Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Die skuldiges? Staatsdiens, Zuma en monetêre beleid

Anders as met Februarie se begrotingsrede, is die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober deur ’n verswakking van die rand en ’n styging in langtermyn-rentekoerse gevolg.

Sommige mediaberigte het met sensasionele opskrifte die vals indruk probeer skep dat Suid-Afrika se ekonomie nou oor die muur is, wat uiteraard twak is.

Ten einde ’n gebalanseerde en objektiewe mening oor die stand van die ekonomie en staatsfinansies te vorm, is dit nodig om drie belangrike aspekte van nader te beskou.

Kernaanwysers

Eerstens die stand van 'n aantal kernaanwysers wat rigtinggewend is vir die toekomstige omvang van die regering se uitgawes en inkomstes. Hier is dit belangrik om te let op die mooi herstel van die dividend-opbrengskoerse van genoteerde maatskappye, veral in die sektore vir hulpbronne en finansiële dienste.

Danksy aansienlike stygings in die pryse van goud, platinum en ystererts het die winsvooruitsigte van heelwat maatskappye in die onlangse maande verbeter, wat teen Februarie volgende jaar vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ’n goeie meevallertjie kan besorg.

Verder het kleinhandelverkope sedert die tweede kwartaal van vanjaar weer na ’n groeitrajek van sowat 2,5% beweeg (in reële terme). Die waarde van die vervaardigingswese se uitset het ook in die eerste ses maande van die jaar mooi herstel en daarmee ’n daalfase beëindig wat vier jaar geduur het.

Die merkwaardige herstel van vaste investering in nuwe produksievermoë is die grootste uitblinker in die indrukwekkende versameling van sogenaamde groen lote wat in die tweede kwartaal van vanjaar verskyn het.

mtbr2019
In ’n vorige weergawe van die berig was die sleutel van die grafika omgerul. Dis staatsdienssalarrisse wat die vinnigste gestyg het.

Kapitaalmarkte se reaksie

Die tweede aspek waarna gekyk moet word, is die omvang van die druk op die staatsfinansies en die kapitaalmarkte se vroeë reaksie daarop. Volgens wisselkoerse wat deur Oanda gepubliseer word, was die rand aan die einde van Oktober meer as 3% sterker as aan die begin van die maand en meer as 6% sterker as aan die begin van 2016.

Suid-Afrika se geldeenheid is nou wel wisselvallig, maar word die afgelope jaar meesal deur internasionale politieke woelinge, soos die handelsoorlog tussen die VSA en China, beïnvloed.

Dit is belangrik om daarop te let dat die rand elke keer ná 'n tydelike verswakking herstel – ’n neiging wat sedert die aanloop tot die ANC se leierskapstryd aan die einde van 2017 ingetree het.

Dié neiging sal voortduur solank as wat Suid-Afrika se staatseffekte die status van beleggersgraad by Moody’s geniet.

Wat die kapitaalmarkkoers betref, is dit insiggewend dat die styging van die opbrengskoers op tien-jaar-staatseffekte tot 8,68% op 31 Oktober steeds sowat 60 basispunte laer is as ’n jaar gelede.

Daar is dus hoegenaamd geen sprake van ’n finansiële krisis in Suid-Afrika nie, al lê daar heelwat werk voor om die begrotingstekort te verlaag.

Wie se skuld is dit?

Derdens is dit ook raadsaam om van die hoofoorsake te identifiseer wat veroorsaak het dat die nasionale tesourie tans in ’n ongemaklike posisie verkeer.

Drie van die hoofredes waarom die Suid-Afrikaanse ekonomie nie behoorlik in rat wil kom nie, is eerstens die voortslepende nagevolge van die rampspoedige bewind van oudpres. Jacob Zuma en die trawante wat hy oral in die openbare sektor aangestel het. Dit gaan nog lank neem om die skade van staatskaping en grootskaalse korrupsie te herstel, maar die proses het darem begin.

Ten tweede het daar in 2017 ’n kentering plaasgevind in die verhouding van die staatsdiens se salarisse en dié van die private sektor, wat ook vierkantig voor die deur van die hopelose Zuma-kabinet gelê kan word en waarvoor die land vandag ’n duur prys betaal.

Laastens het die monetêrebeleidskomitee van die Reserwebank se obsessie met baie lae inflasie sedert Gill Marcus se aftrede tot 'n verhoging van 100% in die koste van kapitaal en krediet gelei, wat ’n nekslag aan vaste investering en verbruikersbesteding toegedien het.

Die maklikste en sinvolste manier om op kort termyn die ekonomie aan die gang te kry, is om rentekoerse te verlaag tot vlakke wat min of meer in ooreenstemming is met dié van Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote.

Intussen word daar heelwat planne beraam om ekonomiese groei deur middel van groter samewerking tussen die regering en die private sektor aan te wakker.

  • Dr. Roelof Botha is die ekonomiese raadgewer van die Optimum-groep en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
Meer oor:  Tito Mboweni  |  Roelof Botha  |  Jacob Zuma  |  Mtbr2019  |  Rentekoers  |  Ekonomiese Groei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.