Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Cyril swaai ‘vir eers’ nog die septer – kenners

Die aankondiging deur Tito Mboweni, minister van finansies, dat die regering die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) én die Wêreldbank (WB) om lenings van miljarde rande genader het, wys dat pres. Cyril Ramaphosa en sy ondersteuners steeds in die ANC die hef in die hand het. Vir eers.

Pres. Cyril Ramaphosa gaan politieke teenstand kry weens lenings vir die Covid-19-krisis.

Dít omdat sy politieke opponente in die regerende party dit later as ’n politieke speelbal gaan gebruik om sy ANC-presidentskap aan te val, meen politieke kenners.

IMF- en WB-lenings is ’n baie omstrede kwessie in die ANC-alliansie nadat die alliansie-sekretariaat onder leiding van Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, in April vanjaar voorstelle dat Suid-Afrika lenings by dié twee internasionale instellings aangaan, verwerp het “omdat dit die land se soewereiniteit in gedrang kan bring”.

Magashule word as Ramaphosa se grootste opponent in die ANC beskou. Hy was ’n stoere ondersteuner van oudpres. Jacob Zuma en sy faksie.

Mboweni het Woensdag op die nuuskonferensie ná sy begrotingsrede gesê die regering is tans met die IMF, die WB en die Afrika-ontwikkelingsbank in onderhandelinge oor die voorwaardes vir lenings. ’n Lening van $1 miljard van die Nuwe Ontwikkelingsbank (Brics-bank) is verlede week goedgekeur.

Volgens Mboweni wil Suid-Afrika sowat $4,2 miljard by die IMF leen. “Ek dink ons het ’n punt met die IMF bereik waar ons mekaar gevind het.

“Daar is geen manier waarop ek sonder die steun van die ANC-leierskap met daardie hoëvlak-gesprekke met die IMF kon voortgaan nie. Die waarheid is dat die ANC ons standpunt oor lenings by dié instellings steun.”

Oor die ANC-alliansie se vrese oor IMF- en WB-lenings, het Mboweni bygevoeg dat “niks gedoen sal word wat die nasionale soewereiniteit sal ondermyn nie”.

“Ek kan nie dink dat mense kan dink dat ons so roekeloos is dat ons enigiets sal doen om die nasionale soewereiniteit te ondermyn nie. Ons sal nie so iets doen nie.”

Hy het dit egter duidelik gestel dat die IMF en WB net soos enige ander geldleners voorwaardes sal hê om te verseker dat Suid-Afrika sy lenings kan terugbetaal.

Daardie besluit gaan egter terugkom om Ramaphosa te byt omdat sy opponente dit as ’n politieke speelbal en aanvalshoek teen hom kan gebruik omdat hy na ‘wit monopolie of internasionale kapitaal’ om hulp gegaan het.
Dr. Nontsikelelo Breakfast van die Nelson Mandela-Universiteit

Intussen het dr. Nontsikelelo Breakfast, politieke ontleder aan die Nelson Mandela-Universiteit, Woensdag gesê Mboweni se aankondigings oor die IMF- en WB-lenings wys dat Ramaphosa en sy ondersteuners “vir eers” nog die oorhand in die ANC het.

“Daardie besluit gaan egter terugkom om Ramaphosa te byt omdat sy opponente dit as ’n politieke speelbal en aanvalshoek teen hom kan gebruik omdat hy na ‘wit monopolie of internasionale kapitaal’ om hulp gegaan het.”

Breakfast meen egter dat Ramaphosa en sy administrasie weens die land se swak ekonomiese situasie én die Covid-19-pandemie geen ander keuse gehad het as om dié instellings om finansiële hulp te nader nie.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, stem saam dat die Ramaphosa-administrasie die IMF en WB om “praktiese, harde werklikhede” in plaas van ideologiese redes genader het.

“Sy opponente is gekant teen die IMF en WB omdat hulle streng voorwaardes het as hulle geld leen aan lande wat rommelstatus het.

“Dit gaan beslis teen Ramaphosa gebruik word. Die lang messe is vir hom uit aangesien die binnegevegte in die ANC steeds voortduur. Hy gaan nie ongeskonde anderkant uitkom nie. Die IMF- en WB-lenings druis te diep teen die ANC-ideologie as ’n voormalige bevrydingsorganisasie in,” meen Duvenhage.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Wêreldbank  |  Begrotingsrede  |  Inperking  |  Covid-19  |  Tito Mboweni  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Imf  |  Brics-Bank  |  Vlak 3  |  Noodbegroting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.