Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Drankbedryf bitter oor 8%-styging in aksyns

Die aksynsverhoging wat deur die nasionale tesourie ingestel is, sal heelwat wynmaatskappye die finale nekslag toedien en die ekonomiese herstel van die wynbedryf verder kniehalter, meen die wynbedryf.

Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag in die parlement. Foto: Jaco Marais

Tito Mboweni, minister van finansies, het Woensdag in sy begrotingsrede ’n aksynsverhoging van 8% vir wyn, vonkelwyn en brandewyn aangekondig.

Dit volg ná ’n jaar waarin die drankbedryf drie keer verkope moes staak toe ’n verbod daarop ingestel is.

Dit was ook ’n jaar wat anti-alkohol-drukgroepe baie luider as gewoonlik te velde getrek het teen drankmisbruik.

Dit klink asof Mboweni meer na hulle geluister het as na die drankbedryf se klagtes oor sy geldsake en werkverliese wat kan kom.

Mboweni sê in sy begrotingstoespraak: “Dit is duidelik dat oormatige alkoholgebruik negatiewe maatskaplike en gesondheidsgevolge het. Verbruikers reageer wel op prysstygings en hoër pryse moet lei tot ’n laer verbruik van drank.”

Aksyns
  • Bier, sider en alkoholiese vrugtedrankies: Styg met 14c per 340 ml-blikkie tot nagenoeg R1,96 per blikkie.
  • Wyn: Styg met 26c per 750 ml-bottel, wat dit op nagenoeg R3,56 te staan bring.
  • Vonkelwyn: Styg met 86c per 750 ml-bottel, wat dit op nagenoeg R11,63 te staan bring.
  • Spiritualieë soos whisky, brandewyn, rum en wodka: Styg met R5,50 per 750 ml-bottel, wat dit op nagenoeg R74,34 te staan bring.
  • Sigarette: Styg met R1,39 per pakkie van 20, wat dit op R18,79 te staan bring.
  • Stokkies vir verhitte tabakprodukte: R14,09 per 20 stokkies

Die tesourie sê in die begrotingsoorsig die doel van aksynsbelasting op drank is om die “skadelike eksterne koste verbonde aan buitensporige verbruik te weerspieël en om belastinginkomste te verhoog”.

“Dit volg op ’n verhoging van 16% in lone en 15% in elektrisiteit wat op plaasvlak geabsorbeer moet word, sê Rico Basson, bestuurshoof van die wynbedryfsliggaam Vinpro.

“Ons is uiters teleurgesteld dat die regering weer eens nie gehoor gegee het aan die pleidooi van ons bedryf nie.

“Vinpro en ander bedryfsorganisasies het in gesprekke met die tesourie oor die afgelope paar maande die benarde posisie van die wynbedryf benadruk en versoek dat aksynsbelasting met nie meer as 50% van die verbruikersprysindeks verhoog word nie. In stede daarvan is die verhoging 3,8% bó inflasie.

“In die lig van die ernstige finansiële posisie waarin ons bedryf is, het ons nou stabiliteit, beleidsekerheid en finansiële verligting en ondersteuning nodig. Die hoër as verwagte aksynsverhoging doen afbreuk hieraan en kan heelwat besighede wat reeds op hul knieë is, ’n finale nekslag toedien, wat sal bydra tot die reeds groot aantal werkverliese, én sal die uitdagings in hierdie gemeenskappe vererger.”

Basson sê die werklikheid is dat die aksynsverhogings nie noodwendig die verbruiker se sak raak nie, maar afgewentel word na die wynboer.

Voor die loon-, elektrisiteit- en pas aangekondigde aksynsverhoging het die regering R10,04 uit aksynsbelasting en BTW verdien van ’n gemiddelde bottel wyn wat teen R45 verkoop word, teenoor die wynboer wat ’n netto boerdery-inkomste van 77c per bottel verdien.

In die begrotingsoorsig word getoon die uitwerking van die belastingvoorstel op alkohol sal ’n bykomende R1,1 miljard se belastinginkomste vir die staat wees, en R700 miljoen op tabak.

Die begroting sluit ’n bo-inflasie-verandering in persoonlike inkomstebelastingkerwe in, wat positief is omdat dit verligting gee aan belastingbetalers.

“Die verwagte verlies aan inkomste gaan teengewerk word met die verhoging in aksyns op tabak en alkohol,” sê die nasionale tesourie.

Die tesourie sê die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) erken die maatstaf van aksynsbelasting as die mees kostedoeltreffende beleidsbenadering om drankmisbruik te verminder en die gesondheid van die bevolking te verbeter.

Kurt Moore, hoof van die Vereniging van Drankhandelsname (Salba), sê die verhoging in aksyns wek groot kommer.

Hy sê ná die drie keer wat die drankverbod ingestel is en waartydens R36 miljard se verkope verloor is, is daar geen gebeurlikheidsplanne vir die belastingverhoging nie. “Dit gaan verdere drastiese optrede verg om koste te besnoei. Ons gaan tienduisende poste in die sektor sien wat nie onderhou sal kan word nie.”

Moore sê die bedryf het bereken ’n verhoging van onder inflasie sou ’n vinniger herstel tot volumes van voor die Covid-19-pandemie gelei het, en dus ook die bydrae tot belasting.

Die bedryf glo die onwettige drankmark waar daar nie belasting betaal word nie gaan voordeel trek omdat verbruikers wat nie drank kan bekostig nie weens die aksynsverhogings wat tot prysverhogings kan lei, hulle tot dié mark gaan wend.

k
Meer oor:  Aksyns  |  Begroting2021  |  Sondebelasting  |  Begrotingsrede  |  Begroting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.