Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Ekonome vra: Gaan Tito se plan werk?

Die begroting vir 2020 van Tito Mboweni, minister van finansies, fokus daarop om die regte ding op kort termyn te doen, maar gaan dit die ekonomie op lang termyn red?

Dit is een van die vrae wat ekonome vra nadat Mboweni Woensdag sy begrotingsrede in die parlement gelewer het.

Barry Knoetze, ’n direkteur van PwC, sê dit was ’n aangename verrassing dat die minister ’n aanpassing van 5,2% in persoonlike inkomstebelastingkerwe aangekondig het.

LEES OOK: So bring Tito verligting met belasting

Hy sê dit sal veral verligting bring vir verbruikers, wat reeds hul sente moet omdraai.

Bernard Sacks, belastingvennoot by Mazars, sê hulle verwelkom die minister se besluit om die koers waarteen belasting op toegevoegde waarde (BTW) gehef word, onveranderd te laat.

LEES OOK: Tito verras met BTW wat dieselfde bly

PwC waarsku egter dat die besluit om nié BTW te verhoog nie én om belastingverligting vir individue te bring, net ’n korttermynoplossing is wat langtermyngevolge gaan hê.

Tito Mboweni lewer die begrotingstoespraak Woensdag in die parlement. Foto: Jaco Marais

“Om die huishoudelike belastinglas vandag te verlig, gaan tot gevolg hê dat die regering môre méér geld sal moet leen, wat gaan beteken dat die belastingbetaler in die toekoms deur ’n groter skuldlas in die gesig gestaar word,” waarsku die maatskappy.

“Deur nie besteding verder te besnoei (as wat aangekondig is) nie en belastingkoerse nie te verhoog nie, het die nasionale tesourie die begrotingstekort baie wyd gehou.”

Prof. Jannie Rossouw, tussentydse hoof van die Wits-sakeskool, sê in ’n onderhoud met Netwerk24 hy is ’n “bietjie oorbluf” deur die aankondiging wat persoonlike inkomstebelasting betref.

“Ek wonder of ons nie maar blokkruiping moes aanvaar nie. ’n Begrotingstekort van 6,8% van BBP is régtig hoog,” maan hy ook.

LEES OOK: Staatskuld snel voort na 71% van BBP

Rossouw sê sy algehele indruk van die begroting is dat dit beslis nie ’n besuinigingsbegroting is nie.

“Dit is ’n begroting wat ten doel het om die ekonomie te stimuleer. Die sukses daarvan gaan baie afhang van die staat se vermoë om staatsdienssalarisse soos belowe in bedwang te bring.”

Rossouw sê hy dink die minister reken daarop dat werkers se aptyt om te staak baie minder is as waarop die vakbondleiers soms sinspeel.

“Ek sê al lankal, die Suid-Afrikaanse middelklas is nét een salaristjek van bankrotskap af. Staatsamptenare is middelklas en ek dink nie hulle gaan bereid wees om weke lank te staak nie.”

Hy sê Mboweni gaan sonder twyfel die steun van die ANC nodig hê as hy die gewenste uitwerking van dié begroting op die land se ekonomie wil hê.

Twee ontleders van Investec Batebestuur, Nazmeera Moola, hoof van plaaslike beleggings, en Sisamkele Kobus, ontleder, wonder of Mboweni ’n wyse besluit geneem het met sy begroting.

Hulle verwelkom sy besluit om belastingverligting vir individue aan te kondig, maar wonder of hy dit wel sal regkry om die staat se salarisrekening te besnoei.

“Daar is ongelukkig nog geen ooreenkoms met vakbonde hieroor nie. Dis ten beste ’n onderhandelingstaktiek.”

Hulle stem saam met Rossouw dat Mboweni die volle steun van die ANC sal móét hê as hy dié plan wil deurvoer. 

Reza Hendricks, portefeuljebestuurder by PPS Investments, sê hoewel Mboweni se plan as “ambisieus” beskryf kan word, wys dit wel dat daar ’n duidelike fokus is om die staat se salarisrekening onder beheer te bring.

Meer oor:  Ekonomie  |  Btw  |  Belasting  |  Begrotingsrede  |  Begroting2020  |  Taks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.