Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Ek stoei met dooie skaap, sê Tito oor Floyd

Dis verkeerd om te sê daar was nog nie gesprekke met die staatsdiensvakbonde oor die beoogde besnoeiing van die staat se salarisrekening nie, het Tito Mboweni, minister van finansies, Donderdag gesê.

Floyd Shivambu, EFF-adjunkpresident. Foto: Jabu Kumalo

Daar was al verskeie wydverspreide gesprekke hieroor met al die vakbonde, die SAKP, by Nedlac, en met die minister van staatsdiens en administrasie, het hy aan ’n gesamentlike vergadering van die parlement se finanskomitees gesê.

Mboweni sê hy is juis op pad na die lughawe ná dié vergadering om Vrydagoggend in Johannesburg te wees vir ’n Nedlac-vergadering daaroor.

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie, het gesê die hersien van prestasiebonusse in die staatsdiens maak nie deel uit van die beoogde besnoeiing van R160,2 miljard oor drie jaar aan die staat se salarisrekening nie.

Hy het ook verduidelik dit is nie dat salarisse gesny gaan word nie, maar die idee is dat salarisverhogings van gelyk aan die inflasiekoers toegestaan sal word, in plaas van die inflasiekoers plus nog twee tot drie persentasiepunte soos tans.

Dooie skaap

Oor kritiek van Floyd Shivambu, onderleier van die EFF, op die begroting, het Mboweni gesê dit is soos ’n Britse politikus wat op ’n keer gesê het ’n debat met ’n sekere teenstander is soos om met ’n dooie skaap te stoei.

Dit is nadat Shivambu gesê het Mboweni se begroting is ’n besuinigingsbegroting wat niks doen aan die krisis in die land nie.

“Dis soos om aan ’n hartchirurg te verduidelik hoe om te opereer,” het Mboweni gesê.

Padongelukkefonds

Daar is R9,2 miljard se onbetaalde eise op die Padongelukkefonds se boeke wat ’n verhoging van 50c per liter in die Padongelukkefondsheffing sou vereis as die eise in een jaar uitbetaal sou moes word, het ’n amptenaar van die nasionale tesourie gesê in antwoord op vrae van parlementslede.

Shaik Emam van die NFP het egter ook gevra hoekom die fonds nie geprivatiseer word nie.

Belastingmisbruik

Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, het gesê belastingbetalers skuld die SAID sowat R171 miljard se onbetaalde belastings.

Sedert 2014 het die SAID sowat 4 000 werknemers verloor, waarvan die helfte sterk boekhouvaardighede gehad het. Dit het sy vermoë geraak om van dié agterstallige belastings in te vorder.

In 2017 alleen het R93 miljard landuit gevloei weens multinasionale maatskappye wat hul plaaslike winste uit die land neem, tot verlies van die SAID.

Die stelsel vir belasting op toegevoegde waarde (BTW) word ook grootliks misbruik. Daar is maatskappye wat bloot bestaan om BTW terug te eis, het Kieswetter verduidelik.

Meer as R600 miljoen se onwettige BTW-eise is reeds vanjaar gekeer danksy nuwe optrede om dié misbruik vas te vat.

Kieswetter het verwys na die onlangse vonnis van twee Kaapse sakelui weens BTW-bedrog.

Hoekom geld vir die SAL?

Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, het Mboweni daarop gewys die bedrag wat aan die staat se salarisrekening gesnoei moet word, dieselfde is as wat die afgelope tien jaar as reddingsboeie aan staatsondernemings gegee is.

Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Foto: Elvira Wood

Hill-Lewis het gevra waarom Mboweni ingestem het om R16,4 miljard aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te gee terwyl hy die afgelope jaar of wat groot lawaai gemaak het daaroor dat daar nie meer geld aan die SAL gegee moet word nie, en dat dit eerder reggemaak moet word om te verkoop.

’n Tesourie-amptenaar het verduidelik die geld vir die SAL is om die lenings terug te betaal wat die regering waarborg, asook rente, want die SAL kan dit nie self terugbetaal nie.

Die R16,4 miljard is benewens die herstruktureringskoste vir die lugdiens, wat nog bereken moet word deur die sakereddingspraktisyns.

Parlement ‘doen nie sy werk’

Yunus Carrim, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies se gekose komitee oor finansies, het met Mboweni geraas oor die trae optrede om die onwettige uitvloei van geld via maatskappye stop te sit ondanks jare se klagtes daaroor.

Carrim het egter ook gewaarsku dit is nie net die uitvoerende gesag wat slaplê nie.

“Ons as parlement is te mak en rustig om ons toesigrol ordentlik te vervul. Dis die parlement se verantwoordelikheid en ons misluk om ons werk te doen.”

Metrorail

Oor geld wat weggevat word van Prasa het Hill-Lewis gesê Gauteng en die Wes-Kaap het al herhaaldelik gevra om die bedryf van Metrorail af te wentel na die provinsies, want Prasa het gewys hy kan dit nie doeltreffend bestuur nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.