Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Die Laffer-kurwe: Waarom jy moet weet wat dit is

Suid-Afrika is dalk nou oor die spits van die Laffer-kurwe.

Tertius Troost, belastingbestuurder by Mazars.

Dit beteken enige verdere verhoging in belasting sal eerder toenemend lei tot minder belastinginkomste wat ingesamel word pleks van meer.

Dit is die mening van Tertius Troost, belastingbestuurder van die ouditgroep Mazars, ná Woensdag se mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR).

Troost verwys na ’n opmerking van Tito Mboweni, minister van finansies, dat vanjaar die eerste keer is sedert die finansiële krisis van 2008 dat die groei in belastinginkomste nie meer is as die ekonomiese groei nie.

“Hoewel dit grootliks toegeskryf kan word aan die groot tekort in BTW-insamelings, kan dit ’n mens ook laat bespiegel dat die land nou die spits van die Laffer-kurwe verbygesteek het,” sê Troost.

Maar wat vir ’n ding is dié Laffer-kurwe waarvan hy praat?

Die Laffer-kurwe bewys glo dat te hoë belastingkoerse inkomste uit belasting laat daal.

Dit verwys na ’n teorie deur die Amerikaanse ekonoom Arthur Laffer om die verband te verduidelik tussen belastingkoerse en hoeveel belasting ’n regering invorder. Laffer se argument was dat hoe meer iets belas word, hoe minder daarvan gelewer gaan word, wat impliseer dat die regering die een of ander tyd al hoe minder inkomste uit belasting gaan verdien as hy die belastingkoers te hoog laat styg.

Volgens Investopedia het Laffer sy teorie in 1974 op ’n papierservet aan senior personeel van pres. Gerald Ford verduidelik.

Die meeste ekonome het in daardie stadium gemeen Amerika moet meer bestee om die vraag na produkte te stimuleer. Maar Laffer het aangevoer die probleem is nie te min vraag nie, maar eerder die swaar las van belastings en regulasies wat ’n remskoen op produksie is en dus ’n uitwerking het op belastinginkomste.

Die ekonomiese beleid in pres. Ronald Reagan se tyd het swaar op Laffer se teorie gesteun. Belasting is kwaai gesny en belastinginkomste het gestyg van $517 miljard in 1980 tot $909 miljard in 1988.

Maar kritici meen die Laffer-kurwe is te simplisties – asof daar net een belastingkoers en een bron van arbeid is, terwyl die strukture van staatsfinansies veel ingewikkelder is.

Hulle wys ook wat onder pres. Bill Clinton gebeur het, wat die Laffer-kurwe eintlik op sy kop keer, want Clinton het belasting verhoog en nogtans het belegging in staatsinkomste in sy termyn gegroei.

Mike Teuchert, belastinghoof by Mazars, meen een van die grootste skokke uit die MTBR is die tekort van R20 miljard in BTW-insameling. Dié tekort is nie aan die begin van die boekjaar voorsien nie.

Boonop is die tekort van R20 miljard rofweg gelyk aan die ekstra inkomste danksy die verhoging van BTW tot 15%. Teuchert glo die impak van die tekort aan BTW-insameling sou dus veel meer vernietigend gewees het as die tesourie nie vanjaar die BTW-koers verhoog het nie.

Bernard Sacks, belastingvennoot by Mazars, waarsku daar is nou ’n moontlikheid dat Suid-Afrika een of ander vorm van belastingrevolusie kan sien. Dit kan óf wees in die vorm van al hoe meer belastingbetalers wat weier om in Gauteng die e-tolgeld te betaal, of bloot in die vorm van al hoe meer belastingbetalers wat die land verlaat.

Meer oor:  Mazars  |  Tito Mboweni  |  Btw  |  Belasting  |  Mtbr2018
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.