Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Dawie Roodt: ANC sál Tito se planne ontspoor
Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, praat Woensdag by die Vryemarkstigting in Johannesburg. Foto: William Horne

Vir Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group, is dit doodeenvoudig: Solank die staat aanhou buitensporig geld leen teen ’n “rampspoedige” koers, sal belasting móét styg – dis net ’n kwessie van tyd.

Roodt waarsku dat Suid-Afrikaners huiwerig moet wees met hul feesvieringe oor die aankondiging in die begrotingsrede dat persoonlike inkomstebelasting nie gaan styg nie, en dat daar inderwaarheid “belastingverligting” vanjaar ter sprake is.

Hy het Woensdagaand by die Vryemarkstigting in Johannesburg sy ontleding gegee van wat hy ’n “aaklige” begrotingsrede in ’n “aaklige” tyd noem.

Roodt sê Tito Mboweni, minister van finansies, se verrassing Woensdag dat belasting nie gaan styg nie, sal deur twee faktore gekniehalter word; die ANC sal nie toelaat dat staatsbesteding dan dienooreenkomstig besnoei word nie, en staatskuld gaan aanhou groei.

“Almal is baie bly dat daar vanjaar nie hoër belasting is nie, maar staatsbesteding neem steeds toe,” sê Roodt.

Mboweni se plan om die staatskas te ondersteun is dus veral gemik op kostebesparings deurdat hy die staat se salarisrekening met sowat R160 miljard wil sny, maar selfs al ís dit moontlik, wat Roodt betwyfel, gaan staatsbesteding steeds op ’n jaargrondslag aanhou toeneem.

“Die begrotingstekort is 6,8% van die bruto binnelandse produk (BBP). Dit is baie groot, mense.

“As jy nie nou hoër belasting betaal nie, maar die staat hou aan meer en meer bestee en leen, gaan jy doodeenvoudig in die toekoms hoër belasting moet betaal.

“Die blikkie is net in die pad af geskop,” sê Roodt.

Hy sê egter geen van Mboweni se broodnodige kostebesparings sal in werklikheid deurgevoer kan word nie, en dit sal verder die tydlyn versnel na hoër belasting vir die “twee miljoen mense wat die oorhoofse meerderheid van persoonlike inkomstebelasting betaal”.

“Die ANC is nie meer ’n ideologiese organisasie nie, dit is bloot ’n organisasie wat bestaan om van die staat af te leef. Dus sál hy in sy eie belang optree en Mboweni se besnoeiings blokkeer, want dit is juis dié geld waarvan die ANC leef.”

Die ANC is nie meer ’n ideologiese organisasie nie, dit is bloot ’n organisasie wat bestaan om van die staat af te leef.
Dawie Roodt

Weens hierdie modus operandi van die ANC het die “hele ekonomie nou totaal verslaaf en afhanklik geraak van staatsgeld”.

Dié krane kan dus nie toegemaak word nie, en dis die belastingbetaler wat die prys van hierdie rampspoedige verslawing sal betaal.

Roodt hoop pres. Cyril Ramaphosa “kry ’n ruggraat” en ondersteun vir Mboweni wat manalleen staan, maar hy is nie optimisties daaroor nie.

Dit beteken die staatskas gaan aanhou kwyn en die tyd raak op.

“Staatskuld is besig om heeltemal handuit te ruk,” sê Roodt.

Daarbenewens gaan die staat waarskynlik sy belastingteiken nog verder mis as wat Mboweni verwag. Waar die staat verwag hy sowat R64 miljard te min gaan invorder wanneer die 2019-’20-boekjaar op 31 Maart tot ’n einde kom, reken Roodt dit gaan waarskynlik meer in die omgewing van R80 miljard wees.

“Ons gáán deur Moody’s afgegradeer word.”

Meer oor:  Dawie Roodt  |  Sondebelasting  |  Belasting  |  Begrotingsrede  |  Begroting2020  |  Taks  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.