Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting 2018
BTW: Die rykes dra groter las

Die rykste 30% van die bevolking betaal 85% van alle BTW. Hoewel enige prysverhoging vir die armstes rampspoedig kan wees, gaan mense in die middel- en hoërinkomstegroepe dus steeds verreweg die meeste opdok van die R22 miljard in bykomende inkomste wat die regering vanjaar uit die hoër BTW-koers verwag, sê Jean Lombard, uitvoerende hoof van Sanlam Savings.

Die BTW-koers is in die begroting verhoog met een persentasiepunt tot 15%.

Boonop wys belastingstatistieke meer as 42% van die regering se 2016-’17-inkomste uit plaaslike BTW het gekom uit die sektor vir finansiële tussengangers, versekering, eiendom en sakedienste, en nie uit byvoorbeeld kleinhandel nie.

Groot- en kleinhandel, spyseniering en verblyf het 15,3% van BTW-inkomste uitgemaak, en vervoer, berging en kommunikasie net 5,7%.

Tertius Troost, ’n belastingkonsultant van Mazars, sê van die bykomende R36 miljard se belastinginkomste in 2018-’19, sal sowat 80% van indirekte belasting (soos BTW) kom.

Saam met verhogings in verskuilde belasting, soos suikerbelasting, die heffing op plastieksakke en die brandstofheffing, kan dit verbruikers onkant betrap. Die nuwe BTW-koers sal van 1 April af geld.

Hoewel ander belastingverhogings oorweeg is om die staatskoffers aan te vul, is hoër BTW op mediumtermyn minder skadelik vir ekonomiese groei en werkloosheid as verhogings in persoonlike inkomstebelasting, het Malusi Gigaba, minister van finansies, gesê.

Persoonlike inkomstebelasting is die afgelope jare baie verhoog, en maatskappybelasting van 28% is reeds hoog vergeleke met internasionale standaarde. In Amerika is die koers byvoorbeeld van 35% tot 21% verlaag, en in Brittanje van 30% tot 19%.

Die afgelope jaar het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) R21 miljard minder uit persoonlike inkomstebelasting ingevorder as wat verwag is.

Die BTW-aankondiging is gekritiseer oor die uitwerking wat dit op arm huishoudings gaan hê.

Gigaba sê egter die koers is steeds laer as die wêreldgemiddeld van 15,7%. En arm huishoudings word gehelp deurdat 19 basiese voedselitems ’n zero-koers het, onder meer droëbone, stampmielies, mieliemeel en rys, asook lampolie.

Gerhard Badenhorst, direkteur van belasting by die firma Cliffe Dekker Hofmeyr, sê die uitwerking van die BTW-verhoging word effe versag deur die zero-koers op sekere items en die kwytskelding van behuising, onderwys en passasiersvervoer, asook ’n verhoging bo inflasie van maatskaplike toelaes.

Maar verbruikers wat nie toelaes ontvang nie, sal steeds in die nood wees, ook omdat BTW betaalbaar is op noodsaaklikhede soos klere, water, elektrisiteit en vleis.

Die tesourie sê ook rogbrood of brood met ’n lae glukemiese indeks (GI), wat in Suid-Afrika duurder is en meer deur ryker huishoudings gekoop word, sal nie ’n zero-koers hê nie.

Cecilia Stassen, ’n senior belastingkonsultant by Mazars, voeg by huishoudelike skoonmaakmiddels, basiese toiletware, formulemelk vir babas, babadoeke en selfs basiese huishoudelike toebehore is ook onderhewig aan BTW en sal dus alle huishoudings raak.

Volgens Annabel Bishop, ’n ekonoom van Investec, sal die hoër BTW alle Suid-Afrikaners se lewenskoste opstoot en bydra tot hoër inflasie.

“Ons verwag ’n styging van minstens 0,1% in die inflasiekoers oor die eerste drie kwartale van vanjaar en die eerste kwartaal van 2019, hoewel die sterk rand en laer brandstofprys die afgelope ruk die inflasievooruitsig ietwat getemper het,” sê sy in ’n nota.

Troost sê die aankondiging oor hoër belastingkoerse op boedels stuur waarskynlik die regte simboliese boodskap dat welvarende mense meer belas word. In geldwaarde verwag die regering egter net ’n minimale inkomste van R150 miljoen uit dié verhoging.

Dit kan na ’n maklike opsie lyk om persoonlike inkomstebelasting te verhoog, maar Lombard sê net 14,5% van belastingbetalers dra reeds meer as 67% by van die persoonlike inkomstebelastingrekening.

Die tesourie het bereken dat die las op individue van 8,3% van die bruto binnelandse produk (BBP) in 2010-’11 tot 9,8% in 2017-’18 toegeneem het.

Of die regering wel die verwagte inkomste van R4,36 miljard gekry het uit die 45%-belastingkoers wat verlede jaar ingestel is op individue wat meer as R1,5 miljoen per jaar verdien, sal eers later bereken kan word.

Dis ook onseker hoe suksesvol die SAID se laaste spesiale vrywillige openbaarmakingsprogram was om belastingbetalers sover te kry om buitelandse bates te verklaar wat vroeër onder die radar was.

Die SAID raam die inkomste tot einde Maart hieruit op net R3 miljard, aansienlik minder as die R10 miljard waarop die Davis-belastingkomitee dit geskat het.

Ander belastings wat individue se sak sal raak, is:
  • ’n Styging van tussen 7% en 9% in ad valorem-belasting op luukse goedere.
  • Van 1 Maart sal boedels van meer as R30 miljoen teen 25% belas word, pleks van die huidige koers van 20%.
  • Skenkings van meer as R30 miljoen sal teen 25% belas word, pleks van die huidige 20%.
  • Die brandstofheffing van 52c per liter (22c per liter as algemene brandstofheffing en 30c per liter vir die Padongelukkefonds).
  • Stygings in belasting op alkohol en tabak van tussen 6% en 10%.


Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma  |  Malusi ­Gigaba  |  Belasting  |  Begrotingsrede  |  Ekonomie  |  Begroting 2018  |  Btw  |  Inkomstebelasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.