Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Cosatu sê begroting is ‘té pro-sake’

’n Enorme teleurstelling vir werkers en armes.

Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag in die parlement. Foto: Jaco Marais

Dis hoe die ANC se alliansievennoot Cosatu Donderdag Tito Mboweni, minister van finansies, se begrotingsrede beskryf het.

Soortgelyke kritiek het ook soos ’n goue draad geloop deur die reaksie van verskeie ander politieke, landbou- en burgerlike organisasies.

Dr. Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge, waarsku selfs van ’n dreigende belastingsopstand omdat die regering Suid-Afrikaners deur belastings wil dwing om vir die gevolge van korrupsie en sy onteieningsbeleid te betaal. Dít ondanks belastingverligting vir individue wat in die begroting aangekondig is.

Talle organisasies het Mboweni egter geloof vir sy aankondiging oor die finansiering van die Covid-19-inentingsprogram, sy planne om staatskuld teen 2025 onder beheer te kry en om die staatsdiens se opgeblase salarisrekening met miljarde rande te sny.

Ander het hom gekasty omdat hy “immorele” reddingsboeie aan “zombie-agtige” staatsentiteite soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), Eskom en die Landbank toegeken het. (Geen nuwe geld is aan SAL of Eskom toegewys nie; die Landbank het wel R7 miljard oor drie jaar gekry.)

“Die opstellers van die begroting glo nie dat ons ’n krisis in die land beleef nie. As hulle dit wel glo, gee hulle glad nie om nie,” het Sizwe Pamla, Cosatu-woordvoerder, gesê.

Cosatu meen Mboweni se begroting is nie een vir ’n land met 14 miljoen werkloses en waarin 15 miljoen mense sukkel om daagliks drie maaltye te eet nie.

“Dit is ’n pro-sake-begroting wat belastingaansporings (of liefdadigheidskenkings) aan die private sektor sonder enige voorwaardes gee.

“Dis ’n begroting wat jy verwag van mense wat geen prys betaal vir as hulle verkeerd is nie en wat weet dat hulle nie vir onderprestasie en mislukking aanspreeklik gehou sal word nie.”

Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, het saamgestem dat die begroting die lewenskoste van Suid-Afrikaners wat die moeilikste tye beleef, verder sal verhoog. “Dit is ’n begroting wat Suid-Afrikaners skop terwyl hulle plat is.”

Dis ’n verwysing na die klein styging in die toelaes.

Hy meen met ’n uitgebreide werkloosheidskoers van 42,6% sal werkloses, sowel as bejaardes en ander begunstigdes van maatskaplike toelaes “wonder wat hulle gedoen het om dít te verdien”.

Hill-Lewis meen ook die finansiering vir die inentingsprogram – R9 miljard oor twee jaar – is hopeloos onvoldoende. (Die tesourie het wel nog R9 miljard opsy gesit in noodfondse weens die onsekerheid oor wanneer en hoeveel geld benodig gaan word. Die begroting vir entstowwe is altesaam R19,3 miljard, ingesluit wat reeds vanjaar bestee is.)

Wouter Wessels, Die VF Plus se woordvoerder oor finansies, meen ekonomiese groei is die enigste manier om Suid-Afrika se sinkende ekonomiese skip te red, maar dat die ANC-regering eerder broodnodige geld op onnodighede soos die pleknaamsveranderinge van onder meer Port Elizabeth vermors, wat uitgawes van miljoene rande teweegbring en ’n voorbeeld van verkeerde prioriteite is.

Wessels meen dié geld kon eerder aangewend word vir prioriteitsprojekte soos infrastruktuur-ontwikkeling om die ekonomie te stimuleer.

Brett Herron, sekretaris-generaal van Good, het gesê die begroting sal Suid-Afrikaners én die ekonomiese herstelplan in die steek laat as die finansiering vir die Covid-19-inentingsdoelwitte onvoldoende is.

Herman Mashaba, president van ActionSA, sê hoewel Mboweni die “verskriklike menslike en ekonomiese lyding weens Covid-19” erken, gaan sy begroting “die lyding van Suid-Afrikaners vererger”.

Intussen het Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, gesê dat die regering “nou regtig die bodem van die spreekwoordelike fiskale vaatjie skraap”.

“Terwyl ons die behoefte verstaan vir maatskaplike ingryping tydens die pandemie, moet alles egter gedoen word om die ekonomie vry te stel, beleidsbeperking uit te wis en om die botsende ideologiese uitsprake te beëindig.”

Van der Rheede en Henry Geldenhuys, president van TLU SA, nóg ’n landbou-organisasie, was ook eens dat die 8%-verhogings in aksyns op drank en tabak die volhoubaarheid van dié sektore ernstig in gevaar stel en dit moeiliker vir landbouers maak om winsgewend te wees.

Geldenhuys meen verder die begroting het “niks gedoen om landbou opgewonde te maak nie”.

Dr. Eugene Brink, AfriForum se strategiese raadgewer vir gemeenskapsake, meen dit het eerder weer eens bewys “dat die regering nie oor die vermoë beskik om Suid-Afrika doeltreffend te regeer nie”.

Brink het bygevoeg dat ekonomiese groei nie met onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening en beurtkrag kan gebeur nie, terwyl “die verhoging van kragtariewe, sowel as sekere belastings en die brandstofheffing, eenvoudig immoreel is”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.