Hoër belasting om te betaal vir die land se entstof-program sal ’n “klap in die gesig” wees vir “hardwerkende” Suid-Afrikaners, sê die DA.

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie, sê hoër belasting is dalk Suid-Afrikaners se voorland sodat die regering kan betaal vir die land se entstowwe teen Covid-19. Foto: Getty Images
“Die voorstel is gevoelloos en toon ’n buitengewone dikvelligheid vir die finansiële lyding van soveel gesinne op die oomblik,” sê Geordin Hill-Lewis, DA-LP, in ’n verklaring.
Dit het Maandag bekend geword dat die tesourie oorweeg om belasting te verhoog om te betaal vir die nasionale entstof-program om landsburgers vanjaar in te ent teen die koronavirus wat Covid-19 veroorsaak.
LEES OOK: Tesourie oorweeg hoër taks om entstof te betaal
In dié stadium sal Suid-Afrika nege miljoen dosisse van Johnson & Johnson se entstof kry, 1,5 miljoen van die AstraZeneca-entstof, 12 miljoen deur Covax en 12,25 miljoen van die African Vaccine Acquisition Task Team.
Die koste van ’n omvattende ontplooiing van entstowwe word geraam op net meer as R15 miljard.
“Hierdie bedrag sou vir die regering maklik bekostigbaar wees as hy verkwistende programme herprioritiseer en verkwistende reddingsboeie kanselleer.
“Die erkenning dat belastingverhogings nou in ag geneem moet word, is ’n erkenning dat die regering verlede jaar geen vooruitbeplanning vir die ontplooiing van entstowwe gedoen het nie,” sê Hill-Lewis.
Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie, het gesê hoër belasting is een van vele opsies wat oorweeg word om te betaal vir die entstof-program, want die staat sal met of sonder die private sektor die entstowwe bekom.
Hill-Lewis sê dis absurd dat die regering hoër belasting oorweeg terwyl hy geld vind om die sukkelende Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) met ’n reddingsboei van R10,5 miljard te help.
“Die DA vind geen genot daarin om vir die direkteur-generaal die voor die hand liggende uit te wys nie: die nasionale tesourie, en die uitvoerende gesag in die algemeen, het lankal die vertroue van die publiek verloor en sal dit beslis nie herwin deur belasting te verhoog nie.”
Die DA sê Suid-Afrikaners is reeds oorbelas en dat daar “bitter min” is om te wys vir hierdie las.
Die Internasionale Monetêre Fonds beskou Suid-Afrika as die agtste mees belaste bevolking uit 115 lande.
Statistieke Suid-Afrika (SSA) sê op sy beurt dat die las op inkomstebelastingbetalers sonder ophou toeneem en nou met lande in Skandinawië vergelyk.
In 2017 was Suid-Afrika se verhouding van belasting tot die bruto binnelandse produk (BBP) 25,9%.
“Vir ’n land met ’n hoë verhouding, maar waar belastingbetalers goeie waarde vir geld ontvang, is ’n hoë belastinglas moontlik nie nadelig nie. Denemarke, Swede en Finland het hoë belasting-tot-BBP-verhoudings, maar hierdie lande het ook die hoogste lewenstandaard,” sê die SSA.
“In die konteks van ’n ongekende ekonomiese krisis is die voorstel van die tesourie oor belastingverhogings nie net moreel onverdedigbaar nie, maar ook ’n slegte ekonomiese beleid,” sê Hill-Lewis.
“Dis nie die hardwerkende publiek se skuld dat die regering toegelaat het dat die fiskale probleme van Suid-Afrika buite beheer is nie. In plaas daarvan om burgers nog verder te straf, sal die beste vir die tesourie wees om die nodige geld te vind vir voldoende verkryging van entstowwe deur herprioritisering van geld ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, wat begin met die kansellasie van die SAL-reddingsboei.”