Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
BTW-skok: Koers op, maar staat kry minder geld

Die regering het vir die eerste keer sedert die resessie van 2008 selfs minder BTW ingesamel as vóór die koersverhoging tot 15%.

BTW is van 14% tot 15% verhoog, maar die staat se inkomste daaruit is onder druk, onder meer omdat mense en ondernemings minder bestee.

Dié skokfeit laat belastingkenners vrees dat Tito Mboweni, minister van finansies, op 30 Oktober met sy mediumtermynbegrotingsraamwerk die belasting­teiken met tussen R30 miljard en R50 miljard gaan moet verlaag.

Die teiken in Februarie was R1 422 miljard.

Die groter inkomste-gat plaas bykomende druk op Mboweni om ’n realistiese regrukplan voor te hou wat die publiek, politici, sakelui, belanghebbendes soos vakbonde én kredietgraderingsagentskappe sal paai.

Kyle Mandy, ’n vennoot en tegniese hoof van belasting by PwC Suid-Afrika, sê dit is moeilik om betroubare voorspellings te maak omdat syfers van nog net vier maande van die boekjaar – April tot Julie – beskikbaar is.

Ander belastings
Dit is egter nie net minder BTW wat Mboweni waarskynlik slapelose nagte voor 30 Oktober besorg nie. Maatskappybelasting sal na verwagting sowat R20 miljard minder wees, persoonlike inkomstebelasting R3 miljard minder en ander belasting soos op brandstof, doeane en aksynsbelasting is ook onder druk.

Hoewel baie verwag het dat die trae ekonomie sakebelasting sou strem en daar net gematigde groei in ander belasting sou wees, het Mike Schüssler van Economists.co.za die skoksyfer dat nog net R101 miljard BTW van die teiken van R360,4 miljard ingesamel is, uitgelig.

Trouens, die BTW-insameling het selfs in nominale terme gedaal met 2,9% oor die ses maande tot einde Julie. As inflasie ook nog in berekening gebring word, het BTW-inkomste naby aan dubbelsyfers gedaal.

PwC voorspel BTW-inkomste vir die 2019-’20-boekjaar sal sowat R5 miljard laer wees as die begrotingsvoorspelling. Hul voorspelling is egter steeds 9% hoër as die R324,7 miljard van 2018-’19.

Binnelandse BTW het tot dusver teen 6,2% gegroei eerder as die verwagte 7,3% in die begroting. Invoer-BTW het teen 10,4% gegroei teenoor die begrote 7%.

Maar BTW-terugbetalings is sowat R15 miljard (of 23,8%) hoër as dieselfde tydperk in 2018, wat die hoër belastingkoers heeltemal oorskadu.

Mandy sê BTW-inkomste tot Julie is inderdaad laer in nominale terme as vir die ooreenstemmende periode in 2018 en dis weens verskeie faktore. Dit sluit in:

1. Tom Moyane se rol

Suid-Afrika voel nou eers die volle pyn van die Tom Moyane-era.

Tito Mboweni, minister van finansies: Hy slaan vure dood.

Tydens sy skrikbewind het verskeie BTW-geregistreerdes gekla dat hulle nie terugbetalings kry nie. Só kon Moyane se Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) kunsmatig die BTW-inkomste hoog hou.

Edward Kieswetter, nuwe kommissaris van die SAID, het die afgelope week aan die parlementêre komitee oor finansies gesê daar is selfs teikens gestel van die maksimum terugbetalings wat per maand gedoen kon word. Dié praktyk is eers in Oktober verlede jaar beëindig.

Die SAID haal nou in met die terugbetalings en het in die 2018-’19-boekjaar ’n bykomende R30 miljard se BTW-terugbetalings gemaak wat teruggehou is.

Hy sê wanneer ’n terugbetaling nou betaalbaar is, word dit uitbetaal ongeag of die maandelikse teiken oorskry word.

2. Sukkelende ekonomie

Tertius Troost, ’n belastingbestuurder by Mazars, sê BTW-insamelings is ook laer as verwag weens die sukkelende ekonomie. Maatskappye en verbruikers is onder druk en hoe minder geld hulle uitgee, hoe minder BTW is betaalbaar.

Nie eens die persentasiepuntverhoging in die BTW-koers kan genoeg vergoed vir die skadu wat oor die Suid-Afrikaanse ekonomie hang nie.

Toe die koers verlede jaar vir die eerste keer sedert 1994 verhoog is vanaf 14%, het die tesourie geraam dit sal ’n bykomende R23 miljard per jaar vir die staatskas beteken.

Die tesourie het onbetroubare, bedorwe syfers gebruik en dus vir ’n hele paar jaar onakkurate ramings gemaak.
Tertius Troost van Mazars

Maar die kumulatiewe effek van minder as verwagte maatskappybelasting, inkomstebelasting en BTW gaan waarskynlik dié ekstra inkomste wegvreet én ’n gat van R50 miljard los, voorspel Troost. Hy sê wel die ekstra BTW-terugbetalings wat die SAID nou doen, word minstens in die ekonomie teruggepomp en herstel vertroue in die SAID.

3. Onrealistiese ramings

Die BTW-vooruitskattings was waarskynlik onrealisties om mee te begin, sê Troost. Hy sê die kunsmatige BTW-terugbetalingsvertragings van Moyane het veroorsaak dat die tesourie met kunsmatige syfers gewerk het.

“Die tesourie het dus onbetroubare, bedorwe syfers gebruik en dus vir ’n hele paar jaar onakkurate ramings gemaak. Dít het bykomende druk op die SAID geplaas om die begrote inkomste te probeer insamel.”

Edward Kieswetter, nuwe kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Foto: William Horne

Kieswetter het LP’s belowe dat hy doen wat hy kan om die belastinggaarder se sake te normaliseer. Hy het gesê sistemiese hindernisse wat keer dat BTW tydig uitbetaal word, moet reggestel word.

Om BTW-terugbetalings glad te laat verloop, het die SAID risikoparameters aangepas om herhalende oudits van ondernemings wat hul verpligtinge nakom, tot die minimum te beperk.

Dit het daartoe gelei dat gemiddeld 30% minder ouditsake geopen word, wat verder bydra tot die tydige uitbetaling van terugbetalings waarop ondernemings geregtig is.

Mandy sê die BTW-situasie by die SAID was so onhoudbaar dat sy kredietboek elke maand met sowat R1 miljard gegroei het.

“Die feit is, deur BTW terug te hou, het die SAID in vorige jare sy inkomste te hoog aangegee en die tesourie het onderbegroot vir die werklike bedrag BTW wat terugbetaal is. Hierdie eliminering van R22,9 miljard se bykomende BTW-inkomste waarvoor begroot is, is die koste daarvan om die probleem op te los.”

Meer oor:  Kyle Mandy  |  Mike Schüss­Ler  |  Btw  |  Belasting  |  Mtbr2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.