Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Dís hoekom staat nie meer taks kort vir entstof

Sprake daarvan dat die regering dalk belasting kan verhoog om te kan betaal vir die land se entstof-program is “sinneloos”, aangesien daar al baie meer belasting in 2020 ingevorder is as wat in Oktober beraam is.

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Getty Images

“Dit lyk vir my asof daar R30 miljard tot R40 miljard ekstra in die fiskus is,” sê Johann Els, hoofekonoom van Old Mutual, aan Netwerk24.

Els het die tesourie se jongste data verwerk wat neerkom op die feit dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) eintlik drasties meer belasting ingevorder het tot en met November as wat in Oktober se mediumtermynbegroting verwag is.

Tito Mboweni, minister van finansies, het in sy mediumtermynbegrotingsrede gesê die tesourie verwag dat hy byvoorbeeld 13,9% minder inkomstebelasting gaan invorder in die 2020-boekjaar as ’n jaar gelede.

Hierdie enorme tekort het nie verdwyn nie, maar luidens die tesourie se eie data is die tekort noemenswaardig kleiner as wat verwag is teen November.

Els het vir die boekjaar, wat op 1 April begin, die werklike tekort bereken tot en met November – die jongste beskikbare data oor belasting.

So lyk die werklike tekorte teenoor wat beraam is in Oktober:

  • Persoonlike inkomstebelasting: -13,9% (Oktober) – -10,5% (November)
  • Maatskappybelasting: -24,5% – -24,7%
  • BTW: -17% – -6,3%
  • Doeanebelasting: -27,3% – -20,3%
  • Brandstofheffing: -14,7% – -8,6%

Indien dié neiging voortgesit word tot en met einde Maart – die einde van die fiskale jaar – sal die regering eintlik R64,1 miljard meer invorder teenoor Oktober se beraming.

“Maar kom ons wees konserwatief,” sê Els.

“Kom ons sê hulle vorder net R30 miljard tot R40 miljard meer in.

“Dan is daar steeds géén rede om te praat van meer belasting nie.”

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie, het vroeër die week gesê die tesourie oorweeg hoër belasting om te betaal vir die sowat R15 miljard wat nodig is vir die land se entstof-program.

Salaristrekkers en maatskappye sal egter nog tot Februarie moet wag om te hoor hoe die regering beoog om meer belasting uit hulle te tap. Die regering wou alreeds voor Mogajane se uitlatings R5 miljard meer in 2021 invorder uit nuwe belastings of aanpassings aan bestaande belastings – maar daar is nêrens enige skimp oor wat dit gaan behels nie.

Verskeie ontleders reken nou al vir ’n paar jaar dat ’n welvaartbelasting Suid-Afrika se voorland is, maar hoeveel dit kan beloop terwyl die top-belastingkerf reeds 45% is, is nogal iets om oor wakker te lê as jy ’n stewige inkomste het.

Els reken dat die ekstra R5 miljard se belasting verhaal sal word hoofsaaklik uit ’n aanpassing aan aksynsbelasting en dalk die brandstofheffing.

Maar om die ekonomie verder te kniehalter deur meer belasting te hef is ’n slegte idee, meen Els, en een waarvan selfs die tesourie bewus is.

Hy meen daar kan dalk aanpassings gedoen word aan die hoogste belastingkerwe om die ekstra geld te verhaal, maar die beste idee is dalk ’n tydelike belasting.

“In 1994 en 1995 was daar ’n tydelike oorgangsbelasting om die oorgang na demokrasie te befonds,” sê Els.

“Dis eintlik nou die ideale tyd om weer so ’n tydelike belasting te hef.”

Maar dit sal waarskynlik die rykstes wees wat dié las dra.

Els meen egter dat buiten die ekstra R5 miljard is daar absoluut geen rede vir die regering om oor verdere belasting te praat nie.

“Dit maak my kwaad,” sê hy.

Meer oor:  Old Mutual  |  Entstof-Program  |  Staat Van Inperking  |  Inenting  |  Entstof  |  Koroanavirus  |  Belasting  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.