Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Dié mense meen fiskale afgrond dreig steeds

Groot kommer heers of Suid-Afrika wel sy skuldbrieke sal kan trap voordat die land oor ’n fiskale afgrond tuimel.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Die vakbonde Solidariteit en Uasa en die Sakeliga is onder die organisasies wat reken Suid-Afrika is op die punt van ’n ineenstorting nadat Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag in sy mediumtermynbegrotingsrede (MTBR) getoon het skuld gaan teen 2025 tot sowat 95,3% van die bruto binnelandse produk (BBP) styg voordat dit “stabiliseer”.

Solidariteit het fel kritiek gelewer op die minister wat, volgens die vakbond, meer soos ’n toorkunstenaar as ’n minister opgetree het.

“Die syfers en aannames is gewoon absurd. Die eenvoudige waarheid is dat ons vanjaar sowat R700 miljard meer as ons belastingopbrengs wil bestee en dat ons vir die volgende drie jaar telkens meer as R500 miljard bo opbrengs vir elke jaar wil bestee,” sê Morné Malan, ’n strategiese spesialis by Solidariteit.

LEES OOK: Staatskuld vanjaar R4 000 mjd. – en dis net die begin

“Wat die stabilisering van skuld betref, moet ons maar net glo dat dit teen 2026 magies gaan begin gebeur waar dit oor die afgelope dekade bykans jaarliks selfs bo pessimistiese verwagtinge verswak het.”

Die Sakeliga reken Mboweni se begroting stuur Suid-Afrika nie weg van ’n fiskale krisis nie.

“Suid-Afrika se werklike begrotingstekort sal vanjaar byna 400% wees van die projeksie daarvan in die 2017-’18-begroting, die laaste begroting gelewer deur Malusi Gigaba,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van die Sakeliga.

“Boonop verwag Mboweni dat die begrotingstekort dan, vir minstens drie verdere jare, tussen 200% en 300% van Gigaba se slegste projeksies sal bly.

“As ons toe bekommerd was, moet ons nou vier maal so bekommerd wees.”

Uasa sê die begroting het doodeenvoudig nie genoeg gedoen om Suid-Afrika van die komende ekonomiese ineenstorting te red nie.

“Die waarskuwingstekens is reeds hier. Die regering moet meer besparingsmaatreëls tref om staatskuld te verminder en te verseker dat ons in die toekoms ’n funksionele ekonomie het.

“Die hernude energie wat werkskepping betref, lyk belowend, maar ons moet wag en kyk, want daar was al baie sulke beloftes met min tot geen resultate nie.

“Met uitgebreide werkloosheid wat op 42% staan, is dié bloedbad in Suid-Afrika ’n voortdurende pandemie binne ’n pandemie wat begin het voordat die koronaviruspandemie aangebreek het.”

Solidariteit meen dat die minister se aannames op ’n naïewe en misplaaste vertroue in die doeltreffendheid en eerlikheid van sy eie party gegrond is.

Malan verduidelik: “Wanneer die minister van finansies aandui dat die enigste manier waarop ’n plan kan werk, is dat daar geen lekkasies en ongerymdhede is nie, dan weet jy dat daar geweldige moeilikheid is. Ons kan nie die geweldige en deurlopende korrupsie wat hierdie land beleef, sommer net wegwens nie.

“Insgelyks kan ons nie aanvaar dat dieselfde beleid van die afgelope tien jaar nou skielik gaan begin werk nie.”

Meer oor:  Solidariteit  |  Sakeliga  |  Uasa  |  Staatsamptenare  |  Mtbr  |  Staatsdiens  |  Staatskuld  |  Staatsondernemings  |  Mtbr2020  |  Begroting  |  Tesourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.