Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Dawie Roodt wantrou aankondiging oor pensioene

Die beoogde wysigings aan regulasies onder die Pensioenfondswet wat aftreefondse gaan toelaat om meer in infrastruktuur te belê, is verwelkom, veral omdat daar afgesien is van voorgeskrewe bates.

Tanya van Lill, uitvoerende hoof van Savca.

Tito Mboweni, minister van finansies, het in sy begrotingsrede verwys na die konsepwysigings aan regulasie 28 van die Pensioenfondswet wat vandeesweek vir openbare kommentaar uitgereik is.

Hy sê die wysigings wat voorgestel is, beoog om dit makliker te maak vir aftreefondse om hul belegging in infrastruktuur te verhoog.

Mfana Mnisi, ’n beleggingsfondskenner van Sanlam Savings, sê daar was baie kommer die afgelope maande oor voorgeskrewe bates.

Voorgeskrewe bates verwys na ’n vereiste van die regering dat ’n sekere persentasie van aftreefondse se geld belê word in spesifieke bates soos staatsondernemings en staatslenings om ekonomiese groei te ondersteun en die hoë werkloosheidsyfer in die land te verlaag.

Chantal Marx, beleggingsnavorsingshoof van FNB Wealth and Investments, sê die beleggings in infrastruktuurprojekte gaan opsioneel wees en nie verpligtend wees soos wat deur sommiges gevrees is nie.

Ek is baie, baie bekommerd dat dit uiteindelik ’n tipe voorgeskrewe ding kan wees vir pensioenfondse, want wanneer die regering uiteindelik sonder geld is, is die enigste pot goud wat oorbly pensioenfondse.
Dawie Roodt

“Dit is belangrik dat daar geen sprake is van fondse wat gedwing word om te belê nie. Sommige het so ’n stap gevrees. Die benadering dui eerder op ’n verbintenis om openbare-private vennootskappe aan te moedig as ’n manier om ekonomiese groei te bevorder.”

Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient-groep, sê egter hy is “ongemaklik” oor die aankondiging oor die wysigings van regulasie 28. “Ek is baie, baie bekommerd dat dit uiteindelik ’n tipe voorgeskrewe ding kan wees vir pensioenfondse, want wanneer die regering uiteindelik sonder geld is, is die enigste pot goud wat oorbly pensioenfondse.”

John Endres van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) sê die regering het afgesien van die idee van voorgeskrewe bates onder intense druk van die IRR en ander partye in die burgerlike samelewing.

“Maar dit kan ’n terugkeer maak, onder dieselfde naam of in ’n ander gedaante.”

Hy raai beleggers en spaarders aan om maar ’n oog te hou op dié kwessie van “voorgeskrewe bates wat op die tafel en dan weer af van die tafel is”.

Die IRR beskryf voorgeskrewe bates as ’n plan van die regering om pensioenfondse te gebruik om gapings in die nasionale begroting en onwinsgewende staatsondernemings toe te stop. Ingevolge die plan moet die instellings wat pensioenfondse en soortgelyke spaargeld bestuur ’n sekere persentasie bates belê in projekte wat deur die staat gespesifiseer word, soos Eskom en SAL, volgens hom.

Prabashini Moodley, besturende direkteur van Old Mutual Corporate, sê meer blootstelling aan “goed bestuurde infrastruktuurprojekte kan lei tot beter resultate vir geld wat vir aftrede gespaar word”.

“Tesame met aandele bied infrastruktuur lede van aftreefondse behoorlike diversifikasie, veral in die konteks van die relatief klein plaaslike aandelemarkte,” sê Moodley. “Infrastruktuur as ’n bate is minder wisselvallig as aandele en het nie ’n korrelasie met tradisionele bates soos eiendom nie.”

Boonop lewer dit op langer termyn opbrengste wat inflasie klop as dit goed gestruktureer en reg bestuur word.

Groter blootstelling aan infrastruktuur kan vir die land en beleggers voordele bring.

“Belegging in infrastruktuur kan ’n katalisator wees om die ekonomie te stimuleer,” sê sy.

Matthew Parks, Cosatu se verteenwoordiger in die parlement, verwelkom ook die voorgestelde wysigings aan regulasie 28.

Die Vereniging vir Waagkapitaal en Private Ekwiteit (Savca) verwelkom ook die aankondiging dat die voorgestelde wysigings later vandeesweek gepubliseer word.

Tanya van Lill, uitvoerende hoof van Savca, sê hulle het hard vir veranderinge aan regulasie 28 gewerk sedert Junie verlede jaar as ’n manier om die land se ekonomiese herstel te ondersteun.

Regulasie 28 plaas beperkinge op hoeveel aftreefondsgeld in sekere bateklasse mag belê.

Sy sê die wysigings kan aftreefondse groter diversifikasie bied wat voordelig vir hulle sal wees.

Mnisi sê die veranderinge wat op 1 Maart in werking tree ten opsigte van aftreegeld in voorsorgfondse, het niks daarmee te make nie. Die wetsontwerp op belastingwette tree begin Maart in werking. Die wetgewing beheer die aftreefondsbedryf en is daarop gemik om Suid-Afrikaners te help om genoeg vir aftrede te spaar.

Ná dié datum sal Suid-Afrikaners wat in ’n voorsorgfonds spaar, nie meer al hul aftreegeld met aftrede as ’n enkelbedrag kan neem nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.