Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
‘Bevries ook ministers, LP’s en ander se salarisse’

Bevries ook ministers, LP’s, premiers, burgemeesters, raadslede en alle ander politieke ampsdraers se salarisse en nie net dié van staatsamptenare nie.

Die aankondiging deur Tito Mboweni, minister van finansies, dat staatsamptenare dalk drie jaar lank nie verhogings gaan kry nie, het Cosatu reeds laat gal braak. Foto: Jaco Marais

Dit is noodsaaklik as Suid-Afrika ’n fiskale krisis wil vermy, het Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdagmiddag op ’n aanlyn nuuskonferensie gewaarsku.

Dit was kort ná sy mediumtermynbegrotingsrede (MTBR) in die parlement waarvoor hy skerp deur vakbonde én politieke partye gekritiseer is.

Mboweni het aangekondig staatsamptenare se salarisse behoort vir die volgende drie jaar bevries te word om fiskale konsolidasie te ondersteun.

Dít het die werkers die josie in. Vakbonde is reeds op die oorlogspad omdat die regering weier om ’n salarisooreenkoms wat vir vanjaar ooreengekom is, te eerbiedig. Mboweni sê dit is onbekostigbaar.

Een minuut is die werkers ’n noodsaaklike diens en helde aan die voorpunt, maar as dit by vergoeding kom, word hulle soos verheerlikte slawe behandel.
Sizwe Pamla van Cosatu

Hy het ook gesê Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, sal met vakbonde praat oor die bevriesing van salarisse en dat hy “optimisties” oor ’n positiewe uitslag is.

Oor politieke en openbare verteenwoordigers se vergoeding het hy gesê hul salarisse is “pre-Covid-vergoeding.

“Die situasie het verander. Hul (salaris-)situasie moet ook.

“Politieke besluite moet geneem word deur politieke leiers, partye, die parlement en munisipale rade. As ons dit nie doen nie, gaan ons aanhou sink.

“As hul salarisse verlaag word, kan hulle in Eastgate plaas van Sandton gaan inkopies doen en so kan die ekonomie van uitbalansering in die prentjie kom.

“Ons moet dit debatteer en bespreek om tot ’n vergelyk te kom. Ek waarsku julle as ons voortgaan op dié pad, stuur ons op ’n fiskale krisis af. Ek waarsku julle,” het Mboweni gesê.

Cosatu verklaar oorlog

Cosatu het Woensdagmiddag egter geen doekies omgedraai nie en gesê “enige praatjies van die bevriesing van laagbesoldigde staatsamptenare se salarisse, sal beskou word as ’n direkte aanval op kollektiewe bedinging.

“Die regering moet ophou om staatsamptenare te boelie. Een minuut is die werkers ’n noodsaaklike diens en helde aan die voorpunt, maar as dit by vergoeding kom, word hulle soos verheerlikte slawe behandel,” sê Sizwe Pamla, woordvoerder van Cosatu.

“Dit is dié werkers se pensioene wat die ekonomie gebou het en ondersteun. Die regering moet die 2020-salarisooreenkoms eerbiedig en te goeder trou met werkers onderhandel oor die volgende drie jaar lange salarisooreenkoms.”

Volgens Cosatu sal hy net die regering ernstig opneem as hy die buitensporige salarisse en “beledigende” voordele van die uitvoerende gesag en senior bestuurders op alle regeringsvlakke verminder en skrap, terwyl die getal kabinetsministers ook verminder moet word.

Rug teen die muur

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het in reaksie op die MTBR saamgestem dat die staat se salarisrekening “ ’n yslike probleem” bly.

Die “harde werklikheid” is volgens hom dat die regering nie meer geld het nie en dat Mboweni met sy rug teen die muur is.

“Dit is duidelik dat die minister en die regering in ’n skaakmatposisie is en dit sal nie verander solank daar nie duidelike beleidsveranderinge aangebring word nie.”

Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, sê die begroting is ’n mislukking omdat die ANC-regering verkies het om met die MTBR eerder aan noodsaaklike dienste soos onderwys en polisiëring te sny, terwyl dit nog ’n reddingsboei van R10,5 miljard aan die “zombie-agtige” Suid-Afrikaanse Lugdiens toegeken het.

Mzamo Buthelezi, IVP se woordvoerder oor finansies, het die MTBR beskryf as die gevolg van “swak finansiële en ekonomiese bestuur”.

Volgens Buthelezi sou Suid-Afrika hom nie kniediep in die skuld bevind het “as ons die afgelope jare voldoende voorberei het nie”.

Herman Mashaba, president van ActionSA, sê Mboweni het misluk om die nodige fiskale leierskap te toon en het “nie moeilike besluite geneem om verkwistende uitgawes te stop en skuld te verminder nie”.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Staatsamptenare  |  Staatskuld  |  Staatsondernemings  |  Mtbr2020  |  Begroting  |  Tesourie  |  Mtbr  |  Staatsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.