vir individue en spesiale trusts. Die eerste R40 000 van die kapitaalwins word kwytgeskeld, maar 40% van die bedrag daarbo moet bygetel word by die persoon se belasbare inkomste. Die eerste R2 miljoen wins op die verkoop van ’n primêre woning, aftreevoordele en die opbrengs uit polisse word uitgesluit.

Wat kry die staat daaruit?

Dis nie duidelik hoeveel die staat uit kapitaalwinsbelasting maak uit sy gepubliseerde syfers nie, want die bedrae vorm deel van persoonlike inkomstebelasting of maatskappybelasting.

Hoe lyk dit in die res van die wêreld?

Kapitaalwins word wêreldwyd verskillend gehef. Talle lande belas kapitaalwins teen dieselfde koers as persoonlike inkomstebelasting, onder meer Australië, Belarus en Denemarke. Kenia se effektiewe koers is net 5%, teenoor Ierland se 33%, Israel se 25% en Uganda se 40%.

Hoe kan dit verander?

Kapitaalwinsbelasting is laas in 2016 verhoog, en Grimm en Chong van Webber Wentzel meen die tesourie kan nou dalk besluit dis tyd om in sommige gevalle die volle kapitaalwins te belas wanneer bates verkoop word, pleks van om insluitingskoerse soos 40% vir individue en 80% vir maatskappye te gebruik.

  

HEREREGTE

Waarop staan dit nou?

Dis ’n oordragheffing betaalbaar wanneer eiendom verkoop word. Eiendomme van R1 miljoen of minder word nie belas nie, daarna styg die koers in kerwe na gelang van eiendomswaarde, van 3% tot 13%.

Wat kry die staat daaruit?

Die tesourie het verwag om R7,396 miljard uit eiendomsoordragte te kry vanjaar. Dit is 0,53% van totale belastinginkomste.

Hoe lyk dit in die res van die wêreld?

Hereregte wissel aansienlik van land tot land. In Kalifornië in Amerika is dit 0,11%, maar in New York is dit 0,4% vir eiendomme tot $1 miljoen en 1,4% vir duurder eiendomme. In Indië wissel dit tussen 4% en 10% van streek tot streek, en in Peru is dit 3%.

Hoe kan dit verander?

Grimm en Chong sê hereregte is nie lank gelede aangepas nie, en hulle glo nie die regering sal dit teiken vir verdere verhogings nie.

Bronne: nasionale tesourie, Tax Foundation, Trading Economics, Wêreldbank, PwC, IMF, SAID, Obesity Evidence Hub, Business Today

Meer oor:  Btw  |  Inkomstebelasting  |  Begroting2021  |  Belasting  |  Begrotingsrede  |  Begroting  |  Tesourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.