Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
DA se wenslysie vir Tito: Dank 20 ministers af

Die mag om Suid-Afrika se fiskale en ekonomiese lot om te keer, lê in die hande van elke kieser op 8 Mei, sê Alf Lees, DA-LP en die amptelike opposisieparty se woordvoerder oor finansies.

Tito Mboweni, minister van finansies, in Oktober, toe hy sy eerste mediumtermyn-begrotingsrede gelewer het. Woensdag dien hy die eerste staatsbegroting in waaraan hy van die eerste dag af gewerk het. Foto: Adrian de Kock

Hy het Dinsdag sy wenslysie vir Tito Mboweni, minister van finansies, se begrotingsrede uiteengesit en dit ingespan as deel van die DA se verkiesingsveldtog.

Lees sê dis onafwendbaar dat Suid-Afrikaners gaan opdok vir die afgelope tien jaar se wanbestuur deur die ANC, maar Mboweni kan die pyn versag deur ook besnoeiing deur die regering aan te kondig.

Mboweni lewer sy begrotingsrede Woensdag vanaf 14:00 in die parlement.

Lees sê Mboweni moet “kragdadige besluite” neem om die land se geldsake op koers te hou, “maar het waarskynlik eenvoudig nie die steun van die kabinet en die mislukkende en versplinterde ANC, of inderdaad fiskale ruimte, om te beweeg nie”.

Die DA reken Eskom is “die grootste finansiële krisis” sedert 1994.

“Dié keer is die krisis nie veroorsaak deur die apartheidsregime nie, maar deur ’n demokraties verkose ANC-regering wat pres. Cyril Ramaphosa insluit.”

Op die DA se wenslysie is:

  • ’n Plan om ekonomiese groei tot minstens 3% te laat versnel.
  • Die aankondiging van wie die nuwe kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is.
  • Besnoeiing van die staat se uitgawes, om te verseker dat die bestedingsplafon nie verbreek word nie.
  • ’n Plan om skuld tot onder 52,1% van die bruto binnelandse produk te hou.
  • Planne vir die sogenaamde “zombie-staatsondernemings”, soos die DA na onder meer Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens verwys.

Lees sê daar is ’n al hoe langer wordende lys langtermyn- fiskale risiko’s. Dit sluit die R206 miljard se eise teen die Padongelukkefonds in, asook die onsekerheid oor hoe Nasionale Gesondheidsversekering en gratis hoër onderrig gefinansier gaan word.

“Wat die sukses of mislukking van die minister se eerste hoofbegroting sal bepaal, sal uiteindelik daarvan afhang of hy hoop kan gee aan die 9,7 miljoen mense wat nie werk het nie of wat reeds opgehou het om werk te soek.”

Lees sê dis onwaarskynlik dat Mboweni die “beleidskok” sal daarstel wat nodig is om ’n grondliggende versnelling in ekonomiese groei en werkskepping te skep.

“Daar sal geen manier wees om werk te skep of armoede te verminder tensy daar erken word dat bestaande beleid misluk het, nie werk nie en nie sal werk nie. Daar moet ’n nuwe ingesteldheid wees wat ekonomiese groei en werkskepping op die voorgrond van alle beleidsformulering skuif.”

Lees sê as Eskom vou, vou die ekonomie van die land en daarom kan dit nie toegelaat word nie – selfs al is die probleme teweeggebring deur diefstal, korrupsie, wanadministrasie en “ongelooflik onsinnige ANC-beleid”.

Die DA wil die kabinet met 20 ministeries verklein, wat R670 miljoen in die volgende boekjaar kan spaar.

Die regering kan ook vinnig geld maak deur niekernbates te verkoop. Hy kan byvoorbeeld R14,9 miljard verdien deur Telkom-aandele te verkoop en R14,5 miljard deur die Gripen-vegvliegtuie te verkoop.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Alf Lees  |  Begroting 2019  |  Staatskuld  |  Staatsbesteding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.